’n Vroom misverstand

’N VROOM MISVERSTAND
Die Burger, 5 Desember 1987

Iemand sê in alle erns dat hy Sondae in die kerk nie saam met die gemeente deel kan neem aan die skuldbelydenis en daarna die genadeverkondiging deur die leraar kan aanhoor waarin die vergiffenis aan almal toegesê word wat berou oor hul sondes het nie.

Wat hom betref, het hy nie meer sonde wat hy hoef te bely en waarvoor hy vergiffenis moet ontvang nie. Dit het hy reeds agter die rug. Hy maak daarop aanspraak dat hy ’n ervaring met die Heilige Gees gehad het waardeur hy die volle bevryding van alle sonde ontvang het. Daarmee het hy sy ou sondige natuur afgesterf. As hy sou bely dat hy nog sonde doen, sou dit volgens hom op ongeloof in die volkome verlossingswerk van Christus neerkom.

As hy saam met die gemeente bely: “Ek glo in die vergewing van sondes”, bedoel hy daarmee iets wat hy eenmaal nodig gehad het, maar nou tog nie meer nie, omdat hy tans geen bewussyn van sonde meer het nie. Swakheidjies het hy dalk nog wel en foute kan hy nog hier en daar begaan – dit is menslik – maar dit wil hy tog nie meer sonde noem nie.

Ook die vyfde bede van die Onse Vader: “En vergeef ons ons oortredinge”, slaan vir hom nie op die daaglikse reiniging van sondes nie. Die priesterlike offer van Christus vir ons sondes en die verlossing uit genade is vir hom iets aan die beginpunt van sy geestelike lewe, maar as volmaakte Christen is hy daarby verby.

Hoe vroom hierdie soort beskouings ook al lyk, het ons hier tog met ’n gevaarlike misverstand te make. Dit is waar dat die Bybel ons leer dat ons in Christus die volle saligheid het, en dat Hy vir ons geword het tot vryspraak, heiliging en volkome verlossing (1 Korintiërs 1:30). Maar ons het dit alles slegs in Christus. Tans het ons deur die geloof daaraan deel en deur die werk van die Heilige Gees word ons steeds inniger met Christus verbind en word wat ons in Hom besit, steeds meer ook in ons self ’n werklikheid. Eenmaal in die hemelse heerlikheid sal ons soos Hy wees (1 Johannes 3:2).

Solank ons egter in hierdie lewe is, bly ons nog sondaars in ons self en is die volmaaktheid nog nie subjektief ons deel nie. Paulus verklaar uitdruklik dat hy dit nog nie het nie, al jaag hy ook daarna (Filippense 3:12). As hy in Romeine 8 oor die heerlikheid van die verlossing jubel, sê hy terselfdertyd dat dit ’n verlossing “in hoop” is (Romeine 8:24).

Die perfeksionisme (soos dit hierbo geskets is), misken die diepte van die kwaad. ’n Entoesiastiese Christen dink al gou dat as hy geen ervaring van sonde het nie, hy werklik sonder sonde is. Maar van ons hardnekkigste sondes, is ons soms totaal onbewus. As iemand sê dat hy geen sonde het nie, bedrieg hy homself (1 Johannes 1:8). Meestal dink net die perfeksionis self dat hy volmaak is. Diegene rondom hom weet dit is nie waar nie. Die teken van egte toename in heiliging is eerder ’n dieper sondebesef en ’n groter ootmoed. – WDJ