Net God gee sin

NET GOD GEE SIN
Die Burger, 16 Januarie 1988

Daar is vandag miljoene mense wat as praktiese ateïste bestempel kan word. Hulle lewe sonder om met God rekening te hou. As ’n mens met hulle oor God praat, trek hulle hul skouers op. Of daar ’n God is? Hulle weier om hulle daaroor te bekommer. In elk geval maak dit aan hul lewe geen verskil nie.

Maar hoe moet dit tog wees om so te lewe? Is dit nie die toppunt van oppervlakkigheid nie? Hoe is dit moontlik dat mense soos diere kan lewe wat geen vraag stel oor waar hulle vandaan kom en waarheen hulle gaan nie – wat blykbaar maar aanvaar dat die mens soos alle lewende organismes op aarde opgeneem is in ’n proses van gebore word en sterwe, sonder enige verdere doel, net maar as deel van die grillige natuur waaragter ons niks verder moet soek nie?

As ’n mens nie totaal oppervlakkig is nie, moet dit vir jou onmoontlik wees om so te lewe, omdat geen mens werklik menslik kan lewe sonder om die sinvraag te stel nie. Blykbaar is die moderne Westerse mens al so afgestomp dat by daarin kan slaag om sy lewe te vul met duisende dinge wat hom besig kan hou, sodat hy nie meer die vraag na die sin van sy lewe hoef te stel nie. Daarom kan hy dit oënskynlik regkry om ’n nihilis te wees sonder om van pyn te sterwe.

Nihilisme is die lewensinstelling van die mens wat oortuig daarvan is dat daar werklik niks agter die dinge is nie, geen hemel en geen hel nie, geen God en geen duiwel nie, geen sin en geen waarde nie, geen doel en geen betekenis nie. Die nihilis verstaan homself dus as die produk van ’n grillige toeval, as ’n reisiger na nêrens, as ’n wese sonder ’n toekoms, sonder skuld en sonder hoop. Vir ’n normale mens is dit ’n onhoudbare posisie.

Die egte groot vaders van die moderne nihilisme het nog die pyn daarvan gevoel en, soos Nietzsche, met ontsetting besef hoe koud en sinloos alles in die wêreld geword het vir die mens wat in niks meer glo nie, tot niks meer bid nie en op niks meer vertrou nie. Dit wil egter voorkom asof die moderne mens daaraan gewoond begin raak, asof hy homself maar met allerlei ander dinge begin troos, en so die onhoudbaarheid van sy posisie nie meer besef nie.

In baie gevalle word die plek van die geloof in God ingeneem deur een of ander ideologie wat beslag lê op die mens se lewe vir diens aan die mensheid of aan ’n groot utopiese droom. Dit skep dan die illusie dat daar tog genoegsaam sin in die lewe is – ook sonder die geloof in God. Maar op die laaste vrae van die mens se lewe kan dit geen antwoord wees nie. Dit dien as ’n pynstiller, maar uiteindelik kan dit geen egte vrede aan die hart bied nie.

As daar geen God is nie, is daar geen sin nie. En as daar geen sin is nie, dan krimp die hart ineen onder die druk van die leegte. Kan die hel erger wees as dit?– WDJ