Die verhouding tussen kerk en teologie

Universiteit van Pretoria
Fakulteit Teologie (Ned Geref Kerk)
Teologiese dag
2 Februarie 1988

DIE VERHOUDING TUSSEN KERK EN TEOLOGIE
Prof. W.D. Jonker

  1. Die kerklike karakter van die teologie

Die heel eerste wat gesê moet word, is dat kerk en teologie onafskeidelik aan mekaar verbonde en op mekaar aangewese is, en dat met name die reformatoriese teologie gevolglik ’n sterk kerklike karakter dra.

Hierdie stelling is bedoel as konstatering van ’n saaklike werklikheid.  Sonder die kerk en die geloof van die kerk sou daar van geen teologie sprake gewees het nie.  Teologie is eenvoudig die poging om die geloofskennis waaruit die kerk lewe, te verstaan en te orden, te ontvou en te oordink.  Op die eenvoudigste manier uitgedruk is reformatoriese teologie die bemoeienis om die Bybel beter te leer lees, verstaan en vertolk.

Vir Luther en Calvyn was teologie nie, soos vir die skolastiek, die sisteem van die rasionele kennis van God, of soos vir die latere Ortodoksie, die rasionele sisteem van die geopenbaarde Godskennis nie.  Waar teologie só verstaan word, is dit nog moontlik om ’n taamlike streng skeiding tussen teologie en geloof te handhaaf, omdat die teologie dan heeltemal op die gebied van die rasionele kennis en die wetenskap lê, terwyl die geloof homself rig op die praktiese werklikheid van die heil.  Vir die Reformasie is teologie veel eerder die daad van die voortdurende gelowige en noukeurige luister na die Skrif, met die oog op die eie geestelike verdieping en die opbou van die gemeente in die geloof, sodat die kerk sy roeping in die wêreld kan vervul.

Dit is iets verrassends in die reformatoriese konsep van teologie dat reeds verstaan is wat in die moderne tyd tereg beklemtoon word, dat wetenskap in die eerste plek te make het met die reseptiwiteit vir die saak wat bestudeer word, met die luister na wat die werklikheid self vir ons wil sê, eerder as met ons bewerking en beheersing daarvan.  Dit gaan in die reformatoriese teologie nie om die formulering en sistematisering van ’n vasgelegde depositum fide of geloofskennis wat vir altyd klaar en bekend is nie, maar om die aksie van die gelowige omgang en worsteling met die Skrif as die getuienis van Gods openbaring en die enigste legitieme en onfeilbare bron van ons kennis van God en onsself.  Daardeur wil die teologie die verstaan en uitleg van die Skrif en die nadenke daaroor dien met die oog op die eksistensiële geloofskennis van die gemeente en sy getuienis in die telkens wisselende situasies van die lewe voor die aangesig van God.

Waar teologie só verstaan word, is teologie en geloof, teologie en kerk ten nouste aan mekaar verbonde in hulle betrokkenheid op dieselfde saak.  Teologie kom op uit die kerk en dit dien ook weer die kerk.  Daarom is daar noodwendig ’n besondere band tussen teologie en kerk en kan met reg gesê word dat die teologie niks anders is nie, as die gelowige en kritiese toetsing van die belydenis en prediking van die kerk in die lig van die Woord waarby die kerk leef.

  1. Die “teologiese” karakter van die kerklike omgang met die Skrif

Die teenkant van die kerklike karakter van die teologie is dat die kerklike omgang met die Skrif in die Reformasie ’n sterk “teologiese” karakter verkry.  Daarmee bedoel ons nie net dat die kerk aangewese is op en in ’n groot mate selfs afhanklik is van die diens van die teologie nie, maar ook dat die omgang van die kerk met die Skrif in ’n groot mate deur die teologiese omgang met die Skrif gestempel word.

Volgens reformatoriese opvatting het die teologie ’n uitgesproke hermeneutiese karakter, in teenstelling tot die metafisiese karakter van die skolastieke teologie.  Dit wil die Bybel beter leer lees, verstaan en vertolk.  Iets daarvan is natuurlik altyd deur die teologie begryp.  So het Anselmus, die vader van die skolastiek, reeds teologie op ’n onverbeterlike wyse omskryf as fides quaerens intellectum: geloof wat soek om te verstaan.  Die fout van die skolastiek was nie dat dit probeer het om te verstaan nie, maar dat dit probeer het om die verstaansvraag in metafisiese terme te beantwoord, met die ratio as instrument, en om, indien enigsins moontlik, ook buite die openbaring in Christus om tot insig in die waarheid van God en die wêreld te kom.  Daarom is die skolastiek gebou op en deurdronge van natuurlike teologie, maar het dit ook verwyderd geraak van die prediking en die praktiese opbou van die geloof in die waarheid van die Skrif.

