Kyk weg van jouself

KYK WEG VAN JOUSELF
Die Burger, 18 Junie 1988, bladsy 8

Baie Christene worstel met die probleem van geloofsekerheid. Hulle ken die evangelie van Gods genade in Christus. Hulle weet dat elkeen wat in Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Tog bly hulle maar twyfel, omdat hulle hierdie belofte van Johannes 3:16 verkeerd verstaan.

Hulle verstaan dit asof dit beteken dat God die verlossing deur die versoening in Christus vir ons berei het, maar dat dit nou van ons afhang of ons daardie verlossing wil aanvaar of nie. Hulle sien die geloof dus as ons kant wat ons moet bring om gered te kan word. God het reeds sy kant gebring, maar in die geloof moet ons nou ook ons kant bring. Dit is ons deel wat ons moet doen om gered te kan word. Eers as ek my kant gebring het, kan ek seker wees dat ek gered is.

Maar hierdie opvatting bring mee dat hulle maar nie tot sekerheid kan kom nie of dat hulle telkens weer in nuwe onsekerheid verval. Want hulle word telkens weer aangeval deur die vraag of hulle regtig goed genoeg glo; of hulle regtig ernstig genoeg was toe hulle Jesus aangeneem het; of hulle regtig hul kant goed genoeg gebring het.

Sonde en onreinheid in hul lewe laat hulle die vraag stel of ’n mens wat nog sulke dinge doen, werklik ’n gelowige kan wees. Die duiwel sal ons ook graag vertel dat ’n mens net gered kan word as jy werklik opreg glo, as jy ’n sterk geloof het. Ook vestig hy ons aandag daarop dat ons geloof maar baie swak is en dat daar nog so baie sonde in ons lewe is. As ons na binne kyk, is daar ’n oorvloed van redes waarom ons daaraan moet twyfel of ons regtig in erns glo. Maar is ons dan werklik gered?

Solank ons op hierdie wyse na Johannes 3:16 kyk, sal ons nooit tot sekerheid kan kom nie. Die fout is dat geloof so verstaan word as die menslike kant wat gebring moet word om gered te word. Maar dan word ons sekerheid afhanklik van die vraag of ons geloof en oorgawe aan Christus regtig eg is, of ons ons kant goed genoeg gebring het. En dan bly ons twyfel.

Maar dit is nie hoe ons dit moet verstaan nie. Die grond van ons sekerheid kan nie die egtheid van ons geloof wees nie. Net Jesus is die grond van ons sekerheid, soos Hy die grond van ons verlossing is. Ons word gered omdat Jesus vir ons gesterf het, nie omdat ons glo nie. Ons geloof is nie die menslike kant wat gebring moet word om die redding eers werklik te maak nie. Geloof is eenvoudig die vertroue dat Jesus ons reeds gered het.

As enigiets in ons, selfs ons geloof of die erns daarvan die grond van ons sekerheid moet wees, sal ons altyd bly twyfel. Niks in ons, selfs nie eens ons geloof red ons nie, net Jesus.

Kyk dus weg van jouself af na Jesus. Juis die feit dat jy dit doen, is jou geloof. In Christus is al Gods beloftes ja en amen. Wees daarvan verseker dat Christus se genade volkome genoeg is – ook vir jou ongeloof. – WDJ