Rol van die kerk

ROL VAN DIE KERK
(Sien ook 18 November 1989)
Die Burger, 14 Mei 1988, bladsy 8

In hierdie Pinkstertyd is dit goed om te besef dat die kerk sekerlik nie daar is om te dien as ’n instelling vir die religieuse bevestiging van die opvattings wat buitendien al in die samelewing bestaan nie. Van die vroegste eeue af was een van die versoekings wat die kerk altyd weer bedreig het dat hy makgemaak sou word, en dan maar net soos die heidense godsdienste van vroeër, die bestaande orde van die dinge godsdienstig sou seën en bevestig.

Dit sou die Romeinse Ryk graag sien gebeur. Daar is egter sedertdien seker geen samelewing en geen staat wat nie heimlik of openlik tog maar op hul gelukkigste is met ’n kerk wat so gelykgeskakel is met die heersende kultuur, politiek en moraal dat dit wel aan alles nog die skyn van ordentlikheid gee, maar geen ware kritiek meer daarteen kan inbring of die noodsaak van bekering en ’n ingrypende lewensverandering kan verkondig nie.

Daar is waarheid in die beskuldiginge wat in ons tyd aan die adres van die kerk in alle lande gerig word. Sosioloë wys daarop hoe die Amerikaanse kerke in groot mate maar net die “American way of life” onderskraag. Selfs in hul boodskap van bekering is hulle so aangepas by die individualisme en suksesmoraal van die welvaartstaat dat hulle nie eens meer die kontoere van die sonde duidelik kan onderskei nie. En sal dit by ons dan anders wees?

Elke kerkgemeenskap in die land moet homself in hierdie Pinkstertyd afvra of hy nog beantwoord aan die bedoeling van die Gees wat die kerk toegerus het met die krag om getuies van die verlossende genade van God in Christus te wees. Die kerk se doel kan nie wees om die bestaande te bevestig nie, maar om as instrument van die Koninkryk juis bekering en vernuwing te verkondig wat, as God se seën daarby is, werklik ’n hele samelewing kan omkeer en tot berou oor sonde kan bring.

Ons moet dit net nie verkeerd verstaan asof die kerk maar net ’n ander stel politieke, kulturele en maatskaplike ideale moet propageer en sanksioneer nie. Baie is wel skerp krities teen die huidige gelykskakeling van die kerk, maar beywer hulself net vir ’n nuwe vorm van gelykskakeling daarvan met die wêreld. Dit is te min, en net nog gevaarliker as mense meen dat die nuwe aanpassing gelyk sal wees aan die koms van die Koninkryk.

Die kerk is nie ’n instrument vir diens aan menslike ideale nie. As die kerk nog kerk is, is dit instrument van die radikale vernuwing wat die Gees van God wil bring, en dit staan haaks op ons sondige wêreld omdat dit nie net nuwe ideale vra nie, maar ’n nuwe hart. Daarom mag die kerk homself nooit so laat inkapsel in enige maatskaplike stelsel dat hy sy kritiese afstand daarteenoor verloor en sy roeping tot getuienis verwaarloos en prysgee nie. – WDJ