’n Groot troos

’N GROOT TROOS
Die Burger, 30 Januarie 1988

Nie almal in Suid-Afrika neem met ongemengde gevoelens van dankbaarheid aan die Diasfees deel nie. Verskillende leiersfigure uit ander bevolkingsgroepe het reeds te kenne gegee dat beswaarlik van hulle verwag kan word om die koms van die Westerlinge na die suidpunt van Afrika as ’n seën toe te juig.

Hulle dink daarby veral aan die dominerende posisie wat die blankes in hierdie deel van die wêreld kom inneem het; aan die negatiewe aspekte wat vir hulle daaraan verbonde was; aan die eeuelange ervaring van om as onbeskaaf en minderwaardig beskou te word en aan die pyn van diskriminasie in ’n samelewing waarvan hulle feitlik deurgaans maar nog net die onderlaag moes vorm.

Almal behoort begrip hiervoor te hê.

Dit is waar dat die Westerse beskawing wat sedert die landing van Dias na hierdie land gebring is, vir die hele Suider-Afrika, maar ook vir groot dele van Afrika goeie vrugte op die terrein van ontwikkeling en tegnologie afgewerp het. Hoe sou dit vandag daarsonder wees?

Dit sou egter kortsigtig wees om nie ook te erken dat daar in hierdie proses baie dinge gedoen en toestande geskep is wat deur die grootste deel van die landsbevolking – deur die hele Afrika, ja, selfs deur die hele wêreld – uiters negatief beoordeel word nie. Die lewe is meer as finansies en tegniek, wetenskap en ontwikkeling. Daar is waardes wat nie in terme van ekonomiese en tegniese vooruitgang gemeet kan word nie.

Die Diasfees kan nie gevier word asof die koms van die Westerling ’n onverdeelde seën was nie. Geen enkele ding waarby mense betrokke is, is ooit ongekwalifiseerd goed nie. Dit geld ook vir die koms van die Westerlinge na Afrika, en vir die wyse waarop die wêreld hier oopgebreek en ontwikkel is.

Tog is daar ’n groot troos. Saam met die Westerse mense het ook die evangelie van Christus na hierdie land gekom. Die kruis wat Dias geplant het, was ’n simbool van die Woord wat in die toekoms op hierdie kontinent verkondig sou word. Dit is meer werd as alle ander dinge wat die Westerlinge hierheen gebring bet.

Toegegee: die evangelie is in swakheid verkondig. Die draers daarvan was sondig. Dit is dikwels misbruik, verloën, misverstaan en weerspreek deur die dade en houdings van die Christene. Maar die betekenis daarvan sal bly bestaan lank nadat die huidige stryd rondom die posisie van die Westerling in hierdie kontinent uitgestry is.

Wanneer die pyn van die hede verby is, sal Suider-Afrika nog erken dat die koms van die Woord na hierdie land sy grootste seën was. As Afrika die Christelike kontinent van die toekoms is, sal die Diasfees deur almal met vreugde gevier kan word. – WDJ