BESTEMMING GEWAARBORG
Die Burger, 30 Mei 1987
Die belydenis dat Christus na die hemel opgevaar het en daar aan die regterhand van God sit, beteken vir die Christen dat hy glo dat aan Christus alle mag in die hemel en op aarde gegee is en dat Hy oor alle dinge regeer.
As ’n mens dit werklik glo, behoort dit ’n diepe troos en rus in ons lewe te bring. Dit beteken dan ten minste dat ons glo dat daar ’n vaste hand aan die stuur van die wêreldskip is en dat die bestemming gewaarborg is.
As Christus werklik in beheer is van die gang van die geskiedenis en die verloop van sake, kan ons daarvan seker wees dat sy koninkryk besig is om te kom, en dat daar ’n moment sal aanbreek wanneer dit volmaak en in volle heerlikheid geopenbaar sal word. Die afloop van die wêreldgeskiedenis is nie onseker of in die weegskaal nie. Die uiteinde sal ’n volkome triomf vir God oor die mag van die duisternis, oor die duiwel, die sonde en die dood wees.
Dit kan ons help om met ander oë na die weerstand en teenstand teen Christus in die wêreld te kyk. Die verset teen Christus en teen God is nie kinderspel nie. Geweldige kragte is in die wêreld en in die geskiedenis aan die werk. As ons daarna kyk, lyk alles vir ons chaoties. Dit is vir ons onmoontlik om uit die gang van die wêreldgebeurtenisse af te lei dat Christus in beheer van sake is. Dit lyk eerder asof die teendeel waar is.
Daar gebeur so baie dinge wat lynreg ingaan teen wat ons graag sal wil sien gebeur. Die hoopvolle tekens wat ons in die geskiedenis opmerk, word dikwels direk weer geneutraliseer deur ander dinge wat ons teleurstel en verwar. Op die klein skaal van ons persoonlike lewe en op die breë vlak van die wêreldsituasie waarin ons verkeer, loop dinge dikwels vir ons gevoel heeltemal skeef. Dit is vir ons dikwels uiters moeilik om nie ’n somber en negatiewe kyk op die dinge daarop na te hou nie.
En tog is dit verkeerd om aan so ’n somber uitkyk op die wêreld en die lewe toe te gee. Die geloof in die heerskappy van Christus laat ons inderdaad met ander oë na die dinge kyk. Dit leer ons om deur die oppervlak heen te kyk na die verborge heerskappy van Christus oor alle dinge. Hy is inderdaad met die wêreld op weg na die einde toe, en in die proses is Hy in staat om ook die kwaad om te buig om die goeie te dien en ons lyding te maak tot die geboortepyne van ’n nuwe tyd.
Die geloof verlos ons van die spanning en krampagtigheid, asof ons daarvoor verantwoordelik is dat alles in die wêreld reg moet loop. Ons is wel geroepe om die goeie stryd te stry, maar die uitkoms daarvan hang uiteindelik nie van ons af nie. Ons kan Christus rustig daarmee vertrou om die wêreld te bring waar dit moet wees en om ook ons te laat deel in die vernuwing wat Hy berei het vir die wat Hom liefhet. – WDJ