Dit is ontstellend

DIT IS ONTSTELLEND
Die Burger, 7 November 1987

In hierdie Gesinsjaar is ons nou al herhaaldelik geskok deur die voorkoms van gesinsmoorde. Dit is iets wat so ontstellend is dat ’n mens nie weet hoe jy daarop moet reageer nie.

Aan die een kant voel ’n mens dat jy moet swyg voor so ’n skrikwekkende openbaring van menslike ellende. Dat ’n mens dit nie net waag om sy hand in desperaatheid aan sy eie lewe te slaan nie, maar in dieselfde aksie ook die lewe neem van diegene wat hy liefhet, is so totaal in stryd met normale menslike optrede dat dit as iets patologies gesien moet word. Daarom moet ons ons oordeel oor sulke mense laat temper deur die besef van die breekbaarheid en swakheid van die mens. Ons is in onsself nie beter as hulle nie.

Aan die ander kant kan ’n mens jou tog ook moeilik losmaak van die gedagte dat ons in hierdie verskynsel ’n simptoom moet sien van ’n dieperliggende siekte van ons samelewing. Uit so ’n daad spreek onteenseglik ’n bepaalde disrespek vir die gebod van God en vir sy gawe van die lewe. Die diepe huiwering daarvoor om ’n menslike lewe te neem, wat in die verlede saamgehang het met die geloof in God en die respek vir sy gebod, is besig om uit ons samelewing te verdwyn. Die moderne samelewing is besig om steeds meer ’n Godlose samelewing te word, en daarom gewelddadig en roekeloos. Ons weet nie meer daarvan om ons moeilikhede deur gebed en bekering op te los nie. Ons skiet liewer alles aan flarde.

Daarmee hang ook die vraag saam na die waardes waarvolgens mense lewe. Ons kan aanneem dat diegene wat tot so ’n verskriklike daad oorgaan, in groot moeilikhede verkeer. Bes moontlik gaan dit om probleme van ’n finansiële aard waarvoor geen oplossing gesien kan word nie. Soms sal dit gaan om ’n misdaad of iets anders wat as skandelik ervaar word. Vanweë die skande wat oor sy gesin sal kom as dit openbaar word, op grond waarvan ’n mens jou vrou en kinders nie meer in die oë sal kan kyk nie, en hulle ook nie die wêreld in die oë sal kan kyk nie, word hulle dan maar liewer saam die dood ingeslinger.

Maar daaruit blyk watter oordrewe waarde aan die opinie van andere en ons status in die samelewing geheg word. Dat ons in elk geval aan die ander kant van die dood voor die regterstoel van God moet staan, werp nie meer genoeg gewig in die skaal om mense van sulke gruweldade te weerhou nie. Ons het ons vrees vir God verloor, en daarom is ons so trots voor die mense dat ons liewer onversoend met God sterf as om voor mense in die skande te kom. Asof daar enige menslike situasie is wat nie deur berou en bekering heen verander kan word, sodat ’n nuwe begin moontlik is nie.

Laat ons tog besluit om, selfs in ons skande en teenspoed, ons toevlug liewer tot God te neem wat alle dinge kan hanteer en selfs ons skade en vernedering ten goede kan keer. – WDJ