WD Jonker. “Uitverkiesing en Prediking” in Wethmar CJ en CJA Vos (red.) 1988. ’n Woord Op Sy Tyd : ’n Teologiese Feesbundel Aangebied Aan Prof. Johan Heyns Ter Herdenking Van Sy Sestigste Verjaarsdag.
Pretoria: NG Kerkboekhandel, 53-65
Vir sy bespreking van die ontwikkelinge rondom die uitverkiesingsleer gedurende die twintigste eeu kies Berkouwer as opskrif: “Om het hart der kerk” (1974, 97). Hy gryp daarmee terug op bekende uitspraak van Kuyper wat in gereformeerde kringe wye ingang gevind het, dat die belydenis aangaande die uitverkiesing die hart van die kerk is (Kuyper: 1893, II, 161). En inderdaad: die Gereformeerdes het hulle meer as enige ander konfessionele groepering met die belydenis van die uitverkiesing besig gehou en daarin nie alleen ’n ryke bron van troos vir die gelowige gesien nie, maar ook ’n kardinale stuk van die geloof van die gemeente, waaraan veral die genadekarakter en vastheid van die heil onlosmaaklik verbonde is.
Tog is hierdie belydenis vir die Gereformeerdes nie sonder probleme nie. Berkouwer wys daarop dat dit in die praktyk van die kerklike lewe dikwels juis ’n bron van onsekerheid en aanvegting geword het. In pastorale gesprekke moet voortdurend weer ingegaan word op vrae wat toon dat die leer van die uitverkiesing deur baie lidmate deterministies misverstaan word en dat dit daarom vir hulle tot ’n bedreiging van hulle geloofsekerheid en die sin van die prediking word. Vir die meeste mense beteken die leer van die uitverkiesing dat die lot van alle mense van ewigheid af vasgelê is in Gods voortydelike besluit van die dubbele predestinasie, waardeur sommige tot die lewe en ander tot die dood bestem is.
Wat ’n sentrale, fundamentele en troosvolle stuk van die belydenis van die kerk is, word só tot ’n struikelblok vir baie: “Men zag er meermalen niets anders in dan de verwijzing naar een duistere, verborgen, geheimzinnige en willekeurige ‘achtergrond’ van de geschiedenis van elk mensenkind, die uiterst moeilijk met begrippen als hart en troost in overeenstemming scheen te brengen” (Berkouwer: 1974, 103).
Hoopvolle diskussie
Berkouwer skryf hierdie woorde om die aandag te vestig op die hoopvolle diskussie rondom die uitverkiesing wat in sy eie leeftyd op gang gekom het. Dit is ’n diskussie waarby hy self ten nouste betrokke was en wat in die gang van sy eie teologiese ontwikkeling ’n ingrypende betekenis gehad het. Vir sy besef het dit positiewe resultate opgelewer vir die antwoord op die vraag hoe oor die uitverkiesing gepraat moet word dat hierdie leer mense weer tot blydskap en lofprysing kan inspireer, in plaas daarvan dat dit tot determinisme en fatalisme aanleiding gee (ibid., 123 c.v.).
Berkouwer verwys na ’n hele reeks van gespreksgenote wat almal op hulle eie wyse daartoe bygedra het om ’n nuwe klimaat in die denke oor die uitverkiesing te skep. Hy noem Kohlbrugge en Noordmans, Van der Zanden en Woelderink, Veenhof en Miskotte, Ridderbos en Weber, en nog verskillende andere. Hy tel bepaalde drade op wat reeds by Bavinck aanwesig was en beroep hom op verskeie Duitse eksegete. Tog is dit duidelik dat die groot inisieerder van die gesprek Karl
53
Barth was. Meer as enigiemand anders het hy die gespreksgenote gestimuleer om in aansluiting by of in reaksie op sy denke die tema van die uitverkiesing op ’n nuwe wyse te benader.
Dit geld ook van Berkouwer self. Dit is wel waar dat hy op ’n besondere wyse geïrriteer en gestimuleer is deur die Amerikaanse teoloog Hoeksema met sy uitgesproke supralapsariese en logisistiese verdediging van die dubbele predestinasie en die idee van die parallelliteit van Gods ewige liefde vir die uitverkorenes en sy ewige haat vir die verworpenes (A.C. de Jong: 1954). Daarteen kon hy alleen maar in verset kom. Tog is dit onmoontlik om sy reaksie teen Hoeksema los te maak van sy intensiewe gesprek met Karl Barth wat op sy eie wyse met die tradisionele uitverkiesingsleer geworstel het.
Karl Barth se behandeling van die uitverkiesing is van alle kante af onder kritiek gestel, selfs deur sommige teoloë wat as sy leerlinge bekend staan en baie sterk onder sy invloed verkeer het, soos bv. Otto Weber (1951, 1962) en Walter Kreck (1978), of ook deur andere wat verder van hom af gestaan het, maar tog aansluiting by hom gevind het, soos bv. Heinrich Vogel (1951). In Nederland is Barth se uitverkiesingsleer onder andere ook skerp gekritiseer deur Van der Zanden (1949) en Woelderink (1951), terwyl Berkouwer self waarskynlik die mees indringende kritiek teen hom uitgespreek het in sy werk: “De triomf der genade in de theologie van Karl Barth” (1954). Maar ondanks hierdie vrywel algemene, en vir die grootste gedeelte ook regmatige kritiek op sekere aspekte van Barth se uitverkiesingsleer, bly dit nog steeds waar dat hy ’n algemene tendens in die behandeling van die uitverkiesingsleer na vore gebring het waaragter moeilik weer teruggekeer kon word. ’n Mens kan selfs sê dat daar tans redelik algemeen nuwe aksente in verband met die uitverkiesingsleer gelê word, wat sonder die bydrae van Barth ondenkbaar sou gewees het.
