Die verlossing is totaal

DIE VERLOSSING IS TOTAAL
Die Burger, 25  April 1987

Waarom is dit vir die Christelike geloof so belangrik om vas te hou aan die liggaamlike opstanding van Jesus uit die graf? Kan ons dit nie maar op ’n geestelike wyse interpreteer om die besware van die wetenskaplike moderne mens tegemoet te kom nie.

Sal ons enigiets verloor as ons die verhaal van die opstanding interpreteer as ’n mitologiese inkleding van die geloof – dat Jesus se dood nie die einde was nie, omdat Hy, hoewel dood, tog by God lewe? Dit is hoe beroemde moderne teoloë dit voorstel, in die hoop dat hulle daarmee ’n groot deel van die aanstoot kan verwyder wat vir die moderne mens aan die idee van die liggaamlike opstanding van Jesus kleef.

Wie so redeneer, moet egter besef dat hy daarmee volgens Paulus die evangelie in sy hart aantas. Dit is nie eers die moderne mens wat probleme ondervind het met die liggaamlike opstanding van Jesus nie. Wat dit betref, was die mense in Bybelse tye ook al merkwaardig modern. Die verhale oor die opstanding was vir hulle van huis uit net so ongeloofwaardig as vir mense van ons dag. Paulus moes al die hele hoofstuk 15 van sy eerste Brief aan die Korintiërs daaraan wy!

Die kern van wat Paulus daar sê, is dat die hele evangelie staan en val by die waarheid van die liggaamlike opstanding van Christus. Die rede daarvoor is dat die Bybel nie – soos die Grieke dit gedoen het – ’n skeiding maak tussen ’n mens se siel as die hoëre deel en die liggaam as die laere, selfs veragtelike deel van die mens nie. Volgens die heidense Griekse idees sou dit aanvaarbaar wees dat die mens se siel verlos word, sonder dat die liggaam daarin hoef te deel.

Maar volgens die Bybel is dit onmoontlik. God het die mens as ’n liggaamlike wese geskep. Liggaam en siel vorm in die mens ’n eenheid, ’n innige verbondenheid. Daarom kan in ’n sekere sin gesê word dat die mens sy liggaam is. Die mens is ’n besielde liggaam en ’n beliggaamde siel. Die siel kan nie sonder die liggaam verlos word nie, want dit sou op ’n halwe verlossing neerkom.

Die Bybel verkondig ’n totale verlossing wat ook die liggaamlikheid van die mens insluit. Ons liggame is ’n belangrike setel en instrument van die kwaad. Die straf op die sonde voltrek homself aan ons ook in ons liggaamlike bestaan. Verlossing kan dus nie net die vergiffenis van sonde insluit nie. Dit moet ook die bevryding en vernuwing van ons liggame omvat. Anders is ons nie werklik verlos nie.

Die mag van die sonde in ons bestaan is so groot, dat die verlossing van ons liggame alleen deur die dood heen kan geskied. Die opstanding van Christus is die radikale nuwe daad en wonder van God waarin dit gebeur.

Daarom is die liggaamlike opstanding van Christus deel van die hart van die evangelie. Ons verlossing staan en val daarmee, soos ook die belofte van die komende totale vernuwing van alle dinge. – WDJ