SELFS JESUS HET GEHUIL
Die Burger, 13 Junie 1987
Die koerant bring elke dag berigte van mense wie se lewe hopeloos vasgeloop het in situasies van uiterste ellende. ’n Mens hoef maar die verslae oor hofsake te lees om te sien met watter verhale van pyn en frustrasie, verwording en perversie die regters gekonfronteer word.
Dit moet moeilik wees om in hul stoel te sit en te oordeel oor die dade van mense wat klaarblyklik dikwels vasgevang is in situasies waarin skuld en lot op ’n onontwarbare wyse verstrengel is. Agter die gruweldade van die misdadiger lê ’n geskiedenis van skeefgroei wat hom of haar voorberei en ryp gemaak het vir die daad wat uiteindelik gepleeg is.
Dat die misdadiger vir sy daad verantwoordelik is, kan deur niemand betwyfel word nie, maar net so seker is dit dat sy daad die kulminasie is van ’n reeks gebeurtenisse en invloede wat op hom ingewerk en hom in die rigting help stuur het wat hy met sy persoonlike keuses beaam het. Wie kan die aandeel bepaal van die skuld wat ouers en vriende, onderwysers en predikante, ja ons hele samelewing aan die mislukking van ’n menslike lewe het?
Jesus het gesê dat dit onvermydelik is dat daar dinge kom wat mense laat struikel en sondig, maar dan voeg Hy daaraan toe: “Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is” (Lukas 17:1). Die bedoeling van Jesus is nie om die verantwoordelikheid van die een wat struikel daarmee te ontken nie, maar Hy vestig ons aandag op die aandeel wat ons aan mekaar se skuld het en die mede-verantwoordelikheid wat ons vir die misdade van ander kan hê.
Juis daarom kan ons nie van ander mense se misdade en ellende kennis neem sonder ’n diepe gevoel van jammerte vir hulle nie. Enersyds moet ons met deernis aan hulle dink, omdat ons self ook misdadig in ons harte is en in ons self al die moontlikhede dra wat in hul dade ’n gerypte vrug geword het. In ’n kollektiewe sin is ons ook medeskuldig aan die soort samelewing waarin sulke dinge kan gebeur. As dit nie was vir Gods genade nie, kon ons in hul skoene gestaan het. Maar andersyds moet ons ook met barmhartigheid aan hulle dink omdat ons hul heil begeer.
Selfs Jesus het gehuil oor Jerusalem, omdat daar alleen maar smart kan wees oor die verlorenheid van mense wat verblind en verstrik geraak het in die nette van die sonde en nie meer die dinge merk wat tot hul vrede dien nie (Lukas 19:41). By Hom was daar geen sprake daarvan dat hy aandadig was aan die ongehoorsaamheid van Israel nie, maar Hy het hul verlorenheid op Hom geneem en sy hande uitgestrek na mense wat Hom in hul verblinding sou kruisig.
Iets van sy smart moet ook in ons hart wees. Daarom moet ons nie alleen bereid wees om vir andere wat geval het, te bid nie, maar ook om alles in ons vermoë te doen om alle oorsake te verwyder wat by andere tot skeefgroei en struikeling kan lei. – WDJ