Die eerstes en die laastes

DIE EERSTES EN DIE LAASTES
Die Burger, 14 November 1987

Vanuit die gesigshoek van die ewigheid gesien is dit nie belangrik of ’n mens op aarde ’n baie belangrike posisie beklee het, en of jy tot die groot menigte eenvoudiges behoort het wie se name kwalik in die geskiedenisboeke vermeld sal word nie.

Dit kan wel vir ons lyk of dit net die grotes en die magtiges, die rykes en die begaafdes is wie se lewe werklik saak maak, en dit is net denkbaar dat baie mense aan die einde van hul lewe hulself kan vra of hul lewe nou werklik eintlik sin gehad het.

Die meeste van ons behoort tog maar tot die eenvoudiges, die onopvallendes, dié soort waarvan daar twaalf in ’n dosyn is. As ons oor ons lewe terugkyk, is dit so vol middelmatigheid dat ons nie veel grond tot roem daaroor het nie. Dit kan vir mense soms tot ’n byna ondraaglike pyn word dat hul lewe so vaal en onopvallend verloop het.

In die rolprent Amadeus, wat oor die lewe van Mozart handel, is die frustrasie en jaloesie van Sallieri ’n hooftema. Hy sien die begenadiging in die werk van Mozart raak en kan nie anders as om dit te bewonder nie, maar hy word voortdurend gepynig deur jaloesie. Sy eie middelmatigheid, sy gebrek aan kreatiwiteit en sy onvermoë tot prestasie, ondanks alle geleenthede daartoe, dryf hom tot haat en uiteindelik tot kranksinnigheid.

Dit sal in die lewe van die meeste mense nie so dramaties toegaan nie. Tog leef talle mense met die pynlike gevoel dat hul lewe verloop het sonder iets van werklike betekenis.

Die enigste ware genesing daarvoor is gegee in die geloof in God en die nederige wandel voor sy aangesig. Die gevoel van sinloosheid word gebore uit ’n visie op die lewe waarin slegs op ’n horisontale vlak na die dinge gekyk word. Grootheid en betekenis word dan gemeet ooreenkomstig die erkenning wat mense in hierdie lewe geniet. Maar dit is tog ’n baie eensydige kyk op die lewe.

Die Bybel leer ons deurgaans hoe relatief sulke aardse heerlikheid en prestasie kan wees in die lig van die ewigheid. Jesus sê dat baie wat eerste is, in die lig van Gods troon laaste sal wees, en omgekeerd. Voor die aangesig van God is daar nie nuttelose en waardelose lewens nie. Die diens en liefde wat ’n onopvallende en onbekende in die huis- en vriendekring of teenoor veragte en gou vergete mense in hul nood gelewer het, kan voor God groter betekenis hê as die eer van baie mense.

Want uiteindelik val die oordeel van God oor die kwaliteit van die liefde waarmee ons gelewe het, nie oor die glans van aardse grootheid nie (Matteus 25:31 ev; 1 Korintiërs 13:1–3). In God se oordeel lyk dinge baie anders as in die oë van die mense. En die geloof leer ons om na die dinge te kyk soos God daarna kyk. – WDJ