Gesinslewe verg sorg

GESINSLEWE VERG SORG
Die Burger, 11 Julie 1987

Dit gaan nie na wens met die huweliks- en gesinslewe in ons land nie. Die feit dat vanjaar tot Gesinsjaar verklaar is, vestig die aandag op die gesinslewe as ’n aspek van ons samelewing waaroor kommer bestaan. Die bedoeling is om mense daarvan bewus te maak dat hier ’n terrein is wat bedreig word en daarom in ’n besondere sin op ons sorg aanspraak maak.

Die bedreiging van die gesinslewe hang saam met die aard van die moderne samelewing. Industrialisasie en verstedeliking het die karakter van die gesinslewe ingrypend verander. Die hegtheid van die vroeëre landelike gesinsverband het plek gemaak vir die individualisme van die moderne stadsgesin waarvan elke lid ’n eie lewe lei en dikwels ’n eie koers inslaan.

Die moderne lewenspatroon het ongetwyfeld baie voordele met hom meegebring. Ook in die land het die verskynsel van die welvaart­samelewing sy verskyning gemaak, en dit is veral die blanke deel van die bevolking wat die voorregte daarvan geniet. Ons en ons kinders het vandag voorregte en luukses waarvan ons vroeër nie eens sou gedroom het nie.

Die lewe het daardeur in meer as een opsig baie makliker en ryker as vroeër geword. Ons deel in geriewe wat vir ons lewenspeil in intellektuele en kulturele opsig bevorderlik is. Maar die prys wat daarvoor betaal word, is dikwels te hoog. Wat ons in die breedte van ons lewenskwaliteit gewen het, het ons weer in diepte verloor.

Een van die redes hiervoor is die opperste prioriteit wat materiële dinge vir ons besit. Ons hele lewe word daaraan gewy om ’n behoorlike inkomste te verseker. Dikwels werk albei ouers, en dit is nie net dat die kinders aan hul eie sorg oorgelaat word nie, maar ook die saamwees van die gesinslewe word daardeur bedreig. So verloor die gesinslewe die innigheid en rykdom wat dit vroeër die kweekplek van egte menslikheid gemaak het.

Gesinslede is minder saam, is minder op mekaar aangewese en minder afhanklik van mekaar. Die ouers het nie genoeg tyd om intiem genoeg met hul kinders saam te leef om egte menslike waardes aan hulle oor te dra nie. Die kinders kry hul godsdienstige opvoeding en lewenswaardes van andere, in die gunstigste geval op skool, maar miskien selfs by die media. Daar is geen tyd vir die dinge wat werklik saak maak nie. Ons is altyd te besig vir ons kinders en vir mekaar.

Die skade wat gesinne daardeur ly, is onberekenbaar. Ons verwaarloos die sement wat ons aan mekaar moet verbind. Ons gesels nooit meer lekker met mekaar, sing saam, bid saam, huil saam en lag saam nie.

Eintlik is ons roekeloos met ons kosbaarste besitting: die geborgenheid en saamwees van die gesin. As u dit nie wil verloor nie, moet u doelbewus iets doen om dit te kweek en te beskerm. – WDJ