Die verlange na vernuwing

DIE VERLANGE NA VERNUWING
Die Burger, 6 Junie 1987

By talle Christene is daar ’n innige verlange na ’n diepgaande geestelike vernuwing. As daar een ding is waarvan hulle hartlik moeg is, is dit die lae kwaliteit en vreugdeloosheid van hul geestelike lewe. Hulle sou so graag anders wou wees, oorwinnend en vol blydskap, innerlik vry en in staat om hulself heeltemal tot beskikking van God te stel.

Wat hulle egter in hulself ervaar, is die verlamming en traagheid wat hulle magteloos maak om oorwinnend te kan lewe. Telkens belewe hulle weer die teleurstelling daarvan om by hulself ’n stuk hardheid van hart en onbekeerlikheid te ontdek, ’n stuk selfliefde en selfsug wat hulle tot droefheid stem. Dit is om van te wanhoop. Is dit dan nie die bedoeling dat kinders van God werklik vernuwe moet word tot ’n lewe van vryheid, blydskap en aansteeklike vreugde nie?

Dit is ongetwyfeld die bedoeling. Dit is waaroor dit onder andere in Pinkster gaan: dat die Heilige Gees met sy volheid en krag in ons lewe werksaam wil wees om ons te bevry en vrugbaar te maak in diens van die koninkryk van God. Dat ons dus daarna verlang, is nie net korrek nie. Dit is noodsaaklik. Dit is self reeds ’n vrug van die werking van die Gees in ons.

Die Gees wil ons lewe steeds voller in besit neem en ons van ons selfliefde en onvryheid verlos. Hy doen dit egter deur eers die behoefte daaraan in ons hart op te wek, sodat ons daarna kan verlang, daarom kan bid en bereid kan word om alles los te laat waaraan ons nog krampagtig vashou en onsself heeltemal aan die Gees kan toevertrou.

Ook op hierdie gebied is dit waar dat wie bid, sal ontvang, wie soek, sal vind, en dat vir wie klop, oopgemaak sal word. God sal niemand wat werklik opreg begeer om innerlik deur die Gees vrygemaak te word, die antwoord op sy gebed weier nie. Dit kan wees dat Hy ons gebed anders beantwoord as wat ons ons dit voorstel, of dat ons langer daarop moet wag as wat ons dink, maar Christus het belowe dat God die Heilige Gees sal gee (ook in sy volheid) aan die wat daarom bid (Lukas 11:13).

Terselfdertyd moet ons onthou dat die verlange na ’n steeds dieper bevryding deur die Gees, nooit in hierdie lewe volkome sal verdwyn nie. Vervulling met die Gees is nie iets eenmaligs wat agter ons kan lê nie. Dit bly steeds ook nog vóór ons, iets waarna ons blywend moet uitsien en waarvoor ons blywend moet bid. Daarom sal ook die sugte en verlange in hierdie lewe nie heeltemal uit ons lewe kan verdwyn nie (Romeine 8:23). Selfs die volheid van die Gees wat ons hier op aarde ontvang, is nog maar ’n eerste gawe.

Ook geestelik geld dit vir ons: die beste lê nog voor. Daar sal steeds weer nuwe dinge wees waarin ons sal ontdek dat ons nog nie is wat ons moet wees nie, totdat die laaste groot dag van die verheerliking kom. Eers dan sal elke behoefte volkome vervul wees. – WDJ