Om soos God te wees

OM SOOS GOD TE WEES
Die Burger, 04 April 1987

Die oer-versoeking van die mens is om soos God te wil wees. Ons lees in Genesis 3:4 dat die slang Eva verlei het om teen God in opstand te kom deur aan haar te sê dat sy en Adam beslis nie sou sterwe as hulle van die verbode vrug sou eet nie, maar dat hulle inteendeel daardeur ’n onberekenbare voordeel sou behaal: hul oë sou oopgaan en hulle sou soos God wees deurdat hulle alles sou kan ken.

Aan die wortel van al ons opstand teen God lê die trots en hovaardigheid van ons hart, ons weiering om ons plek as skepsels in nederigheid voor God in te neem, ons selfverheffing en waan dat ons eintlik self goddelik is. Dit is geen wonder nie dat die ateïstiese godsdiens-­kritiek van Feuerbach en Marx uit die negentiende eeu uitgaan van die goddelikheid van die mens en beklemtoon dat alles om hom gaan, dat hy die hoogste wese is en dat die woorde “julle sal soos God wees” eintlik die evangelie is wat die mens op sy hoë waardigheid wys.

Tog is die idee dat die mens soos God moet wees nie sonder meer verkeerd nie. Wanneer dit nie daarin gaan om die mens se vyandskap en haat teen God nie, maar daarop sien dat juis die mens wat aan God onderworpe en gehoorsaam is, die beeld van God moet vertoon, is dit ’n wesenlike deel van die boodskap van die Bybel. Dan slaan die woorde “om soos God te wees” op die verandering van ’n mens se lewe om aan God gelykvormig te word deur Hom na te volg in sy doen en late, sy aard en gesindheid.

In hierdie sin dring die Nuwe Testament daarop aan dat die gelowiges soos God moet word deur sy voorbeeld te volg (Efesiërs 5:1). In Matteus 5:48 lees ons: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is”. Terwyl die kern van alle sonde is dat die mens soos God wil wees deur homself teenoor God en in die plek van God te stel, is dit die kern van alle heiligmaking dat die mens homself voor God verloën en begeer om soos God te wees in liefde en barmhartigheid, goedheid en reinheid.

Trouens, die doel van Gods heilsplan is dat die kinders van God aan Christus gelykvormig moet word – wat die Beeld van God is. God wil dat sy kinders soos Hy moet wees, na Hom moet lyk en soos Hy moet optree. Dit is selfs ’n toets vir die egtheid van hulle kindskap of hulle werklik soos God is en soos God maak.

Daarom is dit ondenkbaar dat die kerk liefdeloos en onvriendelik kan optree, terwyl God die God van liefde is. Dit is ondenkbaar dat die kerk ongeregtigheid kan sien, duld en goedpraat, as God tog die God van geregtigheid is. Dit is ondenkbaar dat die kerk onversoenlik kan wees, terwyl God die God van versoening is. In die mees letterlike sin van die woord moet die kerk soos God word deur te kies vir die liefde, nederigheid en selfontlediging waarvan die kruis getuig. – WDJ