DIE PROTESTANTSE BEGINSEL
Die Burger, 31 Oktober 1987
Dit is vandag presies 470 jaar gelede dat Martin Luther sy bekende 95 stellings aan die deur van die Slotkerk in Wittenberg gespyker het – ’n daad en datum wat algemeen as die begin van die Kerkhervorming van die sestiende eeu beskou word. Wat daar en toe gebeur het, was in elk geval die katalisator van ’n magtige geestelike en kulturele beweging wat die geskiedenis van die Weste op ’n ingrypende wyse sou verander.
Dit is egter duidelik dat wat in die Kerkhervorming van die sestiende eeu gebeur het, meer was as net die deurbraak van ’n nuwe tydperk in die geskiedenis van Christendom, kerk en die Europese wêreld. Dit was ook die openbaring van die innerlike dinamiek van die geloof in God wat telkens weer deur die loop van die eeue tot ’n dramatiese breuk met die bestaande en gevestigde stand van sake gelei het en die deur na ’n nuwe toekoms geopen het.
Paul Tillich het dit die protestantse beginsel genoem. Daarmee het hy bedoel dat die egte geloof in God homself nooit kan neerlê by die gewordene, asof dit onaantasbaar is en geen behoefte aan hervorming het nie. Die bestaande word so maklik verabsoluteer en as heilig, onaantasbaar en onveranderlik beskou. Juis daarteen moet vanuit die geloof telkens weer geprotesteer word.
Die verabsolutering van die gewordene misken die sonde wat alle mensewerk en alle histories-geworde situasies aankleef. Dit onderskat die gebrokenheid wat aan ons hele menslike werklikheid eie is. Dit verstaan nie dat geen aardse, menslike, historiese werklikheid – ook al is die naam daarvan staat of kerk – met die pretensie kan optree dat dit onfeilbaar is en die laaste woord het nie. Oral waar dit gebeur, moet dit weerstaan word, want dit is ’n vorm van demonie wat die alleenreg van God op ons lewe aantas.
Só gesien, is die Kerkhervorming van die sestiende eeu maar net ’n voorbeeld van die dinamiek van die geloof in God wat reeds hoorbaar was in die protes van die profete van die Ou Testament teen die sakralisering van die koningskap, die priesterskap en die tempel. Dit laat hom selfs geld binne die Rooms-Katolisisme wanneer daar van tyd tot tyd – soos weer in ons tyd – kragte na vore tree wat die kerk uitdaag om na die Woord van God alleen te luister. En dit kan ook na vore kom in die aandrang van Christene by die samelewing en die staat om die gewordene nie te verabsoluteer nie, maar bereid te wees vir gehoorsaamheid aan God alleen.
Aan mense wat daarop aanspraak maak dat hulle die nasate is van Geus en Hugenoot is die protestantse beginsel van huis uit meegegee. Maar ons protes mag nooit uit selfsug en eiebelang gebore word nie. Dit moet gebore word uit die heilige ywer vir geregtigheid en vir die eer van Gods Naam. – WDJ