EENSYDIGHEID
Die Burger, 21 November 1987
Alle mense is eensydig. Hulle beoordeel sake net vanuit hul eie gesigshoek. Hulle sien net hul eie kant raak. Dit verhinder hulle om die werklikheid reg te sien en te beoordeel.
Die probleem is dat ons nie eens in staat is om ons eie kant van die saak reg te sien nie, omdat ons kant van die waarheid nooit reg verstaan kan word sonder die ander kante wat ons in ons eensydigheid miskyk nie. Die waarheid het nou eenmaal nie net een kant nie. Dit het verskillende kante wat gelyktydig oorweeg moet word as ons die waarheid reg wil ken.
Daar kom egter nog iets by. Ons vermoë om die werklikheid van die lewe te beoordeel is nie ’n objektiewe en neutrale vermoë wat las van die totale instelling tot die lewe funksioneer nie. Deel van ons eensydigheid is ook dat ons dikwels blind is vir bepaalde aspekte van ons eie kant van die waarheid, eenvoudig omdat dit ons nie pas om dit raak te sien nie. Ons oog word in ’n baie groot mate beheer deur ons hart. Die dinge wat vir ons belangrik is, kleur die manier waarop ons na die wêreld kyk en dit beoordeel. Ons belange en ons begeertes bepaal nie net wat ons raaksien nie, maar ook hoe ons dit beoordeel.
Daarom is dit ’n illusie om te dink dat ons alleen sake reg sien, terwyl mense wat met ons verskil, moedswillig die feite verdraai. Ons kan wel dink dat ons self objektief en opreg is in ons visie op die dinge, maar dit is omdat ons onsself nie goed genoeg ken nie.
Hoe meer ’n mens bewus word van jou eie eensydigheid en die gevare van ’n bevooroordeelde kyk op die situasie waarin jy jou bevind, des te meer volwasse word jy en des te groter is jou kans om meer objektief daarna te kyk en dit te beoordeel. Ons moet eenvoudig met die moontlikheid reken dat andere ons kan oortuig van verkeerde motiewe by onsself, en dus ook van ’n eensydige kyk op die dinge.
As ons almal in ons omgang met mekaar hierdie waarheid in die oog sou hou, sou ons moontlikheid om mekaar in moeilike sake te vind, baie groter wees. Hoe dikwels is dit nie waar van situasies in die huwelik of in die gesin of tussen vriende, dat mense mekaar oor en weer van moedswilligheid en kwade trou beskuldig nie, terwyl albei partye ewe eensydig is in hul visie op die saak waarom dit gaan.
Dit geld egter ook op ander terreine, met name ook in ons kerklike en politieke lewe. Dit kan ’n universele spel wees dat groepe mekaar oor en weer van domheid en bose motiewe beskuldig en hulself as daarbo verhewe voorstel. Die waarheid vereis egter dat ons dit moet staak, ons eensydighede in gedagte moet hou en werklik bereid moet wees om ook na die ander se kant van die waarheid te kyk.
Dit is net moontlik dat ons eie kant van die waarheid daardeur vir die eerste keer in perspektief sal kom. – WDJ