’n Verkiesing van genade
Die kenmerkende van die resente gesprek oor die uitverkiesing is dat dit op ’n totaal ander vlak lê as die stryd rondom die uitverkiesing tussen Augustinus en Pelagius, Luther en Erasmus, Calvyn en Pighius of die Gereformeerdes en die Remonstrante. Diegene wat aan die gesprek deelgeneem het, verskil soms op bepaalde punte ingrypend van mekaar, maar op een punt is daar tussen hulle onderling en tussen hulle en die gereformeerde belydenis geen verskil nie, nl. dat die verlossing van die mens enkel uit genade is, die vrug van Gods vrye en genadige verkiesing.
Daar is by hulle geen sprake van ’n ontkenning van die soewereine vryheid van Gods verkiesing nie, net so min as wat daar by hulle ’n terugkeer is na een of ander vorm van sinergisme in ’n Semi-Pelagiaanse of Arminiaanse sin. Wat ook al tot die teendeel beweer word (Van Til: 1975; Baker: 1981), dit is uit hulle geskrifte duidelik dat dit vir hulle in geen opsig gaan om ’n aantasting van die sola gratia en die sola fide nie, maar om die vraag hoe oor die uitverkiesing gedink en gepraat moet word om aan die Bybelse intensie daarvan getrou te bly. Die Bybelse intensie van die uitverkiesingsleer is om die absolute genadekarakter van die heil te onderstreep en om God te verheerlik as die God van soewereine
54
liefde en goedheid. Dit het die teologie altyd geweet, maar die wyse waarop in die geskiedenis van die teologie en veral in die skolastiek oor die uitverkiesing gepraat is, het feitlik altyd weer die vreugde oor die liefde en genade van God getemper.
Baie teoloë skryf dit daaraan toe dat die uitverkiesing as daad van Gods genade dikwels direk in verband gebring is met en as parallel beskou is van die verwerping as daad van sy geregtigheid, en dat albei gelykelik teruggevoer is op ’n verborge decretum absolutum van God wat aan die geskiedenis voorafgaan en die uitkoms daarvan by voorbaat bepaal. Hierdie soort voorstelling moes noodwendig die vreugde oor die uitverkiesing ondermyn, nie alleen omdat dit aanleiding gee tot onsekerheid oor die eie uitverkiesing nie, maar ook die vraag laat opkom hoe dan oor God gedink moet word. Die Bybel verklaar wel van Hom dat Hy liefde is, maar dit sluit volgens hierdie voorstelling van sake dan blykbaar nie uit dat Hy van ewigheid af mense kan verwerp in ’n besluit wat nog totaal aan hulle bestaan en hulle doen en late, ja aan die intrede van die sonde in die wêreld self voorafgaan, en hulle doen en late by voorbaat bepaal nie. Hierdie soort voorstelling gee aanleiding tot misverstande wat iets anders is as die aanstoot aan die evangelie van genade en nie besweer kan word deur ’n beroep op die majesteit van God nie.
Dit is teen hierdie agtergrond dat die bydrae van Barth gesien moet word as hy met soveel patos beklemtoon dat dit in die uitverkiesing om Gods Gnadenwahl gaan, dat die uitverkiesing niks anders is nie, as “die Summe des Evangeliums”, en dat dit daarom ’n boodskap van loutere vreugde is. Hierdie aksent van Barth het ’n geweldige weerklank gevind en daartoe bygedra dat selfs diegene wat gewigtige besware het teen die wyse waarop Barth sy uitverkiesingsleer verder uitwerk, meer as tevore daarvan uitgaan dat die uitverkiesing as ’n saak van vreugde oor die ongedagte genade van God verstaan moet word. Dit het egter konsekwensies vir die wyse waarop die uitverkiesingsleer hanteer word.
Afwysing van die skolastiek
So het daar ’n groeiende oortuiging ontstaan dat die weg wat die Protestantse skolastiek in verband met die uitverkiesingsleer bewandel het, op bepaalde punte afgewys moet word. Veral die wyse waarop Beza die leer van die uitverkiesing hanteer het, geld vandag algemeen as ’n voorbeeld van hoe dit nie gedoen behoort te word nie (Kickel:1967; Neuser: 1980,314 e.v.). By Beza word die uitverkiesingsleer aan ’n konsekwente rasionalisering onderwerp. Hy maak daarby gebruik van die denkstrukture van die Aristoteliese wysbegeerte en dra daarmee onbewus ook die metafisiese voorveronderstellings daarvan in die teologie in. Alles word dan helder, logies, eenvoudig en herleibaar tot die principia van ’n metafisiese denkstruktuur, maar daarmee gaan ook die eie aard van die Bybelse manier om oor die verhouding tussen God en mens te praat, in ’n groot mate verlore.
In die denke van Beza vorm die ewige dekreet van uitverkiesing en verwerping die uitgangspunt van sy hele dogmatiese sisteem. In sy omvattende supralapsariese leer van die dubbele predestinasie word alles wat in die geskiedenis gebeur, tot die oerbesluit van God teruggevoer. Hierdie besluit self is volgens Beza die noodsaaklike uitvloeisel van God se wil om Homself te verheerlik deur sy barmhartigheid
55
en geregtigheid tot openbaring te bring in die verlossing van sommige mense en die ewige verdoemenis van andere. Daaruit volg logies dat God die sonde sowel as die verlossingswerk van Christus moes wil as noodsaaklike middele met die oog op sy eie verheerliking. Hierdie besluit van God word kragtens die beginsels van die alwerksaamheid en alkousaliteit van God die dryfveer agter die geskiedenis waarin dit op ’n trefsekere manier tot uitvoering gebring word. Deur middel van skolastieke onderskeidings kan dan nog binne hierdie soort voorstelling probeer
word om te handhaaf dat God nie die outeur van die sonde is en dat die uitverkiesing nie deterministies verstaan moet word nie. Die neerslag daarvan in die gemeente beteken egter feitlik deurgaans dat die vreugde en die loflied oor die uitverkiesing verdwyn.
