AS DIT TE LAAT IS
Die Burger, 26 September 1987
Dit is so jammer dat ons in die drukte van die dae so dikwels verbylewe aan dinge wat tot die kosbaarste van ons hele aardse bestaan behoort, en eers as ons dit verloor het, tot die besef van die waarde daarvan kom.
Eers as dit te laat is, as ons dit nooit weer kan terugkry nie, dring dit tot ons deur watter voorreg dit was om as kind vry en onbesorg te kon lewe in die wete dat ons ouers daar was, dat hulle vir alles gesorg het, dat ons by hulle veilig was en dat ons nooit aan hul liefde en trou hoef te getwyfel het nie.
Eers as dit te laat is, as die tyd dit van ons weggeneem het, begin ons onthou hoe wonderlik die jare was toe ons met ons eie gesin saam was, toe die kindertjies klein was en ons elke dag die vreugde van hul aanhanklikheid kon smaak; toe ons hulle kon vertroetel en teen ons kon vasdruk, toe ons hul ontwikkeling met blydskap kon geniet en deur hul verwonderde ogies die groot avontuur van die lewe opnuut kon ontdek.
Eers as dit te laat is – as die vertroude stap in die huis stil geword het, as die deur nie meer na werktyd op die vasgestelde tyd oopgesluit word en die vertroude stem ons nie meer op dieselfde wyse roep nie, breek ons hart onder die leegte en treur ons oor die dae toe ons die liefde van ons lewensmaat elke dag gesmaak het, toe ons lewe gevul was met en omring was deur die sorg van iemand wat altyd naby was, en wie se nabyheid dikwels deur ons te maklik as vanselfsprekend aanvaar is.
Eers as dit te laat is, besef ons dat ’n groot deel van ons lewe in sleur en die najaag van minder belangrike dinge opgegaan het, terwyl ons byna agteloos aan die beste dinge van ons bestaan verbygeleef het. Ons het die weelde daarvan altyd maar net half en half besef, ons het byna roekeloos die eenmalige dinge aan ons verby laat gaan asof hulle weer sou kom. Ons het slegs ’n druppel gesmaak van die vreugde wat eintlik ons deel was omdat ons te veel in beslag geneem is deur dinge wat minder belangrik was.
Dit help nie om nostalgies en in selfverwyt hierdie dinge te besef as dit eers te laat is nie. Ons kan dit nie meer terugkry nie en sal die verlede dan maar verlede moet laat bly. Dit is veel beter dat ons, solank ons nog die tyd het, moet leer om ons oë oop te maak vir wat vandag op ons pad kom en wat tans die goeie is wat God aan ons gee.
’n Wyse mens sal weet dat die goeie nie net in die verlede ons deel was nie. As ons goed rondom ons kyk, sal ons sien dat daar nog steeds talle dinge is wat ons lewe met dankbaarheid en vreugde behoort te vervul. Gods genade en die liefde van die mense is ook vandag nog rondom ons. Ons moet nie só na die verlede terugkyk dat ons die goeie van die hede misken nie. Tel u seëninge van vandag, en dank God en die mense daarvoor – voordat dit te laat is. – WDJ