GEBROKENHEID
Die Burger, 9 Januarie 1988
Daar is by almal ’n diepgewortelde hunkering en verlange na heelheid, voorspoed, geluk en vreugde. Daarom wens en bid ons dit mekaar graag toe aan die begin van die nuwe jaar, en ook vir onsself hoop ons dat die nuwe jaar die goeie sal bring, die sukses en die vervulling waarna ons hart verlang.
Dit is nie vreemd nie. Dit is ’n heenwysing daarna dat God ons vir die goeie geskep het. Selfs in sy verwording bly daar by die mens ’n besef dat by vir die lewe gemaak is en nie vir die dood nie; vir gesondheid en nie vir siekte nie; vir vreugde en nie vir leed nie; vir blydskap en nie vir pyn nie. Daarom gaan ons hart uit na die lig en nie na die donkerte nie. Op die boom van alle mense se harte lê die verlange na vervulling en die droom van onvernietigbare geluk.
Tog weet ons dat daardie droom nooit op aarde in vervulling sal gaan nie. Wanneer ons mekaar die goeie vir hierdie nuwe jaar toewens en dit vir onsself bid, weet ons dat dit daarin maar om relatiewe dinge gaan. Ons kan mekaar goeie gesondheid toewens, maar ons weet dat gesondheid op die duur iets kortstondig blyk te wees. Die sukses, die vreugde en die vervulling van ons aardse bestaan is altyd maar ten dele en altyd maar kortstondig.
Aan die gebrokenheid van ons aardse lewe kan ons nie ontkom nie. Ons ervaar dit voortdurend aan eie lyf. Ook die Bybel getuig op duisend plekke daarvan. Aangrypend sê Psalm 90: “Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe …” Dit is ’n dwase mens wat nie leer saamleef met die breekbaarheid van ons geluk en die verganklikheid van ons aardse bestaan nie.
Selfs die verlossing in Christus beteken nie dat ons op aarde al die heerlikheid binnegaan nie. Dit maak uiteraard ’n totale verskil aan ons lewe, veral ook aan die wyse waarop ons voortaan die kortstondigheid, gebrokenheid en mislukkings van ons aardse lewe ervaar en hanteer, maar dit vrywaar ons nie daarteen nie.
As Paulus in Romeine 8 by die wonderlike hoogtepunt uitkom van die vreugde wat die verlossing in Christus en die lewe deur die Gees vir ons beteken, dan haas hy hom om in dieselfde hoofstuk ook te skryf oor die lyding wat ons in hierdie lewe nog moet verduur. Ons is gered in hoop, sê hy, en ons wat reeds die Gees as die eerste gawe van God ontvang het, sug nog saam met die skepping in afwagting van ons totale bevryding uit die verganklikheid. Die rus is elders. Die rus is daarbo.
Maar al is dit so, mag ons tog bid dat God aan ons die genade sal gee om met vreugde en dankbaarheid die talle tekens van sy goedheid ook in hierdie lewe te geniet. Selfs ons relatiewe geluk kan tog egte geluk wees – ’n voorsmaak van die vreugde en vervulling wat sal kom. – WDJ