EERS DAN VERSTAAN ONS
Die Burger, 8 Augustus 1987
Die kennis wat ons van God en sy wil vir ons lewe het, is nie ’n blote intellektuele kennis wat ’n mens kan opdoen deur maar net die Bybel te lees of miskien selfs boeke te bestudeer wat die Bybel verklaar nie. Dit is ’n lewenskennis wat wel ook ons intellek insluit, maar veel meer as ons intellek omvat.
’n Mens ken en verstaan die Bybel met jou hart en met jou hele persoon, of jy verstaan hom nie. Dit hang daarmee saam dat die soort kennis wat ons van God en sy Woord het, betrekking het op ons hele bestaan en bedoel is om ons bestaan te verander en so ’n wyse te stempel wat blote intellektuele kennisname ver te bowe gaan. ’n Mens verstaan nog glad nie die Bybel nie, selfs al sou jy die woorde daarvan uit die kop ken, as die Bybel nie beslag op jou lewe lê en jou lewe anders maak nie.
Ons sê nog ’n keer dieselfde as ons sê dat God deur sy Woord beslag wil lê op ons hart, wat die uitgange is van ons hele lewe. Ons hart is volgens die Bybelse taalgebruik die sentrum van ons hele lewe, die beheersentrum waarvandaan die seine en opdragte na alle uithoeke van ons bestaan gestuur word en waardeur alles in ons lewe beheer word. Wie beheer oor ons hart het, het beheer oor ons self. Ons verstaan die Bybel eers regtig as die Heilige Gees wat die Gees van die Bybel is, beheer oor ons hart het.
’n Mens ken God dus nie net met jou verstand nie, maar met jou hele wese, of jy ken Hom nie. Jy bely Hom nie net met jou tong nie, maar met jou hele bestaan, met jou grondhouding, jou lewensinstelling, jou gesindheid en jou dade. Die geloof waarmee ons aan God vashou, is ’n totale lewensveranderende mag wat ons hele lewe moet stempel, of dit is geen ware geloof nie (Jakobus 2:14–26).
Daarom is die manier waarop ons met die gewone dinge in die wêreld omgaan, beslissend. Christus sê dat die oordeel oor ons ewige wel en wee sal val rondom ’n beker koue water aan ’n dorstige of ’n besoek aan ’n gevangene (Matteus 25). Ons gebrek aan liefde, deernis en vereenselwiging met ander mense in hulle ellende en pyn, lyding en armoede is nie iets onskuldigs nie. Dit is nie om ’t ewe of ons geraak word deur alle vorme van onreg waarvan die wêreld so vol is nie. Wie in staat is om homself in ’n kokon van ongevoeligheid toe te spin en maar net die goeie van die aarde vir homself te besit en te geniet, ken nog nie die Here soos hy behoort nie en verstaan nog nie sy Woord nie.
’n Mens verstaan die Bybel werklik eers as jy begin doen wat die Bybel van jou vra. Christus het nie verniet daarteen gewaarsku dat ’n mens “Here, Here” sê, maar nie doen wat Hy beveel nie (Mattteus 7:21–27). Die ontnugtering van baie in die oordeelsdag sal wees dat hulle dan weggestuur word, omdat hulle wel Christus se Naam op hul lippe gehad het, maar in werklikheid nooit verander het nie.
Mag God ons daarvan bewaar! – WDJ