SONDER GOD
Die Burger, 02 Mei 1987
Ons het langsamerhand so gewoond daaraan geraak dat ons dit byna nie meer merk nie. Tog dring dit soms met ’n skok tot ons deur hoe totaal ons lewe verwêreldlik het. En as ’n mens se oë eenmaal daarvoor geopen is, sien jy dit op talle terreine raak. Die groot wêreld leef asof God nie bestaan nie.
Die geleerde woord daarvoor is sekularisasie. Dit beteken letterlik “verwêreldliking”. Die Latynse woord saeculum waarvan dit afgelei is, beteken eintlik “eeu”, maar dit kry in die Christelike spraakgebruik die sin van “hierdie eeu”, hierdie tyd, die aardse bedeling, dit wat tot die wêreld behoort.
Sekularisasie is die verskynsel dat mense se lewens net deur hierdie aarde gestempel word, dat met God nie meer rekening gehou word nie, dat mense lewe asof God nie bestaan nie. Die sekularisasie het ’n kenmerk van die Westerse wêreld geword. Dit is ’n proses wat steeds dieper op ons lewens ingryp. Die sogenaamde Christelike Weste is besig om steeds meer ’n wêreld sonder God te word.
In die gewone sake van hul lewe dink die meeste mense nooit meer oor God nie. Hul ambisies en geldsake, hul liefdeslewe en ontspanning, hul politiek en verhouding tot ander mense het vir hulle besef niks met God te make nie. Geboorte en dood, werk en spel, voorspoed en teenspoed word alles binnewêrelds verstaan en beleef, klaarblyklik sonder enige behoefte om dieper te vra na die sin van die lewe en êrens miskien op die vrae na God, die hemel en die hel te stuit.
Dink maar aan die rolprente waarna ons mense daagliks op die TV of in die teaters kyk. God kom nie daarin voor nie, behalwe nog as ’n kragwoord. Die vreugde en die smart van die lewens met wie ons daarin kennis maak, speel af in ’n wêreld sonder God. Aan alles is dit ook duidelik dat daar nie meer morele reserwes is wat voortvloei uit die erkenning van God en sy Woord nie. Alles geskied op die plat vlak van ’n lewe sonder enige religieuse dimensie.
Maar ons en ons kinders drink dit in. Dit vind ook aanklank by ons, want dit is maar soos ons die lewe rondom ons ook ken en ervaar. By baie van ons is God reeds lankal verdring, of is daar aan die buitegrense van ons bestaan nog ’n spesiale ruimtetjie wat gelaat word vir Sondag en die kerk, sonder dat ons presies kan onderskei of dit maar net om kulturele redes daar is, en of dit vir ons ’n geloofsrealiteit is dat ons nie sonder God kan lewe nie.
Maar ons kan nie regtig sonder God lewe nie. Hoe somber, hoe arm, hoe pateties is ’n lewe sonder God! Dit is geen wonder dat uit ons Westerse wêreld ’n steeds pynliker roep opgaan na sin en geborgenheid nie. Ons beskawing stort ruggelings die afgrond in. Maar die antwoord op ons nood gaan aan ons verby. – WDJ