Die aard van dogmatiese uitsprake
Dit is hierdie soort dogmatiese denke wat Edmund Schlink op die oog gehad het in sy waarskuwing teen die gevare wat daaraan verbonde is as die dogmatiek op ’n abstrakte wyse ’n rasionele uiteensetting probeer gee van die boodskap van die Woord van God (1961, 24 c.v.). Hy wys daarop dat ons omgang met en reaksie op die Woord van God op verskillende maniere geskied. Dit is daarby relatief makliker om in die gebed en selfs in die prediking op ’n goeie manier met die Woord van God om te gaan as in die dogmatiek. Anders as wanneer ons in lofprysing, gebed of prediking die groot dade van God verkondig, praat die dogmatiek graag teoreties en saaklik oor God. Dinge wat in die verkondigende spreke van die Bybel en in ons persoonlike verhouding tot God geen probleem is nie, word dan geobjektiveer en as ’n teoretiese probleem aan die orde gestel. Dit kan ingrypende gevolge hê.
Schlink wys daarop dat dit veral by die uitverkiesingsleer duidelik word. Doksologiese uitsprake oor die uitverkiesing wat in die Bybel voorkom en dus die karakter van “laaste uitsprake” dra, word so maklik in die dogmatiek tot “eerste uitsprake” gemaak, tot principia, waaruit logiese afleidings gemaak word.
Schwarzwäller (1970, 3 e.v.) skryf dat die dankbare belydenis van Gods verkiesing van genade in die geskiedenis baie dikwels in die dogmatiek geword het tot ’n metafisiese verklaring van die geheimenis van geloof en ongeloof. Ook Thielicke (1968, 558) wys daarop dat dit feitlik onmoontlik is om sinvol oor die uitverkiesing te praat as ’n mens jou vertrekpunt van “bo” neem, vanuit die ratio, inplaas daarvan dat jy daaroor “van onder af” dink, vanuit die boodskap van die verlossing uit genade.
Ons kan seker nie sê dat dogmatiese denke as sodanig noodwendig vir die regte verstaan van die uitverkiesing ’n bedreiging inhou nie. Wat egter wel ’n bedreiging inhou, is die objektiverende denke waarvan die skolastiek ’n voorbeeld is. Kenmerkend daarvan is dat dit beheers word deur die polariteit van subjek en objek in die nadenke oor die verhouding tussen God en mens. Dit gaan basies daarvan uit dat God en mens as konkurrente gedink word (De Moor: 1980, 67 e.v.). In die hantering van die uitverkiesing word die aandag gevolglik hoofsaaklik geboei deur die teoretiese probleem insake die aandeel wat God en mens onderskeidelik in die proses van redding neem. “Von dem, was dem Glauben im Evangelium rettend widerfährt, verschiebt sich das Interesse zu den theoretischen
56
Verhältnisbestimmungen zwischen dem, was Gott und was der Mensch zur Rettung beiträgt. Es entsteht das theoretische Problem der Verrechnung von göttlicher Gnade und menschlichen Willen, von göttlicher und menschlicher Kausalität im Ereignis der Rettung” (Schlink: 1961, 43-44). Die soewereiniteit van God en die vryheid van die mens word binne hierdie denkskema teenoor mekaar gestel en as mededingend verstaan. Die hele verhouding tussen God en mens word op hierdie wyse skeefgetrek. Indien die soewereiniteit van God gehandhaaf word, word die verantwoordelikheid van die mens ’n probleem, en indien aan die mens verantwoordelikheid toegeken word, moet dit in mindering gebring word op die soewereiniteit van God. Onder hierdie omstandighede moet die uitverkiesingsleer of deterministies of indeterministies uitval, al na gelang van die vraag of vir die soewereiniteit van God of vir die wilsvryheid van die mens gekies word. Die soort wilsvryheid wat binne hierdie kader aan die mens toegeken word, is egter ’n outonome vryheid wat in elk geval radikaal verskil van die vryheid wat die Gees skenk, waaroor dit in die Bybel gaan.
Omdat die gereformeerde ortodoksie tereg die Pelagiaanse idee van die vrye wil van die mens moes afwys, het daar binne hierdie denkraamwerk prakties net een moontlikheid oorgebly, en dit was om ’n voorstelling van die uitverkiesing te bied wat blootgestel is aan deterministiese misverstande, al is dit nie so bedoel nie (Weber. 1951, 13 e.v.).
Bybelse denkvorm
Teen hierdie agtergrond wil die resente gesprek oor die uitverkiesing doelbewus ’n ander weg gaan waarin die dogmatikus baie meer krities staan teenoor die soort rasionaliteit waarmee hy met die Skrif omgaan. Barth was daaroor uitgesproke dat hy die “biblische Denkform” as voorbeeldig vir die dogmatiese denke beskou (Schlichting 1971). Berkouwer het op sy eie wyse beklemtoon dat die teologie “binnen de grenzen der Schrift” moet bly (Jonker: 1973, 86 e.v.). Hoewel daar ’n wêreld van verskil tussen hulle dogmatiese metodes bestaan, is daar tog ’n gemeenskaplike ideaal: om ’n vorm van rasionaliteit in die dogmatiek te hanteer wat die struktuur van die Bybelse denke as normatief vir die dogmatiese denke aanvaar. Dit moet ’n soort denke wees wat heeltemal deur die saak waarom dit gaan beheers word (Torrance: 1969 en 1971), wat suiwer reseptief met die Bybelse spreke wil omgaan en daarom ook die tendens daarvan wil navolg.
