Ons teologie op breuklyn

ONS TEOLOGIE OP BREUKLYN TUSSEN TWEE WÊRELDE …
Beeld, Dinsdag 28 Junie 1988
Deur ELSA KRÜGER

“Ons is geroepe om die teologie op die breuklyn tussen die Eerste en die Derde Wêreld te beoefen.” Suid-Afrika moet die moed hê om homself vryer van Europa op te stel en om streng selfkrities in sy eie konteks met die teologie besig te wees, sê prof. Willie Jonker van die teologiese kweekskool op Stellenbosch.

Hy het op die jaarvergadering van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns op Potchefstroom oor Suid-Afrika se verbondenheid met Europa ten opsigte van die teologie gepraat.

Sy referaat het heelwat reaksie uitgelok in die bespreking wat daarop gevolg het, veral ten opsigte van hoe Suid-Afrikaanse teoloë vroeër probeer het om ons rassebeleid te regverdig.

Dat die selfkritiek fel was, blyk uit wat prof. J.L. (Koekjan) de Villiers agterna gesê het: Hy het self by sulke vergaderings gesit en gehoor hoe hoogeerwaardes in die teologie met die verskeidenheidsgedagte omgaan, selfs hoe Babelse verwarring bygesleep is daarvoor. Hy het onder groot gelag vertel hoe een geleerde toe ontdek het hy het ’n fout gemaak, want die sondvloed was ná Babel en het toe die verskeidenheid uitgewis.

Hy het verwys na hoe die Bybelse woorde “in die huis van my Vader is daar baie wonings” op ’n tyd ook ingespan is om lig op die apartheidsbeleid te werp.

“Hoe het ons eksegete in hul swakheid geworstel oor wat die Bybel van rasseverhoudinge, die beleid van apartheid, sê. Maar die teologie sê jy moet aan die Skrif reg laat geskied.

“Ons het gekke van onsself gemaak soos ons met die Skrif tekere gegaan het om ons rassebeleid te regverdig.”

In sy referaat het prof. Jonker gewys op ‘n sekere tweespalt in die Suid-Afrikaanse teologie: “Ons staan voor die uitdaging om in spesifieke situasies as mense wat gedrenk is in die Europese tradisie, maar wat tog intussen mense van Afrika geword het, die Bybel in ons situasie te verstaan en vertolk. Hier woon ons en werk ons, dink ons en bid ons. In ons land stuit die uiterste gesofistikeerdheid van die Europese mens op die mens van Afrika met sy totaal ander tradisie.

“Ons sal moet besef ons moet onsself vryer en selfstandiger teenoor Europa opstel. Ons hoef ons nie los te maak van die insig in die waarheid oor die eeue heen nie, maar ons moet besef dat die tyd verby is dat ons die teologie van bepaalde kerke in Europa eenvoudig kon navolg.”

Hy voorsien nie dat die spanning tussen Suid-Afrika en Europa in die toekoms sal afneem nie. Die teologie in Suid-Afrika sal homself moet afvra hoe hy homself moet verstaan, glo hy.

In ’n historiese oorsig oor die Suid-Afrikaanse teologie se verbondenheid met en vervreemding van Europa het prof. Jonker gesê vanuit die oogpunt van die buitewêreld is die teologie van die Afrikaanse kerke te onkrities, te naïef wat die ideologiese vooringenomenhede van ons denke betref. Dit is te veel georiënteer aan ’n periode uit die geestesgeskiedenis wat verby is.

“Menige buitelandse teoloog sal nie graag wil twyfel aan ons persoonlike geloof en goeie bedoelinge nie, maar oor die intellektuele redelikheid en kritiese karakter van ons teologie het hy bedenkinge.”

Dit het in die na-oorlogse Europa ondenkbaar geraak dat teologies gedink en geredeneer kan word soos wat in die Suid-Afrikaanse teologie rondom die kwessie van apartheid geredeneer is, het hy gesê. Suid-Afrikaanse teoloë wat destyds gepraat het van ’n eie Suid-Afrikaanse teologie wat op ’n bepaalde sosiaal-etiese punt die goeie reg van die Suid-Afrikaanse politieke beleid teenoor Europese kritiek verdedig.

“Maar vir die besef van die hele teologiese wêreld het hulle ’n skool-voorbeeld geword van ’n onkritiese beoefening van die teologie waarin behoudendheid in die dogma gepaard kan gaan met blindheid vir die sosiaal-etiese implikasies van die evangelie. In hierdie opsig was die breuk volkome.

Ondanks dié breuk tussen Suid-Afrika en Europa was dit onmoontlik om ons van ons verbondenheid met Europa los te maak, sê prof. Jonker. “As ons kyk na wat ons studente vandag studeer, is dit nog steeds Europese teologie. Oor die algemeen is ons nog binne die invloedsfeer van Europa en in gesprek met die Europese teologie.” Hy het daarop gewys dat ons huidige gerigtheid op Europa egter selektief is.

“Die hedendaagse politieke teologie was ’n uitvloeisel van die oorlog. As evangelie is die politiek hier betrek as die mees omvattende terrein van die menslike bestaan met sy verskynsels van lyding, armoede en onderdrukking. Uit die Derde Wêreld kom die teologie van die revolusie en bevryding waarmee die nood van die Derde Wêreld aan die orde gestel word. Daardie nood word gesien as onderdrukking, uitbuiting en armoede.”

Ondanks kritiek teen die eensydigheid van dié soort teologie, selfs wanneer hy van sy Marxistiese element gesuiwer is, is elemente daarvan tog besig om wyer erkenning te geniet, sê prof. Jonker. Veral die ideologies-kritiese element het gekom om te bly.

“Geen teologie wat nie met uiterste konsentrasie selfkrities is nie, het enige hoop om in die toekoms ’n gehoor te vind.”