BEROEP OP DIE GEWETE
Die Burger, 05 September 1987
In ons Christelike en Westerse tradisie word groot waarde geheg aan die menslike gewete. Die vryheid van gewete is vir ons ’n basiese en aanvaarde beginsel wat nie aangetas mag word nie. Niemand mag gedwing word om teen sy eie gewete te handel nie.
Veral Protestante dink met piëteit aan Martin Luther, wat hom onder groot druk op ’n beslissende moment op sy gewete beroep het en volgens oorlewering gesê het: “Hier staan ek; God help my – ek kan nie anders nie!” Die beroep op die gewete ontleen sy krag daaraan dat iemand weier om in geestelike en morele sake kompromieë te maak. So iemand is daarom bereid om teen alles en almal in te gaan en te staan vir wat voor die aangesig van God en volgens sy morele beginsels reg is. Daarvoor moet ons so iemand respekteer.
Die probleem is egter dat mense hulle soms – soos nou ook weer in die kerklike geskille – op bedenklike wyse op hul gewete beroep. Dit is oral die geval waar die beroep op die gewete die klaarblyklike morele en geestelike integriteit mis wat vir so ’n beroep noodsaaklik is. Dan oortuig die beroep op die gewete nie, omdat die appèl wat dit op ander se gewete behoort te hê, eenvoudig ontbreek. Trouens, ’n vraagteken word dan eerder agter die suiwerheid van so ’n beroep op die gewete geplaas.
Die beroep op die gewete, met watter subjektiewe erns dit ook al geskied, is altyd nog onderhewig aan beoordeling deur andere in die lig van Gods Woord en hul eie gewete. Hoe groot ons respek ook vir die gewete is, dit is tog nie die laaste en beslissende instansie vir wat reg en verkeerd is nie. Slegs God en sy Woord alleen kan dit wees.
Immers die gewete is nie self die stem van God nie. Dit is die stem van ons eie oortuigings aangaande reg en verkeerd. As ons gelowiges is, berus daardie oortuigings op wat ons as die wil en die wet van God verstaan. Ons gewete is eintlik ons “mede-wete” met God dat iets reg of verkeerd is. Daarom beroep ons ons ook vir ons gewetensoortuiging op die Woord van God of op God self, voor wie se aangesig ons staan (soos Luther dit gedoen het). Ons gewete is ons selfbeoordeling in die lig van ons kennis van die wil van God.
Maar juis daarom is die gewete geen laaste maatstaf vir reg en verkeerd nie. Dit kan onderontwikkel wees en dwaal. Dit kan volgens 1 Timoteus 1:19 onderdruk word. Dit kan uiters selektief funksioneer. Die Bybel praat daarvan dat die gewete prysgegee kan word. Daarom moet dit altyd weer met die Woord van God gekonfronteer en daardeur opgeskerp word.
’n Fyngevoelige gewete is die werk van die Gees in ons. Dit hang ten nouste saam met ons heiligmaking en die intimiteit van ons wandel met God.
As mense hulle dus op hul gewete beroep, moet hulle soos Luther waar kan maak dat hul gewete deur die wil van God gevorm is, en dat dit nie maar menslike vooroordele is wat as mee-wete met God voorgestel word nie. – WDJ