DIE BEDRIEGLIKE HART
Die Burger, 1 Augustus 1987
Die Bybel leer ons dat die hart van die mens bedriegliker is as enigiets anders, ongeneeslik en onverstaanbaar (Jeremia 17:9). Dit is ’n vreeslike oordeel, en dit is net begryplik dat ons meestal daarvan wegskram en ten minste in ons eie geval probeer volhou dat ons motiewe suiwer is en dat so ’n harde oordeel van ander mense kan geld, maar seker nie van ons nie.
Tog moet ons nie so seker daarvan wees dat hierdie woorde van die Bybel nie ook in ons geval letterlik waar is nie. Die bedrieglikheid van ons hart beteken onder meer dat hy onsself ook bedrieg en ’n rat voor ons eie oë draai. Hy gee ons die versekering dat ons motiewe suiwer is en help ons om hoë woorde en diepsinnige beginsels te vind wat dan sogenaamd die basis sou wees waarop ons bondings en standpunte rus. Maar in werklikheid kan die grond van al ons oorwegings tog maar ons eie selfsug wees. Ja, dit is selfs waar dat dit vir ander mense lankal duidelik is dat ons motiewe nie suiwer is nie, terwyl ons dit ten stelligste bly beweer en self ook glo. Ons hart kamoefleer ons verkeerdheid, liefdeloosheid en trots so goed dat ons self werklik glo dat niks minder nie as die Bybel ons gebied om te dink soos ons dink en te doen soos ons doen. En terwyl ander mense lankal kan sien dat dit byvoorbeeld naakte rassisme en afkeer van andere, of loutere eiebelang is wat ons motiveer, hou ons vol dat ons net aan die Skrif getrou wil bly.
Juis omdat die hart so bedrieglik is, gebruik hy graag die godsdiens, die Bybel of verhewe ideale om ons te mislei. Niemand wil tog oop en bloot slegte dinge doen nie. Almal wil graag onder die illusie verkeer dat hulle vir ’n edel ideaal, vir reg en geregtigheid veg. Ons bedrieglike hart kom hierdie behoefte van ons tegemoet deur ons in te beeld dat ons vir ’n goeie saak staan. Hy sal veral probeer om ons te verseker dat God aan ons kant is en dat die dinge wat ons doen, lynreg in ooreenstemming met die eise van die Bybel is.
Daarom moet juis godsdienstige mense – en teoloë – nie so seker daarvan wees dat godsdienstigheid hulle teen die bedrog van hul harte vrywaar nie. Ons insig in die boodskap van die Bybel kan so maklik skeefgetrek word deur verborge motiewe in ons eie harte, en as ons nie daarvan bewaar word nie, kan ons andere met ons meeneem op ’n weg wat hul eie begeertes tegemoet kom en ons standpunte vir hulle daarom aanvaarbaar maak, terwyl dit tog ’n heillose weg is.
Die een gebed wat ons daagliks moet bid, is dat God ons moet deurgrond en ken, en dat Hy aan ons ’n onvervalste insig sal gee in die diepste motiewe van ons eie hart, sodat ons innerlik gereinig en gesuiwer kan word deur die bloed en die Gees van Christus. – WDJ