IN OOTMOED VERDER
Die Burger, 25 Julie 1987
Die onrus binne die Ned Geref Kerk is uit die aard van die saak vir almal pynlik. Niemand kan hom daaroor verheug nie, behalwe diegene wat met ’n bepaalde afkeer teenoor die Afrikaanse kerke vervul is, omdat hulle hierdie kerke as ’n magtige politieke faktor in die land beskou en dus bly is as kok en kok se maat met mekaar stry kry. Sulke mense kyk egter nie na die kerk onder die gesigspunt van die kerk nie. Hulle kyk na die kerk deur ’n politieke bril en takseer alles volgens politieke oorwegings.
Vanuit die gesigspunt van die kerk het die Ned Geref Kerk alle rede om in hierdie pynlike situasie sy hand in eie boesem te steek en te erken dat hy self ook skuld daaraan het. In werklikheid betaal hy vandag vir sy eie traagheid van die verlede om teologies konsekwent vanuit die Bybel en sy eie belydenisskrifte riglyne te trek om die soort denke wat vandag probleme veroorsaak, by die wortel af te sny.
Die kerk kan met reg die beswaardes daarop wys dat hulle met teologiese argumente werk wat nie die toets van die Skrif en die belydenis van die kerk kan deurstaan nie. Hy kan hulle met reg daarop wys dat hulle, by alle oortuiging tot die teendeel, die intensie van Skrif en belydenis op bepaalde punte misken en blykbaar blind is vir die rol wat rassevooroordeel by hulle speel.
Die kerk kan dit egter nie anders as met ootmoed doen nie, omdat die standpunte wat die beswaardes inneem, in ooreenstemming is met standpunte wat in die verlede in die Ned Geref Kerk geduld is en gedeeltelik ook deur die kerk self voorgestaan is. Die kerk word tans met die rekening gepresenteer vir sy eie onwil van die verlede om vreesloos teen volksgevoel en kleurvooroordeel in te gaan en geen kompromieë te maak in sake wat die aanvaarding van en gemeenskap met mede-Christene raak nie. Die prys daarvoor is hoog, omdat dit hier inderdaad om dinge gaan wat vir die karakter van die kerk en die Christelike geloof fundamenteel is.
Gelukkig was die Ned Geref Kerk altyd meer as party van sy standpunte oor die betrokke kwessies. Verkeerde standpunte wat hy in die verlede ingeneem het, is versag deur sy totale geskiedenis, beeld en optrede. Wanneer hierdie faktore in ’n nuwe kerkformasie ontbreek – wat noodwendig die geval sal wees – sal die gevolge baie erger wees as wat dit binne die Ned Geref Kerk self was. Dit is ’n ontstellende gedagte.
Tog moet die Ned Geref Kerk juis nou met groter vasberadenheid voortgaan op die pad van reformasie van die kerk. Noudat hy deur Gods genade vry geword het van ’n pad wat uiteindelik op die vernietiging van sy getuienis in die wêreld sou uitgeloop het, moet hy die weg van die Christelike liefde, versoening en die aanvaarding van al Gods kinders met dankbare blydskap loop. God het hom nog ’n kans gegee. Sou hy dit nie gebruik nie? – WDJ