Dit is selfvernietigend

DIT IS SELFVERNIETIGEND
Die Burger, 20 Junie 1987

Dit is deel van ons natuurlike reaksie op pyn dat ons probeer om iets terug te doen aan ’n persoon wat ons leed aandoen. Dit is ’n impulsiewe vorm van wraak wat ons neem met die bedoeling om die betrokke persoon terug te betaal – dikwels sonder om onsself af te vra wat die nut of gevolge daarvan kan wees.

Dikwels kan hierdie soort optrede selfvernietigend wees. Dit geld veral wanneer ons wraak probeer neem op persone wat ons liefhet, omdat hulle ons op een of ander manier teleurstel en ons liefde krenk. ’n Mens kan hier dink aan situasies binne die huwelik of die gesin waarin mense so seergemaak kan word dat hulle byna blind word van pyn en die gevoel van verwerping. Dan kan hulle soms op ’n uiters onverantwoordelike wyse terugslaan en dinge doen wat vir hulself en vir die ander baie nadelig kan wees.

Dit is verstaanbaar dat ’n mens veral seerkry as jou liefde teleurgestel word, maar dit is verkeerd as ons in ons teleurstelling dinge doen wat onherroeplik is en ’n breuk tussen ons en ons dierbares slaan wat nie weer geheel kan word nie. Baie mense is oorhaastig met egskeiding of om hul kinders die huis te verbied of hulle te onterf, om nie eens te praat van diegene wat tot fisieke geweld teen hul dierbares of hulself oorgaan nie.

Dit is noodsaaklik om tyd te neem om tot onsself te kom en ons ewewig te herwin, voordat ons drastiese dinge doen waarvan ons die gevolge nie kan bereken nie. Dit is beter om liewer in stilte te ly en te bid dat God ’n wending in die situasie sal bring as om toe te gee aan die drang om radikaal op te tree. Dit kan net gebeur as ons deur die genade oorwinning oor ons emosies kan behaal.

Jesus leer ons om ons selfs teenoor ’n kwaadwillige mens nie te verset en kwaad met kwaad te vergeld nie. As iemand ons op die regterwang slaan, sê Hy, moet ons ook die ander wang na hom toe draai (Matteus 5:39). Hoeveel te meer moet ons bereid wees om dit te doen teenoor dierbares wat wel in bepaalde dinge kwaadwillig teenoor ons kan optree, maar tog diep-in aan ons verbonde is en waarskynlik vroeër of later sal besef dat hulle verkeerd teenoor ons opgetree het en na ons sal terugkeer.

As ons daarin kan slaag om lydsaamheid en geduld te beoefen, selfs in die aangesig van dinge wat ons geweldig grief, sal ons self daardeur sterker word, suiwerder en milder. Maar as ons toelaat dat ons siel verbitter word tot op die punt waar ons nie meer omgee wat ons doen nie, is dit vernietigend.

In ons eie krag is ons nie daartoe in staat nie, maar by God is alle dinge moontlik. Hy kan ons die krag gee om eers onsself te oorwin, en dan ook oor die situasie te triomfeer. – WDJ