DIE AARD VAN DIE LIEFDE
Die Burger, 17 Oktober 1987
Daar is maar nog steeds verwarring by baie mense oor die aard van die liefde wat die Bybel van ons vra. Dit blyk veral daaruit dat dit vir hulle moeilik is om te verstaan wat die verhouding tussen selfliefde en die liefde tot die naaste is.
Baie mense dink dat selfliefde en naasteliefde twee dinge is wat langs mekaar bestaan, en dat die groot kuns is om hulle in die regte verhouding te besit. Die gebod dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself, word dan verstaan in die sin dat ons primêr gebied word om onsself lief te hê, maar dat ons daarnaas ook nog gebied word om ons naaste lief te hê, en wel in gelyke mate met onsself.
So gesien, word dit dan belangrik om die regte verhouding tussen hierdie twee liefdes te bewaar. Jy word gebied om jou naaste lief te hê, ja, maar jy moet versigtig wees om hom nie te veel lief te hê nie, want dan kom jou selfliefde in die gedrang. En jy moet jouself liefhê, maar jy moet dit nie so doen dat jy geen plek meer het vir naasteliefde nie.
Hierdie siening blyk nie slegs telkens weer uit gesprekke nie, maar ook uit ’n verklaring wat nog onlangs in alle erns deur ’n groep Christene gedoen is, dat die Here tog nie van ons verwag om ons naaste liewer as onsself te hê nie. Daarmee bedoel hulle dat ’n mens nie jou selfliefde deur jou naasteliefde moet laat bedreig nie. Dit vorm die basis van hul standpunt dat ’n mens primêr jou eie moet liefhê en vir jou eie belange moet sorg, en daarna ook nog na jou naaste moet omsien.
Maar is so ’n siening werklik Bybels? Baie beslis nie. Hierdie hele manier van redeneer misken die ware aard van die liefde. Liefde is nie iets kwantitatief wat verdeel kan word in ’n hoeveelheid vir God, vir myself, en dan nog ook vir my medemens nie, waarby ’n mens versigtig moet wees om veral nie jou selfliefde af te skeep nie.
Liefde is ’n wyse van bestaan waarin ’n mens heeltemal op God en die naaste gerig is, en juis daardeur in die regte verhouding tot jouself kom. Liefde vir God en die naaste en die regte liefde vir onsself is onlosmaaklik verbonde, maar dan só dat die regte betrokkenheid by onsself gegee is in ons selfprysgawe aan God en die naaste.
Enige vorm van verselfstandiging van die selfliefde is juis die pervertering van die liefde. In die liefde is die self nooit belangrik ter wille van homself en op homself nie, maar hy is belangrik as die een wat liefhet en in die liefde sy hoogste vervulling vind.
So is dit tog ook met Jesus, wat die openbaring is van die Liefde. Hy gee Homself prys ter wille van ons, maar juis daarin vind Hy sy eie hoogste vreugde. Die begeertes van sy hart word vervul. In die selfloosheid van die liefde vir die ander ervaar ’n mens die selfvervulling wat jy begeer. Eers in liefde vir die ander kom ’n mens tot jouself. – WDJ