Vir Barth het dit beteken dat hy ook in die uitverkiesingsleer radikaal vanuit Christus wou dink (Barth: 1946, 101 e.v.). Alleen so, meen hy, kan die uitverkiesing verstaan word as ’n boodskap van louter genade en vreugde. Die reformatoriese teologie het altyd geweet dat die uitverkiesing in Christus plaasgevind het. Luther en Calvyn het die mens in sy aanvegting op Christus gewys en Calvyn het beklemtoon dat Christus die spieël van ons uitverkiesing is (Inst. III, XXIV, 5). In die skolastieke denke van Beza, Perkins e.a. kon die uitverkiesing in Christus egter baie moeilik tot sy reg kom, met al die slegte gevolge wat dit vir die vraag na die sekerheid van die geloof gehad het (Graafland: 1977, 61 e.v.; Kendall: 1979, 29 e.v.). Barth is van oordeel dat die dogmatiek nie net die skolastieke denke hierin moet korrigeer nie, maar ook dieper moet deurstoot as Calvyn en die uitverkiesingsbesluit self Christologies moet verstaan.
57
Konkreet beteken dit dat Christus vir Barth nie net, soos vir Calvyn, die noëtiese kengrond van ons uitverkiesing is, soos die begrip “spieel” suggereer nie, maar die ontiese grond en fondament daarvan, omdat Hy die subjek en die objek van die uitverkiesing is. Agter Christus is daar geen onbekende dekreet nie, want Christus self is die geopenbaarde dekreet van God, sy duidelike Ja teenoor die mens. Jesus Christus is selfs die enigste Verkorene en die enigste Verworpene, sodat die dubbele predestinasie geen enkele bedreiging meer vir die mens inhou nie. Daar is geen gedagte van ’n simmetrie van Gods verkiesing en verwerping nie, want die verwerping het klaar plaasgevind en dit raak die mens nie meer nie. Alle mense mag die versekering gegee word dat hulle in Christus uitverkies is, dat God eens en vir altyd ten gunste van die mens beslis het, en dat dit tans slegs nog ’n onmoontlike moontlikheid is om soos ’n verworpene te lewe of te weier om in jou verkiesing te glo. So doem die verleidelike idee van die apokatastasis aan die rand van Barth se uitverkiesingsleer op.
Barth se visie het van alle kante kritiek uitgelok. Eksegeties is sy siening van Christus as die enigste Verkorene en Verworpene onverdedigbaar, en sy stelling dat Christus self die subjek sowel as die objek van die uitverkiesing is, is aanvegbaar. Daarby werk hy self ook met ’n totaalkonsep wat die Bybelse boodskap in ’n skema plaas wat wel anders daar uitsien as dié van die skolastiek, maar struktureel tog ook nog beweeg binne die suigkrag van die polariteitsdenke. Vandaar sy keuse vir die universalisme met as teenpool die onvermoë om aan die erns van die geloof en die beslissende betekenis van die prediking reg te laat geskied (Berkouwer: 1954, 258 e.v.; Weber: 1962, 526 e.v.; Kreck: 1978, 222 e.v.; Vogel: 1951, 946 e.v.).
Uitverkiesing en prediking
Die Bybel self gaan hierin juis ’n ander weg as Barth. In die Bybel is die uitverkiesing nie net ’n saak van vreugde en doksologie nie, maar dit relativeer ook nêrens die betekenis van die prediking nie, omdat dit sowel die inhoud van die prediking as die dryfveer daaragter is. Barth het daarin geslaag om aan die doksologiese element ruimte te bied en om die uitverkiesing in die prediking ter sprake te laat kom as ’n blye boodskap. Daarin is hy meer Bybels as diegene wat die uitverkiesing hoogstens as die verborge agtergrond van die prediking kan verstaan. Maar by Barth is die neiging tog om die uitverkiesing in die prediking slegs as die aankondiging van ’n objektiewe stand van sake te laat funksioneer. Barth se kritici wys graag daarop dat by hom die beslissing oor die mens reeds in Gods ewige besluit geval het, sodat daar in die prediking en die geloof geen beslissing meer kan val nie. Maar daarmee word juis afgewyk van die Bybelse denkvorm, waarvoor dit kenmerkend is dat dit die uitverkiesing nie op sodanige wyse objektiveer nie, maar dit juis ter sprake bring binne die konteks van Gods beloftes soos dit in die prediking verkondig word met die dringende bevel om te glo en aan die goeie boodskap gehoor te gee (Rom. 9-11). Kennelik is dit volgens die Bybel so dat die ewige beslissing van God en die beslissing van die mens in die geskiedenis op die allerinnigste wyse op mekaar betrek word. Die uitverkiesing sluit ook die menslike geloof as gawe en opgawe in, sodat uitverkiesing en geloof in die reël nie los van mekaar gedink kan word nie.
58
Dit is wel die vraag of Barth altyd reg verstaan word deur sy kritici. Veral die kritiek dat alles volgens Barth reeds in die ewigheid plaasgevind het en dat daar dus niks meer beslissends in die tyd kan gebeur nie, hou miskien nie genoegsaam rekening met Barth se visie op die verhouding tussen ewigheid en tyd nie. Die idealistiese denkkader van Barth maak dit vir hom moontlik om ewigheid en tyd op sodanige wyse inmekaar te dink, dat hy homself nie deur hierdie kritiek geraak voel nie. Ook moet Barth se afwysing van die apokatastatis ernstig opgeneem word, ook al lyk dit asof sy totale konstruksie so ’n ontkenning onmoontlik maak. Blykbaar is dit tog die bedoeling van Barth om aan die uitverkiesing in Christus eerder in aktuele en dinamiese terme te dink, as in statiese terme, waardeur dit ’n blote stand van sake sou word. Daardeur wil hy, ondanks die feit dat dit onlogies lyk, tog daaraan vashou dat ons in die uitverkiesing te make het met ’n oop situasie waarin die lewende God deur die krag van die Gees met lewende mense handel in ’n ontmoeting waarin sy vryheid en hulle vryheid tot verwesenliking kom (KD II/2, 466 e.v.; Vermeulen: 1986, 169 e.v.).
Nogtans is dit duidelik dat Barth misverstande opwek wat gevare vir die prediking inhou. Hy kan die prediking nie meer as heilsmiddel verstaan nie. Berkouwer het daarop gewys dat wat Barth oor die oop situasie van die prediking sê, eintlik nie kan funksioneer binne sy universalistiese konsep, waarvolgens almal in Christus uitverkies is en die ongeloof tot ontiese onmoontlikheid geword het nie (1955, 281).
