DIS NIE DIE EINDE NIE
Die Burger, 11 April 1987
Soms laat God toe dat verskriklike dinge met ons gebeur wat ons hele lewe ontwrig. As dit dinge is wat sonder ons toedoen en skuld oor ons kom, is dit reeds pynlik genoeg. Dit is egter veel erger as dit skande en skade is wat ons deel word vanweë iets immoreels wat ons gedoen het en wat in die openbaar aan die lig kom. Dan voel dit asof die bodem onder ons verkrummel en die einde van die pad vir ons gekom het.
Dit is dan van die grootste belang dat ons sal onthou dat dit nie die einde van die pad hoef te wees nie. Niks wat in hierdie lewe met ons gebeur, is so erg dat geen genesing en herstel meer moontlik is nie. Alles hang net af van hoe ons daarteenoor staan en dit hanteer.
Dit kan wees dat ons ’n groot skade ly of dat daar in ander opsigte dinge is wat onherstelbaar en onherroeplik is. Dit beteken egter nie dat daar nie weer ander moontlikhede vir ons kan oopgaan en dat ons miskien uiteindelik selfs veel meer kan ontvang as wat ons verloor het nie.
En wat die skande betref, moet ons onthou dat mense baie gou vergeet. Vir ’n tyd kan ons op almal se lippe wees en kan hulle ons skuins aankyk as ons op straat verskyn, maar dit waai ook weer oor. Môre is daar weer ander nuus in die koerant en oor ’n week of twee het ons al weer uit baie mense se bewussyn verdwyn.
Bowendien sal ons agterkom dat die meeste mense nie so hard oor ons morele oortredinge oordeel nie. Hulle weet maar alte goed dat ook hul voet so maklik kan gly, ja al dikwels gegly het. Tensy hulle dodelike huigelaars en fariseërs is, sal hulle versigtig wees om ons te beskou as onaantasbares wat soos melaatses uitgewerp moet word.
As ons dus na die situasie en die mense kyk, hoef dit nie die einde van die weg te wees nie. Die eintlike probleem lê nie daar nie. Die eintlike probleem lê by ons self. Want ons sal self nie so maklik vergeet nie. Ons sal wat gebeur het, nie so maklik uit ons geheue en ervaring kan verdring nie. Die skok en skande, skade en persoonlike vernedering wat ons beleef het, sal met ons meegaan. En dit kan ons vernietig.
Tensy ons dit op die regte wyse verwerk. Dit kan ons slegs doen as ons besef dat daar rede is om die hele saak met God deur te praat. As ons voor die aangesig van God gaan staan met ons skade en ons skande, sal ons weet dat Hy ons langs die weg van berou en bekering ’n nuwe geleentheid wil bied.
Die uur van ons neerlaag kan vir ons die poort tot ’n nuwe lewe word, mits ons met God en met onsself in die reine kan kom. Ons groot probleem is nie ander mense nie; dit is ons self en ons verhouding tot onsself en ons verlede. Ons kan nooit tot onsself in die regte verhouding kom as ons die saak nie met God regmaak nie. As Hy ons vergewe, kan ons opstaan en opnuut begin lewe. – WDJ