Hulle het ons gebed nodig

HULLE HET ONS GEBED NODIG
Die Burger, 2 Julie 1988, bladsy 8

By geleentheid van die viering van die 75ste bestaansjaar van die Suid-Afrikaanse Polisie is dit gepas om met groot dankbaarheid van die onbaatsugtige diens kennis te neem wat oor hierdie dekades heen deur duisende lede van die polisiemag in belang van die samelewing gelewer is.

Die Polisie is een van die noodsaaklikste dienste in enige samelewing. In hierdie land met sy besondere samestelling bestaan die Polisie uit ’n taakmag wat uit al die verskillende komponente van die gemeenskap saamgestel is en wat oor alle grense van ras, kleur of stand heen ’n gemeenskapsdiens moet lewer wat die hoogste eise stel.

Die polisiemag word in dié tye aan skerp kritiek onderwerp en by groot groepe in die samelewing word oor hulle slegs in negatiewe terme gepraat en gedink. Die situasie van gisting en woeling wat die land tans belewe, bring eenvoudig mee dat die Polisie moet optree op plekke en in omstandighede wat hulle aan groot provokasie en groot versoekings blootstel.

Van hulle word verwag om orde te handhaaf in ’n diep verdeelde en gepolariseerde samelewing. Hul optrede word fyn dopgehou en van verskillende kante verskillend beoordeel. Dit kan nie anders as om hulle in die gedrang te bring nie. Dit is begryplik dat hulle aan kritiek blootgestel sal wees, en omdat hulle mense is, sal daar meermale ook regmatige gronde vir die kritiek wees.

Hul taak is veeleisend. Van hulle word verwag om in alle omstandighede reg te staan en in te staan waar die chaos en die wanorde, die nood en die rampe, die ongelukke en die ontsporings plaasvind. Hulle moet ’n wag betrek om die kwaad in te dam en die normale lewe moontlik te maak.

Sonder om aan hulle self te dink, aan hul eie dierbares of belange, moet hulle te alle tye bereid wees om in te klim in gevare, om te red en te beskerm, om te dien en te help. In dié proses stel hulle dikwels hul eie lewe in gevaar en offer dit soms op. Voor geen ontbering of uitdaging mag hulle terugdeins as die lewe van andere of die orde van die samelewing op die spel is nie.

Dit is net nie moontlik om hierdie soort taak te verrig, sonder morele integriteit en ’n bereidheid om die reg en die belange van andere bo jou eie belange te stel nie. Die vertroue wat die gemeenskap in die Polisie het, hang in groot mate saam met die verantwoordelikheid waarmee hulle optree en die wyse waarop hulle in staat is om hul taak sigbaar met die uiterste gedissiplineerdheid en selfloosheid te verrig.

Daarom het hulle aanspraak op ons gebede. Ons dankgebede en ons voorbidding. Mag God aan hulle die genade gee om so te dien, dat hulle ’n ryke beloning daarvoor in hul eie harte en in die resultate van hul arbeid sal ervaar. – WDJ