Voor God of voor die mense

VOOR GOD OF VOOR DIE MENSE
Die Burger, 10 Oktober 1987

Meer as wat ons dit self besef, word ons lewe beheers deur die vraag wat ander mense van ons dink en sê. ’n Mens moet maar eerlik genoeg word om jou eie motiewe so objektief moontlik te ontleed, om te ontdek hoe gevoelig ons tog vir die opinies van ander mense is.

Op sigself hoef dit natuurlik nie net negatief beoordeel te word nie. Die gevoeligheid vir die oordeel van ander mense kan daartoe dien om mense van ’n groot hoeveelheid kwaad terug te hou. As mense totaal ongevoelig was vir wat ander mense van hulle dink, sou hulle lewe baie ruwer en onverfynd gewees het. Ons eergevoel en die begeerte om deur ander mense gunstig beoordeel te word, kan ons daartoe aanspoor om openlike en ergerlike misdrywe na te laat. Miskien is dit ook waar dat ons deur die goeie dunk wat andere van ons het, aangespoor word om te probeer wees soos hulle dink dat ons is.

As ons egter nog net op hierdie vlak redeneer… praat ons nog nie van die ware geregtigheid wat deur die kinders van God uitgeleef moet word nie. Vir die kind van God is die opinie wat ander mense van hom het, nie die motief om goed te doen nie. Omdat hy primêr voor God leef en nie voor die mense nie, is sy motief om God te gehoorsaam en te verheerlik. Daarom is die oordeel van die mense oor hom vir hom van sekondêre betekenis.

Hy moet wel sy lig voor die mense laat skyn, sodat hulle sy goeie werke kan sien en sy Vader in die hemel kan verheerlik (Matteus 5:16). Daarom is dit vir hom belangrik om so te lewe dat ook sy doen en late getuienis aflê van sy geloof in God. Hy doen egter nie goed om deur die mense raakgesien en geprys te word nie, maar om aan God gehoorsaam te wees en Hom te verbly.

Christus verbied sy dissipels om soos die skynheiliges te wees wat hulle godsdienstige pligte nakom om deur die mense gesien te word (Matteus 6:1 ev). Hulle bewys liefdadigheid aan die armes, bid en vas om deur die mense raakgesien te word. As hulle die armes help, sorg hulle dat dit goed bekend word. As hulle bid, staan hulle op die hoeke van die strate en bid om deur die mense gesien te word. As hulle vas, loop hulle met lang gesigte rond, sodat die mense dit kan agterkom.

Die doel van hulle vroomheid is om mense te beïndruk, nie om God te verheerlik nie. Sulke mense het hulle loon weg, sê Jesus. Hulle leef voor die mense en soek die eer van die mense, en dit is presies wat hulle ontvang.

Dit geld dikwels ook van ons vroomheid. Kerkbesoek en dankoffers, deelname aan die openbare gebed en kerklike aktiwiteite is dikwels meer ter wille van die mense as ter wille van God. Dit gaan nie eintlik om God nie, maar om die mense. Hoe min is ons vroomheid soms werd. – WDJ