Die Reformasie leef egter by die een groot begeerte om die Skrif beter te verstaan.  Die fides quaerens intellectum laat hom op sy soektog lei deur die uitleg van die Skrif.  Dit is nie toevallig dat Luther en Calvyn soveel eksegetiese werk gelewer het nie, en egte reformatoriese teologie sal hierin aan die Reformatore getrou moet bly.  Hulle uitleg van die Skrif is egter geen intellektuele bedrywigheid wat homself in die naam van wetenskaplikheid losmaak van die diepste vrae van die mens se hart na die boodskap van verlossing wat in die Skrif verkondig word nie.  Hulle teologie is van voor tot agter op die prediking en die pastoraat gerig.

In die lewensgemeenskap van die reformatoriese kerk is teologie gevolglik nie die esoteriese bedrywigheid van ’n aantal intellektueles wat lewensvreemd is aan die gewone arbeid en getuienis van die kerk nie, maar dit is iets wat toeganklik is vir die gewone lidmaat.  In die Katolieke tradisie waar die opvatting heers dat die genadewerk voltrek word in die sakramente en die liturgie, is die teologie iets bykomstigs wat ’n eie lewe lei en nie direk met die geestelike lewe van die kerk te make het nie.  Maar waar die prediking as heilsmiddel in die Protestantse visie voorop staan, is die heil ten nouste verbonde aan die verstaan en vertolking van die Heilige Skrif as heilswoord.

Dit beteken dat die kerk voortdurend hermeneuties met die Bybel besig is.  Omdat die teologie self ’n hermeneutiese karakter dra en op die prediking afgestem is, ontstaan daar onafwendbaar ’n bepaalde deurdringing van die kerklike omgang met die Skrif deur die teologie.  Teologie is vir die reformatoriese kerk gevolglik geen luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid.  Kerk en teologie is van weerskante op mekaar afgestem in onverbreeklike onderlinge verbondenheid.

Daarom is die teologiese vorming van predikante vir die Protestantisme so belangrik.  Die Christelike kerk het altyd die behoefte aan teologies-geskoolde ampsdraers besef.  Sedert die tyd van Karel die Grote is daar van die priesters ’n bepaalde wetenskaplike en teologiese vorming vereis.  By die kerke van die Reformasie was daaroor nooit enige onsekerheid nie.  Elke predikant word binne die Protestantse tradisie eintlik gesien as ‘n teoloog.  Die kerk verwag van die predikante dat hulle omgang met die Skrif in prediking, kategese en pastoraat gedra moet word deur teologiese kundigheid.  Teen die agtergrond van die geboorte van die Kerkhervorming uit die teologiese worsteling van Luther met die Bybelteks, sien die reformatoriese kerke teologie as ’n onmisbare hulpmiddel vir die instandhouding van ’n gesonde kerklike lewe en vir die toerusting van die kerk vir sy taak in die wêreld.

In die beste tye het gemeentelede meegeleef met die teologie, het die publikasies van teoloë op die rakke van gemeentelede gestaan en is dit ook werklik gelees.  Beslissings is deur kerkvergaderinge geneem na teologiese diskussies waaraan ook die ouderlinge met kundigheid deelgeneem het.  Die Reformasie het geleef by die oortuiging van die claritas van die Skrif.  Anders as die Katolieke Kerk het dit nooit daaraan getwyfel dat die saak waarom dit in die Heilige Skrif en die geloof gaan, eintlik baie eenvoudig is, sodat selfs ’n kind dit kan verstaan nie.  Teologie is eintlik daar om al ons misverstande en al die spekulatiewe groeisels rondom die Skrifwoord uit die weg te ruim, sodat die Woord self weer in sy klaarheid gehoor kan word.

Tensy ’n mens op grond van ’n ongelooflik skolastieke idee van teologie wil verklaar dat die Reformatore nie werklik wetenskaplike teologie nie, maar ’n blote stigtelike omgang met die Skrif beoefen het, moet jy toegee dat die grens tussen die voorwetenskaplike geloofsbesinning van die gemeente, die kerklike interpretasie van die Woord in die belydenisskrifte én teologie in die wetenskaplike sin van die woord in die reformatoriese kerklike situasie moeilik bepaalbaar is.

Enige ernstige gelowige of kerklike omgang met die Skrif het altyd ’n teologiese komponent.  Kerklike belydenisuitsprake is wel nie bedoel as teologiese uitsprake in die tegniese sin van die woord nie, maar word tog gedra deur teologiese oortuigings en bevat teologiese beslissings van die hoogste rang.  Die hele kerklike verstaan van die Skrif is teologies bepaald.  Na soveel eeue van Christelike teologie bestaan daar in elk geval nie meer die moontlikheid om enige direkte toegang tot die Skrif te hê wat nie reeds deur een of ander teologiese oortuiging gestempel is nie.  Die gevolg is egter dat die teologie in die Protestantse kerklike lewe ’n groot en dikwels beslissende invloed besit.