Berkouwer se eie visie op die Bybelse denkvorm het hom daartoe gelei om te breek met die polariteitsdenke en uit te gaan van die basiese konsep van die korrelasie tussen Gods genade en die menslike geloof. Vir sy siening van die uitverkiesing beteken dit nie net dat Berkouwer homself opstel teenoor alle rasionalistiese konstruksies nie, maar ook dat hy daarvan uitgaan dat die geheimenis van die uitverkiesing slegs verstaan kan word vanuit die geloof, en dat die Bybelse uitsprake oor die uitverkiesing ook deurgaans betrokke is op die geloof.
Dit beteken vir hom dat die ewige uitverkiesing en die menslike geloofsbeslissing in die tyd nie teenoor mekaar staan nie, maar op sodanige wyse op mekaar betrokke is, dat God sy ewige heilsplan voltrek deur die mens te bevry tot die beslissing van die geloof as volkome gerigtheid op Gods genade alleen. Berkouwer benader die uitverkiesing pneumatologies. Gods vrye en genadige verkiesing word op sodanige wyse in die geskiedenis voltrek, dat die lewende en kragtige Woord van God deur middel van die prediking lewe te voorskyn roep uit die dood en die gawe van die geloof skenk waar en wanneer dit God behaag. Uitverkiesing en regverdiging word so op ’n innige wyse verbind. Om daaraan reg te laat geskied, lê Berkouwer net soos verskeie ander deelnemers aan die huidige gesprek rondom die uitverkiesing klem op die innige verbinding tussen uitverkiesing en prediking.
Die raad van God
Die gedagte hieragter is dat die Bybelse verkondiging aangaande die uitverkiesing nie die raad van God as uitgangspunt neem om vandaar uit ‘n totaalvisie te bied oor wat in die tyd gebeur nie, maar daaroor praat in verband met die konkrete dade
59
van God in die geskiedenis. Dit geld selfs vir die bekende Rom. 9-11 wat as die locus classicus van die dogmatiese uitverkiesingsleer funksioneer. Dit is een van die fokuspunte van die resente-gesprek oor die uitverkiesing dat die tradisionele predestinasiaanse eksegese van hierdie gedeelte getemper is deur die insig in die heilshistoriese karakter daarvan (Ridderbos: 1951, 203 c.v.; 1966: 380 e.v.; Venema: 1965, 99 e.v.; Douma: 1966, 289).
By alle kritiek wat teen Woelderink ingebring kan word, is dit tog duidelik die element van waarheid wat hy na vore wou bring (1951). Hy wou die aandag bepaal by wat hy die waarheid en Van Ruler die werklikheid van die uitverkiesing noem, in teenstelling tot die uitverkiesing as idee wat so maklik die prediking en die volle rykdom van die Christelike boodskap kan doodbrand. Van Ruler herinner aan die paradoksale woord van Noordmans: “God neemt z’n eeuwige besluiten op het allerlaatste ogenblik”, en hy verklaar dat die ewige uitverkiesing en verwerping in die geskiedende werklikheid van die lewende eksistensie en van die verkondigte evangelie voltrek word (1971, 104 c.v.).
Die bedoeling van die klem op die werklikheid van die uitverkiesing in die geskiedenis van Gods omgang met sy volk is uiteraard nie om dit van die raad van God los te maak nie. Die konsep “raad van God” word egter meer as tevore verstaan as Gods heilsplan tot redding van die wêreld wat in sonde geval het, ’n heilsplan wat in Christus geopenbaar is en deur God self aktief en handelend uitgevoer word (Ridderbos: 1966, 385 e.v.; Schrenck: TWNT 1, 631 e.v.). Algemeen word gesê dat dit onmoontlik is om oor die raad van God buite Christus om te praat en dit los te maak van die lewende, handelende, besluitende God self (Bavinck: 1928 II, 334; Van Genderen: 1969, 107). Die uitverkiesing is Gods ewige voorneme in Christus. Dat dit aan die raad van God verbind word, beteken dat die soewereine en vrymagtige karakter van die heil, sowel as die onwrikbare vastheid daarvan beklemtoon word, en dit het met determinisme niks te make nie (Ridderbos: 1966, 385; Venema: 1965, 150).
Dat die raad van God ewig is en die uitverkiesing dus ook ’n ewige uitverkiesing kan heet en ’n uitverkiesing voor die skepping van die wêreld, moet nie op die plat vlak van ons temporele denke vasgepen word en gevolglik net verstaan word as iets wat “lank gelede gebeur het nie. Gods ewigheid lê nie net voor die tyd nie, maar dit omvat ook die tyd en moet daarom ook as Gods aktuele en werksame teenwoordigheid in die geskiedenis gedink word, al is dit voortydelik, botydelik en natydelik (König: 1975, 163 e.v.). Gods ewigheid beteken ook dat Hy in die tyd die Here van die tyd is (Weber: 1962, 507).
Gods voorneme in Christus is verbonde aan die preëksistente Christus en dit gaan daarom uiteraard temporeel aan ons tyd vooraf. Maar omdat dit ’n voorneme in Christus is, en Christus die Here van die geskiedenis is wat in die verkondiging teenwoordig is en deur sy Gees en Woord die geloof in ons werk, moet ewigheid en tyd nie teenoor mekaar gestel word nie. Deur die Heilige Gees is die ewigheid midde in die tyd aanwesig oral waar Christus verkondig word. In die dimensie van die Gees is die ewige uitverkiesing ook ’n geskiedende werklikheid in die hede van die verkondiging (Jewett: 1985, 109 e.v.; Weber: 1951; Van der Zanden: 1949, 15 c.v.). As Bavinck gelyk het dat ons in die raad van God te make het met die lewende, handelende en besluitende God self, kan vanuit die gesigspunt van die
60
prediking gepraat word van ’n situasie waarin die lewende God volgens sy raad handel in genade en gerig, sodat ons nie skeiding kan maak tussen die ewige besluit van God en sy lewende teenwoordigheid hier en nou nie (Bavinck: 1930, IV, 5).
