GODS WET BEWAAR DIE LEWE
Die Burger, 25 Junie 1988, bladsy 10
Ons leef in ’n permissiewe tyd. Dit is die uitvloeisel van ’n eeue-lange ontwikkeling in die Westerse beskawing waarin die mens homself meer en meer van die bindinge aan die morele waardes van die Bybel losgemaak het. Die moderne mens voel geëmansipeerd, mondig, baas oor sy eie lewe om vir homself uit te maak wat reg en verkeerd is.
Die gevolg is dat die morele bindinge van die verlede, wat in groot mate tog die neerslag was van die invloed wat die Bybel op die sedes van die Westerse volkere gehad het, as ouderwets en preuts beskou word. Dit knel die lewe onnodig en beroof ’n mens van die vryheid wat volgens die moderne mens deel van sy ware erfenis as mens is.
Een van die terreine waarop hierdie soort opvattings die kragtigste deurgewerk het, is die terrein van die seksuele moraal. Die huwelik is as instelling afgetakel tot op die punt waar die aandele daarvan vandag in bepaalde kringe maar baie laag is.
Vir ’n tyd lank het egskeidings eers hoogty gevier en die huwelik van sy blywende en bindende karakter beroof. Vandag is dit so ver dat baie mense nie eens meer trou nie. Waarom al die wetlike beslommernis? Hulle woon saam en gaan dan weer weg van mekaar sonder om te dink dat dit enigsins sonde voor God is.
Tog moet ons nie dink dat die wet van God kragteloos gemaak kan word deur ons menslike skending en veronagsaming daarvan nie. Die verwerping van die kuisheid van die huweliksmoraal, wreek homself vandag op ’n gruwelike en ontstellende wyse in die verskynsel van vigs. Skielik moet die wêreld toegee – ook diegene wat geen respek vir die Bybel of die wet van God het nie – dat seksuele losbandigheid indruis teen ’n lewenswet en daarom gevaarlik is.
Dit is ironies dat dit vandag nie die kerk is nie, maar die mediese wetenskap wat beroepe op die samelewing doen om seksuele kuisheid te beoefen. Die kerk se stem word klaarblyklik al lank nie meer gehoor nie, maar hierdie oproepe word vandag gehoor omdat dit opklink teen die agtergrond van die dreigende gevaar dat groot dele van die bevolking ten prooi kan val van hierdie pes wat in die donker wandel.
Die voorbeeld van seksuele losbandigheid kan ons leer dat dieselfde beginsel ook geld vir al die gebooie van God. Gods gebooie is gebooie ten lewe, omdat dit die lewe beskerm. Wie dit verwerp, gaan ’n weg van vernietiging en dood.
Dit sou ook verduidelik kon word aan die hand van ons ekonomiese moraal. Die matelose selfsug en hebsug wat die stukrag agter die Westerse ekonomie was en is, sal uiteindelik nie minder vernietigend blyk te wees as die verwaarlosing van die seksuele moraal nie. In ’n ander sin kan ’n mens ook hier maar net sê: Die Bybel het tog gelyk. – WDJ