Morele integriteit

MORELE INTEGRITEIT
Die Burger, 12 September 1987

In die sestigerjare was daar ’n aantal teoloë wat as verdedigers opgetree het vir die sogenaamde nuwe seksuele moraal. Volgens hulle was die preutsheid in die seksuele moraal van die verlede die produk van ’n Victoriaanse oneerlikheid wat ten onregte as die wil van God vir die omgang met die menslike seksualiteit voorgestel is.

Hulle het gevolglik gepleit vir meer vryheid op hierdie gebied. Mense moes vry word van die taboes van die verlede. As hulle maar werklik in liefde sou handel, hoef hulle hulself nie te hou aan die moets en moenies van vorige geslagte nie.

Hoe goed hierdie teoloë dit ook al bedoel het, hul standpunte het daartoe bygedra dat talle mense dit as ’n groot stuk bevryding, maar ook as die sanksionering van seksuele losbandigheid verstaan het. Met ’n goeie gewete kon hulle dus daaraan meedoen. Die sogenaamde seksuele revolusie het sy loop geneem. Mense het gevoel dat dit goed is om deel uit te maak van die ”brave new world”.

Maar wie sal die ontwrigting bereken wat die gevolg daarvan in die Westerse samelewings is? Die seksualiteit is in ’n groot mate losgemaak van die huwelik waarbinne dit sy regmatige plek vind. Maar daardeur is die huwelik as instelling en die gesinslewe onder geweldige druk geplaas.

Die sedelike waardes waarby die Westerse samelewing deur die eeue geleef het, is daardeur grondig aangetas. Geen samelewing kan egter bly voortbestaan as die sedelike fondamente waarop dit gebou is, ineenstort nie. Dit het Rome reeds ontdek in die tyd van sy dekadensie, en dit sal ook die Weste ervaar, tensy ’n drastiese wending kom.

’n Samelewing lewe in ’n groot mate uit die versamelde en opgeboude geloof en selfdissipline van die verlede. Wanneer dit verdwyn, merk ’n mens dit miskien nie direk nie. ’n Bietjie meer volwassenheid kan tog nie kwaad doen nie! Op die duur blyk dit egter dat wat verdwyn het, die sement was wat die samelewing aanmekaar gebou het. Op allerlei punte tree die morele verval dan in; en daar is niemand meer wat dit kan keer nie.

Geen gemeenskap kan sonder morele integriteit bestaan nie. Wanneer morele integriteit op een punt prysgegee word, begin dit ook op ander punte verval. Klaarblyklik is ons morele bewussyn ’n ondeelbare geheel. ’n Mens kan nie seksuele losbandigheid as ’n vorm van volwassenheid aanvaar, maar meen dat eerlikheid met geld, nougesetheid met die waarheid en betroubaarheid in ander verhoudinge onaangetas sal bly nie.

As ons ons morele integriteit verloor, stuur ons eenvoudig op ’n chaos af. Die gevaar is dat ons ongemerk meegevoer word in die stroom van permissiwiteit en uiteindelik geen absolute morele standaarde meer oorhou nie. Daarteen moet ons met alle kragte waak.– WDJ