Die eerste gedagte

DIE EERSTE GEDAGTE
Die Burger, 8 Oktober 1988, bladsy 14

As ons wil weet watter soort mense ons is, kan ons dit baie maklik toets deur noukeurig te let op wat ons eerste gedagte en reaksie in elk gegewe situasie is. Ons eerste reaksie is immers spontaan, dit kom uit die hart, en daarom weerspieël dit wat in ons hart leef en hoe ons na die wêreld kyk.

As ons eerlik en krities na ons self kyk, sal ons waarskynlik gou merk hoe bevooroordeeld ons is. Ten diepste leef ons tog maar vir ons self en ons eerste gedagte is dus deurgaans gekleur deur die sorg vir ons self. Ons beoordeel alle dinge met die oog op die vraag hoe dit ons persoonlik en ons belange raak. Of iets ons bly maak en of dit ons hartseer en selfs kwaad maak, hang in ’n groot mate daarvan af.

Ons sal ook merk hoe liefdeloos ons ten diepste is. Eintlik het ons maar net onsself lief, en as uitbreiding van ons selfliefde het ons diegene lief wat aan ons behoort en wie se belange dus in ’n sin ons eie belange geword het. Oor ons self en oor diegene wat ons as verlengstuk van onsself liefhet, oordeel ons spontaan altyd gunstig.

Ons eerste gedagte is altyd dat ons eie motiewe en die van ons dierbares en eie mense natuurlik suiwer is. Wat ons en hulle doen sal natuurlik altyd goed bedoel wees – daarvan gaan ons eenvoudig uit. Maar presies die teenoorgestelde is meestal die geval met ons oordeel oor andere. Ons vermoed dikwels spontaan al kwaad by ander, bose opset, berekende gemeenheid.

Daar is ’n diepgewortelde partydigheid by ons wat ons ongevoelig en onbillik teenoor andere maak. Ons kyk na die wêreld en na ander mense deur ’n bril wat gekleur is deur ons verheerliking van ons eie en ons veragting en afkeer van wat onbekend en daarom dikwels vir ons afstootlik is.

As ’n mens eerlik word met jou self, sal jy dikwels moet erken dat jy bekrompe en enghartig is, skaars toe aan die peil van beskaafdheid wat van jou verwag word en wat jy graag sal wil voorgee jou deel is. Eintlik is dit maar primitiewe instinkte en neigings wat die meeste van ons spontane reaksies bepaal, al probeer ons die indruk van groot ruimheid wek en al is ons in staat om oor ons houdings en gesindhede te rasionaliseer totdat ons hulle ten minste vir ons eie besef reggepraat het.

As ons eerlik word met ons self, sal ons moet erken dat dit ’n wonder van genade is dat God ons nog verdra. Ons sal dubbel dankbaar wees vir die doopwater waarmee ons gewas is as teken en seël daarvan dat God nie na ons kyk soos wat ons in ons self is nie, maar soos ons in Christus is.

En ons sal bly bid om die genade van die Heilige Gees wat ons hart innerlik so kan verander, dat ons eerste gedagte vriendelik en liefdevol sal wees, vol van egte blydskap en deernis oor andere en vreugde oor die saak van God. Dit is heiligmaking. Daarna smag ons siel. – WDJ