Jesus as mens

JESUS AS MENS
Die Burger,
17 Desember 1988

In die hart van die evangelie staan die boodskap dat Jesus wat die ewige Seun van God is, mens geword het om ons ontwil. Daaroor sing die engele in die Kersnag en daarmee staan en val die boodskap van die Nuwe Testament.

In die geloof van baie gemeentelede speel die menswees van Jesus nie altyd ’n groot rol nie. Hulle vereenselwig Jesus met God en kan hulle moeilik voorstel dat Jesus werklik in alle opsigte ’n mens geword het netsoos ons, behalwe vir die sonde.

Tog is dit vir die Bybel baie belangrik. Oor die volkome mensheid van Jesus laat dit geen twyfel nie. ’n Sprekende voorbeeld hiervan is die Brief aan die Hebreërs. Hierdie brief beklemtoon dat Jesus meer is as die engele, Moses en alle profete. In die verhouding tussen God en mens staan Jesus as die Seun aan die kant van God. Maar terselfdertyd leer dit ook dat Jesus ’n volkome mens is netsoos ons, aan sy broers in elke opsig gelyk, tot in hulle versoekbaarheid toe, maar sonder sonde (vgl. Hebreërs 2:11,14,17; 4:15 ens.).

Waarom is dit so belangrik? Omdat ons menslike sonde en mislukking in die menslike bestaan, dáár waar dit gesetel is, oorwin en herstel moes word. Die verlossing van die mens kan nie tot stand kom as iets bloot uitwendigs, deurdat God byvoorbeeld maar net die mens se sonde vergewe, sonder dat die situasie van skuld en verwording wat deur die sonde in die menslike lewe ontstaan het, beredder is nie.

Dit sou in stryd wees met die reg van God en ’n triomf vir die satan wat die mens tot die sonde verlei het. Die mens sou dan wel vergewe wees, maar sy skuld sou nie vergoed gewees het nie. Hy sou self nie nuutgemaak en vrygemaak gewees het van die smet en die bose geneigdheid van sy natuur nie. Die versoekings van die bose sou nie oorwinnend teengestaan gewees het in die menslike bestaan self nie.

Daarom moes Jesus as ons Plaasvervanger ’n volkome mens wees, sodat in sy vlees en bloed, sy hart en gedagtes, sy lewe en sterwe alles wat in ons menslike bestaan verkeerd gegaan het, weer oorgeleef en reggestel kon word. Hy moes onder al ons versoekings ly, maar dit as mens weerstaan. In Hom moes ons verworde menslike lewe weer herstel en geheilig word. In sy dood en helse smarte moes ons menslike skuld en sonde gedra en voor Gods regterstoel goedgemaak word.

Gods vergiffenis van ons sondes berus dus op ’n regsgrond: die skuld is betaal, die kwaad is herstel. Netso vloei die vernuwing van ons sondige aard voort uit die voldonge feit van die heiliging van ons natuur in die mens Jesus. Die Heilige Gees maak in ons ’n werklikheid wat in Jesus reeds wettiglik ons eie is: die triomf oor die sonde en die kwaad wat in ons woon.

Kniel tog met Kersfees neer en ontvang dit alles soos ’n kind in die geloof. Hoe het God tog in Jesus die las van ons skouers gehaal, hoe het Hy ons volmaak bevry! – WDJ