Die vanselfsprekende sê

DIE VANSELFSPREKENDE SÊ
Die Burger, 19 September 1987, bladsy 10

Dinge wat vanselfsprekend is, hoef eintlik nie gesê te word nie. Maar dan moet daar niks gebeur wat die vanselfsprekendheid daarvan onder ’n vraagteken plaas nie, anders word dit weer nodig dat dit gesê moet word om opnuut die versekering te gee dat dit nog steeds waar is.

Dink maar aan die voorbeeld van die liefde tussen ’n man en vrou of tussen ouers en kinders. Onder normale omstandighede is dit vir hulle nie nodig om elke dag verskeie kere aan mekaar te sê dat hulle mekaar liefhet nie: Hul omgang met mekaar bevestig dit in elk geval voortdurend, sodat hulle daarmee kan reken as iets vanselfsprekends.

Dit word egter ’n totaal ander saak as die optrede van die man of die vrou die ander een laat twyfel of die eertydse liefde nog bestaan, soos bv in die geval van verwaarlosing van die huweliksmaat of selfs van huweliksontrou. Dan tree daar verwydering in wat nie weer herstel kan word sonder dat die liefde opnuut betuig en bewys word nie.

Netso kan daar by kinders ’n gevoel van verwerping intree as die ouers deur ’n besige lewe of om welke ander rede ook nie behoorlik tyd en aandag aan hulle bestee nie. Dan kan dit nodig word om besondere moeite te doen om die kinders opnuut van hul liefde te verseker en dit selfs oor en oor te doen en te illustreer, sodat die kinders dit weer kan glo.

Dit is hierdie soort situasie wat dit vir die Ned Geref Kerk noodsaaklik gemaak het om verlede jaar in ronde woorde te verklaar dat sy lidmaatskap oop is vir alle gelowiges, ongeag ras of kleur. Eintlik hoef so iets nie gesê te word nie, omdat dit volledig vanselfsprekend is.

In die ganse geskiedenis van die Christenheid het niemand ooit op die gedagte gekom om die lidmaatskap van die kerk tot mense van een volk, kleur of ras te beperk nie. Die kerk as die liggaam van Christus is tog vanselfsprekend oop vir alle lede van Christus, anders kan dit nie meer die liggaam van Christus wees nie. Daarom sal ’n dergelike uitspraak ook nie deur ander Christelike kerke gedoen word nie. Die vanselfsprekende hoef nie gesê te word nie.

Behalwe natuurlik as die vanselfsprekende weerspreek word deur woord en daad. Dan word dit noodsaaklik om dit weer ’n keer duidelik te sê. Anders is die integriteit van die kerk as kerk van Christus op die spel.

Geen redenasie of verduideliking dat dit nie so bedoel word nie of dat dit maar om ’n orde-reëling gaan, kan hier oortuig solank die kerk nie duidelik uitgespreek het dat die vanselfsprekende ook nog vir hom vanselfsprekend is nie. Anders bly dit vir die hele Christenheid onduidelik of die kerk homself regtig nog as die kerk van Christus verstaan. En om Christus ontwil mag geen kerk daaroor by enigeen twyfel laat bestaan nie. – WDJ