Dit genees

DIT GENEES
Die Burger, 09 Mei 1987

Min dinge is so skadelik vir ons geestelike lewe as om griewe teen ander mense in die hart rond te dra. Dit kan tot ’n siekte word wat ons geestelike, maar ook ons liggaamlike lewe tot in die wortel aantas.

Dikwels gaan dit om leed wat andere ons aangedoen het. Miskien het iemand ons verneder of gekrenk, bedrieg of benadeel. Hoe nader die persoon aan ons gestaan het en hoe belangriker die saak vir ons was waarom dit gegaan het, hoe dieper sny die pyn wat ons daardeur beleef het. Dikwels is dit juis die teleurstelling in die betrokke persoon wat ons die meeste grief en die letsel byna onuitwisbaar maak.

As ons hierdie soort grief bly troetel, soms oor jare been, kan dit soos ’n kankergewas in ons binneste vasgroei en alles besmet. Ons hele lewe word naderhand rondom hierdie stuk onopgeloste pyn geweef. Dit raak uiteindelik nie maar net ons verhouding tot die betrokke persoon nie (wat soms selfs onbewus kan wees van hoe diep hy of sy ons gekrenk het), maar ons totale instelling teenoor die lewe. Dit groei buite proporsie uit en vergiftig ons bestaan.

Daarom is dit noodsaaklik dat ons leer om betyds ons hart deur vergiffenis skoon te maak. Vergiffenis is nie net belangrik vir die een wat vergiffenis ontvang nie. Dit is ook verskriklik belangrik vir die een wat dit gee. Wie nie kan vergewe nie, kan nie vry word van die leed wat andere hom aangedoen het nie – kan nie uitkom onder die pyn van teleurstelling en die grief van vernedering nie en word siek van die gif van die wrok wat hy dra.

Die ergste is egter dat ’n mens wat nie kan vergewe nie, daarmee toon dat hy self nie uit die vergiffenis lewe nie. Hoe kan iemand wat weet dat hy elke dag van God vergiffenis moet ontvang, ooit konsekwent weier om aan ’n medemens vergiffenis te skenk? Aan die vraag of ons vergiffenis kan skenk, word die saak beslis of ons self bereid is om vergewe te word, en of ons so trots is dat ons dink dat ons niks het wat ons vergewe moet word nie.

Die Here Jesus het nie verniet gesê dat ons hemelse Vader ons nie ons sondes sal vergewe as ons nie bereid is om ander mense hulle sondes te vergewe nie (Matteus 6:15). Daarmee bedoel Hy nie dat ons vergiffenis aan andere die vergiffenis van God moet verdien nie. Nee, Hy bedoel dat ’n mens wat van God vergiffenis vra sonder die bereidheid om self andere se sonde te vergewe, dit nie werklik bedoel nie. Net wie bereid is om te vergewe, kan op die regte wyse om vergiffenis bid. Hierdie twee dinge gaan eenvoudig saam.

Daarom moet ons onsself nie verhard nie, maar bid om die vermoë om werklik van harte te vergewe, selfs waar dit om dinge gaan wat ons tot in die wortel van ons bestaan geraak het. Dit sal ons vry maak en genees. Dit sal ons hele lewe verander. Dit skep ’n nuwe begin. – WDJ