Al sou die berge wankel

AL SOU DIE BERGE WANKEL
Die Burger, 23 Januarie 1988

Die Bybel is eintlik ’n klein biblioteek van 66 boeke. Die merkwaardige van die Bybel is egter dat dit ’n eenheid is wat van voor tot agter dieselfde boodskap dra. Watter onderlinge ver­skille daar ook al tussen die Bybelboeke is en hoe groot die afstand tussen hulle ook al is wat die tyd en die situasie betref waarin hulle tot stand gekom het, almal sirkel rondom dieselfde saak: die trou en die liefde van God.

’n Mens kan die inhoud van die Bybel op baie maniere kort probeer saamvat, en dit is reeds dikwels  gedoen. Dit is egter seker nie ver van die kol af as ’n mens sê dat dit in die hele Bybel gaan oor die belofte van God van sy guns wat Hy in liefde aan die mens geskenk het, en waaraan Hy in taaie volharding deur alles heen getrou bly nie.

Die belofte van die heil van die mens in gemeenskap met God gaan terug tot in die Paradys. Dit word herbevestig aan Noag en met ’n eed toegesê aan Abraham en sy nageslag. Wat ons gewoonlik die verbond van God met Abraham noem, is niks anders nie as die belofte wat Hy aan Abraham gegee het om vir hom en sy nageslag ’n God te wees – ’n belofte waarmee Hy beslag op Abraham en sy nageslag gelê het tot in ewigheid.

Dwarsdeur die lang geskiedenis van Israel, deur afval en ongehoorsaamheid, tugtiging en herstel heen, bly God aan sy belofte getrou. Op die allermooiste manier word dit uitgedruk in Jesaja 54 as God deur die profeet aan sy verdrukte volk laat weet:
“Soos met die waters van Noag is dit vir My: soos ek met ’n eed bevestig het dat die waters van Noag nie weer die aarde sal oorstroom nie, so bevestig Ek met ’n eed dat Ek nie langer toornig op jou sal wees en jou sal straf nie. Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here wat jou liefhet.”

In die Nuwe Testament sien ons hoe die belofte van God ook uitgebrei word oor mense buite Israel, mense wat deur die bloed van Jesus ingelyf word in die stamboom van Abraham, die vader van die gelowiges (Galasiërs 3). Ook oor hulle staan die ewige liefde en trou van God. Ook oor hulle geld die woorde van Jesaja 54 net so goed as vir Abraham en sy nageslag. Dit sê die prediking en dit bevestig die doop.

Dit is nie God se skuld as mense verlore gaan nie. Dit is nie sy liefde wat te min is of opgehou het nie. Dit is nie sy belofte wat ver breek is nie. Van Gods kant gesien, is daar ewige liefde en trou. Dit is Israel, dit is die mense wat die vreeslike ding doen om aan hierdie liefde te twyfel, dit gering te ag, daaruit weg te loop, dit die rug toe te keer. Dit is totaal onbegryplik, so onverklaarbaar as die sonde self.

Moet tog nie aan Gods liefde twyfel nie. Hou vas aan Gods trou. Dit sal bly staan, selfs al wankel die berge. – WDJ