KRITIES GENOEG
Die Burger, 23 Mei 1987
Normale mense beskik oor ’n kritiese sin. Dit is noodsaaklik vir ons lewe. Daarsonder sou dit onmoontlik gewees het om te onderskei tussen goed en kwaad, waar en vals, mooi en lelik, nuttig en skadelik. Omdat die mens geskape is met ’n sin vir waardes, is die apparaat waarmee hy die waardes moet weeg en meet, onontbeerlik vir ’n menswaardige lewe.
Die Griekse woord “krinein”, waarvan ons woorde soos kritiek, krities en kritiseer afkomstig is, beteken om dinge van mekaar te skei, om te onderskei, en dus ook om te oordeel of te beoordeel. ’n Mens met ’n kritiese sin is dus iemand wat in staat is om te onderskei waarop dit aankom, om dinge volgens hul waarde te takseer, om goed en kwaad, waar en vals te kan identifiseer en om ’n keuse te doen vir wat reg en goed is.
Ongelukkig is dit waar dat, hoewel alle mense die gawe van onderskeiding meegekry het, dit by die meeste mense nie behoorlik funksioneer nie. Die rede daarvoor is nie soseer dat mense nie weet wat goed en kwaad of waardevol en waardeloos is nie. Al is ons sin vir waardes deur die sonde aangetas en daarom in baie opsigte gebrekkig, kan tog nie gesê word dat mense oor die algemeen sonder ’n besef van waardes is nie. Selfs die mees veragterde en vervalle mens het nog ’n sedelike besef en ’n sin vir wat reg en verkeerd is.
Die eintlike rede is natuurlik dat ons sondaars is en dat ons sin vir waardes funksioneer binne die invloedsfeer van ons selfsugtige en eiegeregtige hart. Dit het ’n groot invloed op ons kritiese sin. Ons kan nie objektief tussen die dinge onderskei nie. Ons is mateloos bevooroordeeld ten gunste van ons self. Ons oordeel word gevolglik bepaal deur die immer teenwoordige faktor van ons eiebelang. Wat ons bevoordeel, lyk altyd vir ons reg, en wat ons benadeel, lyk vir ons sleg.
Natuurlik sal ons op alle moontlike maniere probeer verduidelik hoe objektief ons onderskei tussen reg en verkeerd. En die ergste is dat ons daarby nie eens bewustelik oneerlik hoef te wees nie. Ons kritiese sin is so stomp wanneer dit om ons self gaan, dat ons nie eens agterkom dat ons eie motiewe verkeerd is nie.
Terwyl ’n mens hiper-krities na andere en hul standpunte kyk en haarfyn die swak plekke daarin aantoon, bly jy onkrities teenoor jouself en teenoor alles wat jou belang en voordeel dien. Daarom is ons meesters daarin om die splinter uit die oog van andere te haal, maar blind vir die balk in ons eie oog of in die van ons gesin, ons groep, ons party of ons kerk.
Dit is noodsaaklik om krities te wees, maar voordat ons leer om teenoor ons self krities te wees, is ons nog nie krities genoeg nie. Dit is ondenkbaar dat Christene so sonder selfkritiek kan wees as wat ons soms is. – WDJ