Prediking as toets
In die jongste tyd word dikwels gesê dat die geslaagdheid van die dogmatiese uitverkiesingsleer getoets kan word aan die vraag of dit daartoe meewerk dat die uitverkiesing in die prediking ter sprake gebring kan word – iets wat sowel Calvyn as Kuyper ernstig bepleit het (Inst. III, XXI, 3; Kuyper: 1893, II, 159 e.v.). Daaraan kan toegevoeg word dat die uitverkiesingsleer self ook getoets moet word aan die vraag of dit daartoe meewerk dat die uitverkiesing op dieselfde wyse as in die Skrif in die prediking ter sprake kan kom, d.w.s. as lof op Gods genade, maar ook as dringende appèl en waarskuwing – soos bv. in Rom. 9-11.
Die uitverkiesing word dikwels in die prediking verswyg omdat die skolastieke hantering daarvan dit onpreekbaar gemaak het. Dit het die uitverkiesing op ’n manier ter sprake gebring wat nie ruimte het vir die ryke geskakeerdheid en genuanseerdheid van die Bybelse boodskap oor uitverkiesing en verwerping nie. Dit het uitgegaan van die verborge verkiesingsdekreet en hoofsaaklik gekonsentreer op die uitverkiesing van die enkeling. Binne hierdie opset word dit dan baie moeilik om die doksologiese uitsprake van die Bybel oor die uitverkiesing van die gemeente in Christus tot sy reg te laat kom, en moet daar noodwendig probleme ontstaan met die beweeglike wyse waarop Paulus bv. in Rom. 9-11 oor verkiesing en verwerping praat.
Maar omgekeerd geld dieselfde ook vir die universalistiese skema van Barth: hy kan op sy beurt weer onmoontlik nie meer reg laat geskied aan die finale erns waarmee die Bybel oor skuld en verwerping praat nie, terwyl die spesifieke wyse waarop die Bybel oor die uitverkiesing van die enkeling praat, by hom ’n verskraalde inhoud ontvang. In albei gevalle kom die unieke sin van die prediking in ’n bepaalde opsig in die gedrang.
Die geskiedenis laat ons verskillende pogings sien om weg te kom van ’n aprioriese verkiesingsidee wat op gespanne voet met die prediking te staan kom. ’n Mens dink hier aan die gedagte dat die uitverkiesing liewer eers aposteriori ter sprake gebring moet word, om ruimte te kan maak vir die prediking in al sy erns (De Cock: 1868). Ons kan ook dink aan die infralapsarisme wat teenoor die supralapsarisme die uitverkiesing liewer ter sprake wou bring in verband met die menslike sonde en skuld, sodat dit beskerm kon word teen sulke idees as willekeur by God en die ignorering van die menslike verantwoordelikheid (Veenhof: 1959, 103 e.v., Warfield: 1977, 25 e.v.).
Afwysing van parallellie
In die resente diskussie het die oortuiging egter gegroei dat albei hierdie pogings nie die probleme rondom die verhouding van uitverkiesing en prediking bevredigend kan oplos, solank daarin nog nie werklik gebreek word met die voorstellingswêreld van die skolastiek waarin die parallellie van uitverkiesing en verwerping gehandhaaf
61
word nie. Die probleem is daarby nie dat van God bely word dat Hy vrymagtig verkies en verwerp nie. Dit is die duidelike leer van die Bybel en kan en moet gepreek word. Die probleem kom wanneer uitverkiesing en verwerping op ’n simmetriese wyse as ewige dade van God verstaan en naas mekaar gestel word (Althaus: 1952, 625). Hierdie voorstelling funksioneer onafwendbaar as ’n soort voorbehoud met betrekking tot die prediking van die heil en die oproep tot geloof. Dit laat onmiddellik die vraag by die hoorder opkom of die beloftes wat verkondig word, ook vir hom bedoel is. Hy moet dan eers langs die weg van sy ervaring subjektief vasstel of hy uitverkies is, voordat hy op die beloftes van die verkondiging mag vertrou.
Vir die prediking (en trouens vir die geestelike lewe as sodanig) is dit van absolute belang om te weet dat ons met die lewende God self te make het en dat die beloftes van sy Woord, wat binne die verbondskring bowendien ook nog deur die sakramente aan ons beseël word, werklik ernstig vir ons bedoel is en dat ons gebied word om daarop te vertrou. Die beloftes kom tot ons op gesag van die God van die Bybel wat die barmhartige is, die genade, wat nooit die dood van die sondaar wil nie, maar sy hande die hele dag uitbrei na ’n hardnekkige volk – en dus ook na ons (Rom. 10:21). Juis die feit dat die prediking die versekering gee dat die verlossing kragtens Gods verkiesende liefde enkel uit genade is en dat daardie genade ook vir die grootste sondaar langs die weg van die geloof die ewige verlossing beteken, moet die drangrede wees om mense op te roep tot geloof en moet hulle ook die moed gee om die beloftes te glo (Bavinck: 1930, II, 365-366).
Die Bybel leer ons dat niemand na Christus kom as die Vader hom nie trek nie. Die geloof is ’n gawe van God. Daaruit mag ons egter nie konkludeer dat dit dus Gods skuld is as iemand nie in Christus glo nie. Die Bybel doen dit nie, en die dogmatiese denke moet dit ook nie doen nie. Die dogmatiese denke het dit altyd uitdruklik ontken, maar binne die skolastieke raamwerk dreig die gevaar altyd weer dat uitverkiesing en verwerping in ’n sluitende en logiese sisteem as die twee kante van dieselfde medalje verbind word. Dit is betekenisvol dat die Dordtse Leerreëls inkonsekwent kan wees en die parallellie van uitverkiesing en verwerping op beslissende punte deurbreek.