Daarom is dit goed dat kerk en teologie mekaar binne die reformatoriese tradisie nie as opponente gesien het nie, maar as bondgenote.  Vandaar die groot agting en liefde wat tradisioneel by Protestantse kerke vir die teologie en teologiese opleidingsinrigtings leef.  Daar is by baie Protestantse lidmate ’n byna kinderlike entoesiasme en liefde vir die kweekskole en fakulteite waar die dominees opgelei word.  Dit kom veral uit in hulle voortdurende voorbidding vir sulke inrigtings en hulle bereidheid om dit met hulle gawes te dra en te ondersteun.  Kenmerkend is ook die groot eerbied wat dikwels in Protestantse kringe vir bekende en geliefde teoloë bestaan.  In elk geval moet ’n mens sê dat die teoloog in die Protestantse kerklike lewe ‘n posisie beklee wat binne die Katolieke leefwêreld ondenkbaar is.

  1. Die broosheid van hierdie verhouding.

Hierdie verhouding tussen kerk en teologie in die Protestantse tradisie kan, as alles goed gaan, uitstekend werk. Maar, soos alle intieme verhoudinge, dra dit ’n sensitiewe karakter en is dit maklik versteurbaar.  Dit word ook voortdurend deur ’n aantal gevare bedreig wat tot skade van kerk en teologie beide kan wees.

Dit was uit die staanspoor duidelik dat die verbondenheid van kerk en teologie in die Protestantisme meebring dat teologiese verskille die eenheid van die kerk onder groot druk kan plaas.  In die Katolieke tradisie is die teologie maar ’n ondergeskikte element in die kerklike bestaan.  Verskille in geloofsbelewing en teologiese denke kan gevolglik makliker hanteer word sonder bedreiging van die eenheid van die kerk, omdat teologiese opvattings en skoolmenings nie so direk met die laaste vrae aangaande die heil in verband gebring word nie.  In die Protestantisme is daar ’n sekere weerloosheid teenoor die bedreiging van die eenheid van die kerk deur die verabsolutering van teologiese verskille.  Dit is die hoë prys wat veral die gereformeerde Protestantisme vir die innige betrokkenheid van kerk en teologie op mekaar moet betaal.

Natuurlik is daar in die Protestantisme probeer om die eenheid van die kerk te bewaar deur ’n groter toleransie ten opsigte van teologiese verskille te openbaar.  Vanweë die ingeboude Protestantse gevoel vir die betrokkenheid van kerk en teologie op mekaar geskied dit egter deurgaans met ’n slegte gewete.  Die kerklike besef word daardeur aangetas en die verhouding tussen kerk en teologie word deur wedersydse agterdog en innerlike verwydering gekenmerk.  Dan vrees die kerk die teologie as ’n destruktiewe faktor in sy geestelike lewe, terwyl die teologie op sy beurt oorhoop lê met die negatiewe houding van die kerk en daardeur sy geestelike band met die kerk verloor.  Dan kan dit maklik verword tot ’n intellektuele spel wat die laaste erns mis.

Dit is wat sedert die deurbraak van die sg. moderne tyd in Europa steeds meer gebeur het.  Kerk en teologie het sedert die agtiende eeu te staan gekom voor ’n kulturele breuk in die geskiedenis van die Weste wat hulle voor die uitdaging gestel het om die boodskap van die evangelie in ’n totaal nuwe situasie te verstaan en vertolk.  Die reaksie op hierdie uitdaging het die wedersydse verhouding tussen kerk en teologie aan groot spanning onderwerp.

Dit is bekend dat die kerk geneig was om konserwatief en negatief te reageer op die uitdagings van die nuwe tyd.  Die teologie het aanvanklik dieselfde gedoen, maar algaande begin besef dat die negatiewe afsluiting teenoor die moderne lewensbesef en werklikheidsopvatting uiteindelik sal meebring dat die boodskap van die kerk eenvoudig nie meer in die moderne wêreld gehoor sal kan word nie.  Die vraag waarmee die teologie steeds meer begin worstel het, is die vraag wat Schleiermacher gestel het, of die knoop van die geskiedenis so ontbind moet word dat die geloof voortaan met ongeleerdheid, en ongeloof en geleerdheid met mekaar verbonde sou wees.  Dit was vir baie teoloë onaanvaarbaar.  Juis daarom wou hulle die uitdaging aanvaar om die evangelie te vertolk in terme wat vir die moderne mens verstaanbaar en aanvaarbaar sou wees.

