Die deernis van Jesus

DIE DEERNIS VAN JESUS
Die Burger, 12 Desember 1987

Onder alles wat die Nuwe Testament aangaande Jesus vertel, neem die herhaalde beklemtoning van sy deernis met die mense rondom Hom ’n vername plek in. Klaarblyklik het die liefde van Jesus vir die mense wat op sy pad gekom het, sy sensitiwiteit vir hul nood en behoeftes, sy geduld met hul swakhede en sy bereidheid om na hulle uit te reik ’n onuitwisbare indruk op die oog- en oorgetuies van sy optrede gemaak.

Dit word honderdvoudig in die Evangelies geïllustreer. ’n Aangrypende voorbeeld hiervan is Markus 6:31–34. Daar hoor ons dat Jesus en sy dissipels vanweë die voortdurende toeloop van mense op ’n bepaalde dag nie eens tyd gehad het om te eet nie. Dit was net na die terugkeer van die apostels van die sending waarop Jesus hulle gestuur het. Hulle het baie gehad om aan Hom te vertel. Ongetwyfeld was daar by Jesus en sy dissipels ’n groot behoefte om êrens alleen met mekaar saam te wees waar hulle rustig oor alles kan praat en die dissipels ’n kans kon hê om ’n bietjie uit te rus.

Jesus sê dan ook aan die apostels: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.” Maar dit is hulle nie gegun nie. Hulle vertrek wel met ’n skuit na ’n plek waar hulle alleen kon wees, maar die mense het dit agtergekom en vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan. Hulle kom selfs nog vóór Jesus en sy dissipels daar aan.

Is dit nie frustrerend nie? Kan mense so onbedagsaam wees? Het hulle geen besef daarvan dat Jesus en sy dissipels ook tog die behoefte gehad het om minstens by geleentheid net te kan ontspan nie? Wie van ons ken nie die gevoel van spanning wat by ons oplaai as ons ervaar dat ons oorvra word deur onsensitiewe mense nie? Dit is nie vreemd dat die dissipels later daardie dag vir Jesus gevra het om die mense weg te stuur nie. Ons sou dit miskien net veel eerder al gedoen het.

Maar van Jesus lees ons dat, toe Hy die menigte sien, Hy hulle innig jammer gekry het, omdat hulle soos skape was wat nie ’n wagter het nie. Jesus kyk met ander oë na die mense as die dissipels of as ons. Hy kyk na hulle met die deernis van God wat hulle in al hul jammerlikheid raaksien. Die Griekse woord vir “jammer kry” dui innerlike bewoënheid aan. Jesus sien die arme, patetiese mense wat rigtingloos en koersloos ronddwaal – mense sonder ’n doel, reisigers na nêrens.

Die Bybel teken Jesus in sy deernis vir die armes, die verdwaaldes, die veragtes, die lydendes, die betekenisloses, die verlorenes. Daarin is Jesus die openbaring van God. So is God. Hy is die God van liefde en deernis.

Daar is by God deernis met almal wat in nood is. Om te kwalifiseer vir Gods liefde hoef ons nie te presteer nie. Ons nood en ons verlorenheid – dit bring Gods liefde in beweging. – WDJ