Hierdie afwysing van logiese konsekwensies is kenmerkend vir die wyse waarop in die jongste tyd liewer oor die uitverkiesing gepraat word. So sê ook Heyns (1978, 89) en Wentsel (1982, 180, 195) dat dit beter is om nie van dubbele predestinasie te praat nie. Ondanks die kritiese opmerkings wat Kamphuis daaroor aan Heyns se adres rig, moet die intensie van Heyns en andere daarby in aanmerking geneem word (Kamphuis: 1982, 32). Die vraag is natuurlik wat met die term dubbele predestinasie bedoel word. Wanneer daarmee bedoel word dat ons nie kan bly staan by ’n praedestinatio simplex nie, maar ook moet vashou aan die werklikheid van die verwerping as daad van God (Vogel: 1951, 946); of as dit hanteer word om te sê dat dit van ons uit onmoontlik is om te verklaar waarom God aan die een wel die gawe van die geloof gee en aan die ander nie, of as dit hanteer word om te sê dat ook die menslike ongeloof en die reaksie van God daarop nie buite die raad van God omgaan nie, maar selfs daarin gegrond is, kan die term uiteraard verdedig word. Dan lê dit op die vlak van Augustinus se woord dat die kwaad contra, sed non praeter voluntatem Dei is. Die vraag is egter of die misverstand wat die term
62
dubbele predestinasie opwek asof God op dieselfde wyse die ongeloof en verharding as die geloof en die bekering gepredestineer het, hierdie soort terminologie nie ongewens maak nie. Dit gaan vir Heyns en Wentsel nie om die ontkenning van die vrymag van God in die verwerping nie, maar om ’n soeke na dogmatiese taal wat so naby as moontlik aansluit by die wyse waarop die Bybel self praat (Wentsel: 1982, 180).
Dit is vir ’n jonger geslag gereformeerde teoloë baie belangrik om te beklemtoon dat Gods hantering en regering oor die kwaad geensins verstaan mag word as sy veroorsaking of bewerking van die kwaad nie. Die vrymagtige karakter van Gods uitverkiesing het niks te doen met ’n willekeurige en determinerende voorbeskikking van ongeloof en verharding nie. Die skuld van die ongeloof en die daaropvolgende verharding van die mens deur God moet nêrens anders gesoek word as by die mens self nie. By God staan die verwerping en die verbygaan aan mense in hulle sonde, of selfs ook die oorgee van mense in hulle eie goddeloosheid nooit los van die menslike skuld nie. En selfs daarin is God nog steeds besig om op ’n sinvolle wyse oor die kwaad te regeer. Noordmans (1979, 127) merk tereg op dat ’n meer omvattende en deurdringende oordeel as dié waaroor ons beskik, die hoë sedelikheid van Gods predestinasie sou a ontdek.
Kerugmatiese universaliteit
Die afwysing van die parallelliteit hang ten nouste ook saam met die oortuiging dat die verstaan van die uitverkiesing geensins die universele betekenis van die versoening in Christus en die noodsaak van ’n universele verkondiging van die heil in die gedrang mag bring nie. Dit is daarom ongewens om die gereformeerde opvatting van die versoening te tipeer as dié van beperkte versoening (“limited atonement”), soos dit veral in Amerikaanse Calvinistiese kringe dikwels gebeur. Reeds Bavinck het daarop gewys dat ’n mens die verskilpunt waaroor dit tussen Gereformeerdes en Arminiane gegaan het, onjuis of altans onvolledig weergee as dit uitsluitend geformuleer word in die vraag of Christus vir alle mense of slegs vir die uitverkorenes gesterf het (Bavinck: 1930, III, 463). Wat Dordt doen, is om teenoor die Remonstrante te bely dat Christus nie maar net vir alle mense die moontlikheid verkry het om gered te word nie, maar dat Hy die uitverkorenes werklik met God versoen het (Bavinck: 1929, III, 463).
Vir die Gereformeerdes het dit daarom gegaan dat hulle die Remonstrantse opvatting wou afsny dat die algemene moontlikheid om gered te word, eers deur die mens se geloof tot ’n werklikheid gemaak word. Dit sou nie net te kort doen aan die werk van Christus nie, maar ook die aard van die korrelasie tussen geloof en heil skeeftrek, omdat die geloof so ’n kreatiewe funksie verkry. Daarom bely Dordt dat die lewendmakende krag van die dood van Christus slegs die uitverkorenes ten goede sal kom en dat slegs aan hulle die gawe van die geloof geskenk sal word (DL II, 8). Nogtans word daarnaas die genoegsaamheid van die offer van Christus gehandhaaf (DL II, 3). Dit skep ruimte vir die universaliteit van die verkondiging aan alle mense, maar hou terselfdertyd daaraan vas dat die boodskap van hierdie versoening gerig is op die geloof, en dat die versoening in Christus slegs effektief is waar dit in geloof aanvaar word (Berkouwer: 1955, 282; A.C. de Jong: 1954, 107 e.v.; P.Y. de Jong: 1968, 130 e.v.).
63
Vir die prediking is dit verskriklik belangrik, omdat ook die idee van ’n beperkte versoening, net soos die idee van die dubbele predestinasie, die vraag laat ontstaan of die heilsbeloftes eenvoudig in die geloof vertrou kan word, en of ons eers langs ’n andere weg die versekering moet probeer verkry dat ons uitverkies is en dat Christus dus ook vir ons gesterf het. Die kerugmatiese universaliteit van Dordt wil juis hierdie gevaar afsny en die versekering gee dat elke hoorder met vrymoedigheid die beloftes mag aangryp, omdat God waaragtig geen slag om die arm het nie, maar sal doen wat Hy beloof het (DL III/IV, 8). Daarmee verbind dit die partikulariteit van die genade en die universaliteit van die evangelie. Albei moet gelyktydig vasgehou word (Warfield: 1977, 98).
