Bitterheid

BITTERHEID
Die Burger, 3 Oktober 1987

Daar is dinge wat ’n mens se lewe van binne verwoes. Een daarvan is bitterheid. Dit is nie vreemd dat die Bybel op verskillende plekke daarteen waarsku nie. Die bekendste daarvan is seker Efesiërs 4:31 waar die gelowiges vermaan word om nooit verbitterd of opvlieënd te wees of woedend te word nie.

Bitterheid is die toestand van innerlike woede wat by ’n mens kan ontstaan as hy diep gekrenk is oor iets wat hom deur andere aangedoen is. Dit is ’n gevoel van wrewel wat die hele innerlike vervul. Dit kan vanweë die spanning wat daarmee gepaard gaan letterlik ’n bitter smaak in die mond tot gevolg hê. Selfs wanneer daardie bitter smaak weer uit die mond verdwyn, kan in die mens ’n innerlike wrok agterbly wat miskien oor jare heen sy lewe kan vergal.

Die ergste van verbittering is dat dit die mens met wraakbegeertes en gewelddadigheid vervul. ’n Mens kan werklik so in die mag van innerlike woede kom dat hy in bitterheid irrasionele dinge doen om daaraan uitdrukking te gee. Hy tree daarby byna soos onder dwang op. Dit is of die Bose self van hom besit geneem het en hom voortdryf tot roekelose en onbesonne wraak.

Bitterheid verblind ’n mens en laat hom sy oordeel oor die situasie verloor. Dit dryf hom tot allerlei dade wat nie net vir diegene skadelik is op wie by hom wil wreek nie, maar ook sy eie lewe nadelig kan raak en selfs kan verwoes. In ’n poging om andere te “wys” doen hy onherroeplike dinge wat homself meer skaad as vir hulle. Dikwels sal diegene wat hy met sy optrede probeer tref, dit skaars merk of min daardeur geraak word, terwyl dit hom ’n geweldige prys kan kos.

In die huislike lewe, in die vriendekring en in die werksituasie kan bitterheid ontsettend veel leed veroorsaak. Dit is egter nog ontstellender as daar ’n toestand van verbittering tussen verskillende groepe mense groei, soos bv. tussen verskillende rasse. Dan kan dit gebeur dat wilde haat mense begin aandryf en argumente oor en weer nie meer gehoor word nie, omdat ’n grens oorgesteek is waaragter nie weer teruggekeer kan word nie. Dit kan net op vernietiging uitloop.

Daarom vermaan die Bybel ons om nie verbitterd of opvlieënd te wees nie. Dit is net die Gees van Christus wat ons werklik innerlik in bedwang kan hou en ons die krag kan gee om selfs leed en onreg sonder verbittering te verwerk. Dit is ’n wonderlike seën as ons kan help om die oorsake van verbittering by andere te verwyder en so die kwaad af te weer.

Die liefde leer ons nie net om kwaad te verdra nie, maar ook om kwaad te voorkom. Gelukkig is die mens wat nie alleen self sy innerlike vrede kan bewaar nie, maar ook andere kan help om oor bitterheid te kom en weer vrede te vind. – WDJ