GOEIE BUURSKAP
Die Burger, 10 April 1987
By geleentheid van die herdenking van die 140ste bestaansjaar van Die Kerkbode verskaf dit Die Burger genoeë om naas sy gelukwense aan redaksie en uitgewers, ook sy waardering te betuig vir hierdie oudste Afrikaanse weekblad en vir die rol wat dit nou vir byna ’n anderhalwe eeu lank vanuit die moederstad in ons gemeenskap vervul.
Die verhouding tussen Die Burger en Die Kerkbode was deurgaans besonder positief en is ’n voorbeeld van goeie buurskap. Dit vind sy grond daarin dat die twee blaaie, ondanks verskil in opset en doel, tog bepaalde basiese waardes gemeenskaplik het.
Die Kerkbode is ’n uitgesproke kerklike en godsdienstige weekblad, terwyl Die Burger ’n dagblad is met ’n verklaarde kulturele, maatskaplike en politieke doel. Hulle dien egter in groot mate dieselfde volks- en kultuurgemeenskap en soek elkeen op sy eie wyse die geestelike en maatskaplike welsyn van daardie gemeenskap.
Hoewel elkeen op sy eie terrein beweeg, staan hulle dus nie teenoor mekaar nie. Inteendeel, dit is vir Die Burger belangrik om dit spesifiek te boekstaaf dat die geestelike welsyn van diegene wat hy probeer dien, vir hom ’n saak van groot belang is. Dit word nie net bewys deur die feit dat Die Burger self ook weekliks ’n geestelike rubriek publiseer nie, maar ook uit die eerbied waarmee hy kerklike en godsdienstige sake hanteer. Dit is ook vir Die Burger belangrik dat die boodskap van die kerk en sy lyfblad duidelik in die samelewing gehoor moet word, en hy verheug hom daarin as dit helder en oortuigend oorgedra word.
Die Kerkbode het gedurende sy bestaan van meer as ’n eeu ’n belangrike kulturele bydrae gelewer. In baie huise was dit naas die Bybel vir tye lank feitlik die enigste leesstof. Dit het gevolglik ’n diens gelewer aan die taal en die algemene ontwikkeling van die Afrikaanssprekende deel van die bevolking. Tog was dit maar ’n newe-produk van wat die eintlike doel van Die Kerkbode was: die geestelike welsyn van die kerk en sy lidmate, sodat hulle as ingeligte Christene uit die waarheid kon leef wat hulle bely.
Juis dit is vir die samelewing onontbeerlik. Dit is immers onmoontlik om godsdiens, kultuur en politiek van mekaar te skei. Dit gaan in die politiek om sake van ’n morele aard, om die vraag wat reg en goed is. As politiek sou ontaard in diens aan die naakte eiebelang en sy morele basis sou verloor, sou dit afstuur op chaos en verval.
Veral in ’n land soos Suid-Afrika met sy delikate probleme is dit noodsaaklik dat die koers van die politiek bepaal moet word deur die oortuiging dat in die weg van waarheid en reg gewandel word. Die geestelike leiding en invloed wat in hierdie opsig van die kerk moet uitgaan, word ook in sy lyfblad weerspieël. In hierdie opsig is Die Kerkbode geroepe om ’n taak te verrig wat waardig sal wees aan die gereformeerde tradisie waarin dit staan, wat altyd gekenmerk is deur ’n sterk sosiale betrokkenheid.
Die Burger respekteer alle kerklike blaaie as draers van ’n noodsaaklike boodskap. Dit beteken nie dat daar nie ook krities na hulle gekyk word nie. As daar in die verlede momente van spanning tussen Die Burger en Die Kerkbode was, het dit saamgehang met die kritiese vraag van Die Burger of laasgenoemde helder genoeg was in sy profetiese boodskap.
Ook die joernalis het ’n kritiese en profetiese taak. Die kerk as instelling en sy blaaie het geen monopolie op die insig in wat moreel reg is of wat die politieke en maatskaplike konsekwensies daarvan is nie.
Kerklike blaaie verdien hulle aansien deur die wyse waarop hulle met geestelike gesag die Bybelse boodskap deurgee, en nie instrumente is van ideologieë en politieke belangegroepe nie. Die integriteit van die kerk en sy lyfblad is vir die gemeenskap van die opperste belang. Dit is ons wens dat Die Kerkbode ’n blywende voorbeeld daarvan sal wees!
WD Jonker