Die spore van God

DIE SPORE VAN GOD

Die Burger,
26 November 1988, bladsy 14

Niemand kan die bestaan van God bewys nie. Daar is in die geskiedenis van die filosofie en die teologie wel ‘n aantal sogenaamde Godsbewyse ontwikkel – vyf of ses in getal – wat almal daarop gebou is dat die idee van God vir ons as mense ‘n noodsaaklike idee is waarsonder ons nie kan klaarkom as ons na onsself en die grootheid van die skepping kyk nie.

Hierdie sogenaamde bewyse is nie sonder betekenis nie. Maar wat hulle nie kan doen nie, is om ‘n mens wat totaal ongelowig is, deur die krag van ‘n argument te oortuig dat God bestaan. Die verste wat dit kan kom, is om ‘n mens redelik te dwing om hom besig te hou met die vraag waarom daar iets is en nie niks nie. Dit kan hom konfronteer met die raaisel van die heelal en die menslike hart.

Maar as hy in ongeloof of agnostisisme eenvoudig sy skouers bly optrek en sê dat ons hier voor vrae staan waarop ons eenvoudig geen antwoorde het nie, en dat hy nie van plan is om sy kop daaroor te breek nie, kan ons niks verder met hom vorder nie.

‘n Mens kan niemand deur redenasies daarvan oortuig dat God leef nie; jy kan slegs daarvan teenoor hom getuig. Geloof in God, wat nog iets anders is as die aanvaarding dat daar wel êrens ‘n grondbeginsel of ‘n oorsaak moet wees vir alles wat bestaan, is nie die vrug van verstandelike redenasie nie, maar is ‘n gawe van die Heilige Gees.

Daar moet met ons ‘n wonder gebeur. Ons moet aangeraak word van die Ander kant. Ons moet getrek word deur die krag van Gods liefde wat vir ons in Jesus geopenbaar is. Ons moet genesing en vrede vir ons hart vind in die sekerheid dat ons bestaan veranker is in die Goedheid self. Dan twyfel ons nie meer of God bestaan nie.

En merkwaardig: eers dan word die sogenaamde bewyse vir die bestaan van God vir ons betekenisvol. As ‘n mens reeds glo, merk jy oral die spore van God. Nie net die grootheid van die skepping en die wonder van die gang van die geskiedenis nie, maar veral ook die aard van die menslike lewe self wys asof met duisend vingers na God heen.

Die lewe soos ons dit ervaar, bevat in homself dieptes van betekenis waaruit dit duidelik is dat dit nie vlak is nie, maar gegrond is in ‘n dieper werklikheid as die sigbare en die tydelike, in die Grond en Oorsprong van al wat is.

As ‘n mens dink dat die lewe vlak en een-dimensioneel is; as ‘n mens geen besef daarvan het dat dat daar waardes is wat onvoorwaardelik, onopgeefbaar en onaantasbaar is nie; as ‘n mens nie omgee om te lewe sonder om die vraag na die sin van die lewe te vra nie – dan kan jy uiteraard ate‹sties lewe.

Maar as die lewe nie vlak is nie; as die lewe gekenmerk word deur die hoogtes van vreugde en die dieptes van pyn, van die vreugde en smart, van skuld en vergiffenis, die liefde en hoop, van sin en betekenis – dan wys dit heen na God self van wie ons nooit kan wegkom nie. – WDJ