Die resente gesprek rondom die uitverkiesing het nie tot een of ander oplossing van die probleme gelei waarmee ons hier vir ons denke te make het nie. Dit geld ook vir die poging om uitverkiesing en prediking so nou op mekaar te betrek. Dit het egter wel daartoe gelei dat ons versigtiger geword het vir die skolastieke rasionaliteit en gewilliger is om halt te hou voor die grense van die Skrif. Hopelik lei dit ook daartoe dat ons beter sal verstaan dat die belydenis van die uitverkiesing werklik die boodskap van Gods onverdiende genade onderstreep, en dat dit daarom vir ons ’n bron is van troos en krag, nederigheid en ootmoed, vertroue en beslistheid, want, soos Bavinck (1930, 11, 366) sê: “De zaligheid des mensen ligt onwankelbaar vast in het genadige en almachtige welbehagen Gods.”
Literatuurlys
Althaus, P 1952. Die Christliche Wahrheit. Gütersloh: Bertelsmann.
Barth, K 1946. Kirchliche Dogmatik 11/2 Zürich: EVZ.
Baker, Alvin L 1981. Berkouwer ‘s Doctrine of Election. Philadelphia: Presb. and Ref.
Bavinck, H 1928-1930. Gereformeerde Dogmatiek II-IV. Kampen: Kok.
Berkouwer, G C 1954, De triomf der genade in de theologie van Karl Barth. Kampen: Kok.
Berkouwer, G C 1955. De Verkiezing Gods. Kampen: Kok.
Berkouwer, G C 1974. Een halve eeuw theologie. Kampen: Kok.
De Cock, H 1868. Is de leer der absolute predestinatie uitgangspunt of resultaat van de leer der Gereformeerde Kerk? Kampen: Kok.
De Jong, A C 1954. The Well-Meant Gospel Offer. Franeker: Wever.
De Jong, P Y 1968. “Preaching and the Synod of Dort” in: De Jong (ed): Crisis in the Reformed Churches, 115 cv. Grand Rapids: Ref. Fellowship.
Graafland, C 1977. De zekerheid van het geloof. Amsterdam: Ton Bolland.
Heyns, J A 1978. Dogmatiek, Pretoria: NGKB.
Jewett, Paul K. 1985. Election and Predestination. Grand Rapids: Eerdmans.
Jonker, W D 1973, “Dogmatiek en Heilige Skrif.” in: “Septuagesimo Anno” Kampen: Kok.
Kamphuis, J 1982. Aantekeningen bij J.A. Heyns Dogmatiek. Kampen: Van den Berg
Kendall, R T 1979, Calvin and English Calvinism to 1649, New York: OUP
Kickel, W 1967. Vernunft und Offenbarung bei Theodor Beza. Neukirchen: Neukirchener Verlag
König, A 1975. Hier is Ek! Pretoria: NGKB.
Krock, W 1978. Grundentscheidungen in Karl Barths Dogmatik. Neukirchen: Neukirchener Verlag.
Kuyper, A 1893. E Voto Dordraceno II. Amsterdam: Wormser.
Neuser, W 1980. “Dogma und Bekenntnis in der Reformation” in: Carl Andresen (hrsg): Handbuch der Dogmen- und Theologiegeschichte II, 167 e.v. Göttingen: V&R.
Noordmans, O 1979. “Predestinatie” in Verzamelde Werken II, 124 e.v. Kampen: Kok.
Ridderbos, H N 1959. Aan de Romeinen. CNT. Kampen: Kok.
Ridderbos, H N 1966. Paulus. Kampen: Kok.
Schlichting. W. 1971. Biblische Denkform in der Dogmatik. Zürich: TVZ.
Schlink, E 1961. “Der Struktur der dogmatischen Aussage als ökumenisches Problem” in: Der kommende Christus und die kirchlichen Traditionen”, 25 s.v. Göttingen: V&R.Schrenck, G 1933. Artikels: “Boule en Boulema” in TWNT I, 631 ev. Stuttgart: Kohlhammer.
Schwarzwäller, K 1970. Das Gotteslob der angefochenen Gemeinde. Neukirchen: Neukirchener Verlag.
Thielicke, H 1968. Der evangelische Glaube I. Tübingen: Mohr.
Torrance, T F 1969. Theological Science. London: OUP.
Torrance, T F 1971. God and Rationality. London: OUP.
Van der Zanden, L 1949. Praedestinatie. Kampen: Kok.
Van Genderen, J 1969. “Roeping en Verkiezing” in: Woord en Kerk. Amsterdam: Ton Bolland.
Van Ruler, A A 1971. “Ultra-gereformeerd en vrijzinnig” in: Theologisch Werk III, 98 e.v. Nijkerk, Callenbach
Van Til, C 1975. The Sovereignty of Grace. Philadelphia: Presb. and Ref.
Veenhof, C 1959. Prediking en Uitverkiezing. Kampen: Kok.
Venema, H 1965. Uitverkiezen en Uitverkiezing in het Nieuwe Testament. Kampen: Kok
Vermeulen, C 1986. Cor Ecclesiae. Een onderzoek naar de pneumatologische consequenties van Karl Barths verkiezingsleer in het geheel van zijn Kirchliche Dogmatik: Proefskrif, Rijksuniversiteit Utrecht.
Warfield, B B 1977. The Plan of Salvation Grand Rapids: Eerdmans.
Weber, O 1951. “Die Lehre von las Erwählung und die Verkündigung” in: Die Predige von der Gnadenwahl: Th Ex. H. NF 28, 1951. München: Chr. Kaiser Verlag.
Weber, o 1962. Grundlagen der Dogmatik II. Neukirchen: Neukirchener Verlag
Woelderink, J G 1951. De Uitverkiezing. Delft: Van Keulen.
Wentsel, B 1982. De openbaring, het verbond en de apriori’s. Dogmatiek deel 2. Kampen: Kok