Uit hierdie probleemstelling is die moderne teologie gebore.  Ons kan vandag sien dat dit noodsaaklik was dat die uitdaging opgeneem moes word om die boodskap van die evangelie in verband te bring met die moderne bewussyn.  Kerk en teologie kan hierdie taak nie verwaarloos nie.  Die wyse waarop dit egter moes gebeur, was nie duidelik nie en is vandag nog steeds nie heeltemal duidelik nie.

Dit het in die kring van die teologie self op hewige spanning en tweespalt uitgeloop, op ’n stryd tussen modernisme en ortodoksie, tussen liberale en behoudende teologie, tussen antroposentrisme en teosentrisme, tussen “soekligters” en “oupajane”, of hoe ’n mens dit ook wil noem.  Ons ervaar vandag nog in die teologie die stryd rondom hierdie kwessies aan die lyf.  Maar die ergste was tog dat kerk en teologie in ’n uiters gespanne verhouding teenoor mekaar te staan gekom het.  Die opkoms en invloed van die liberale teologie het die verhouding tussen kerk en teologie grondig vertroebel.

Die skuld hiervoor moet gedeeltelik voor die deur van albei die betrokke partye gelê word.  Van albei kante is foute gemaak.  Die kerk was dikwels so ongelooflik verbeeldingloos en fundamentalisties, maar die teologie was van sy kant ook moedswillig en dikwels selfs roekeloos.  Teoloë het in hulle begeerte om van die teologie ’n erkende wetenskaplike dissipline te maak, weer agter die reformatoriese posisie van die eenheid tussen kerk en teologie teruggekeer.  Die wysbegeerte van die dag het die hermeneutiese sleutel vir die hantering van die Skrif geword. Teoloë was nie meer kerklike doctores nie, maar geleerde here wat met mekaar meeding in die poging om die nuutste teologiese sisteem te ontwerp vir die rasionele verantwoording van die geloof voor die forum van die moderne wetenskap.  In bepaalde gevalle is die skeiding tussen kerk en teologie tot die uiterste gevoer en is die sg. kerklike teologie uit die universiteite gestoot om plek te maak vir ’n neutrale soort wetenskaplike teologie wat eintlik nie meer die naam van teologie werd was nie.

Die pynlike herinnering aan hierdie dinge leef nog steeds in die hart van die kerk.  Die negentiende eeu was die eeu van ’n groot aantal afskeidinge en ’n verbrokkeling van die kerk en teologiese redes.  Kerklike seminaries is naas die fakulteite van teologie opgerig om ’n belydenisgetroue teologie teenoor die sg. wetenskaplike teologie van die universiteite te probeer verseker.  In Nederland is die Vrije Universiteit gestig.  Maar die verhouding van die kerk teenoor die teologie het in elk geval ambivalent geword.  Die kerk kan die teologie nie ontbeer nie, maar kan dit ook nie vertrou nie.  By baie in die kerk het die gevoel ontstaan dat die teologie gevaarlik is vir ’n gesonde geestelike lewe.  Omgekeerd het baie teoloë weer die gevoel ontwikkel dat die kerk nie meer ’n prikkel vir die teologie is om suiwerder te dink nie, maar ’n remskoen wat agterdogtig alles beoordeel met die vraag of die teologie nog bevestig wat die kerk lankal reeds weet en die posisies verdedig wat die kerk altyd al ingeneem het.

In hierdie situasie is die teologie heen en weer geslinger tussen kerklike dienstigheid (dikwels met verlies van sy wetenskaplike integriteit) en dienstigheid aan die moderne wetenskapsideaal (dikwels met verlies van sy geestelike integriteit).  Die skade en ellende van hierdie geskiedenis vir kerk en teologie beide is byna nie te oorsien nie.  Wat ons vandag nog in die hele Weste daarvan oor het, is die wantroue, agterdog en vyandigheid van behoudende en liberale teoloë teenoor mekaar, en die voortdurende vrees van die meer behoudende kerke dat hulle deur die teologie meegesleur sal word in die afgrond van vrysinnigheid wat die einde van alle ware geestelike lewe beteken.

  1. Die uitdaging waarvoor ons staan

Dit is teen hierdie agtergrond dat ons ook nog vandag oor die verhouding tussen kerk en teologie binne die Ned. Geref. Kerk moet dink.  Met innige dankbaarheid kan ons konstateer dat daar tussen kerk en teologie binne ons kringe nog ’n baie goeie verhouding bestaan.  Een van die beste bewyse daarvan is die feit dat die kerk in die jongste verlede soveel beroepsteoloë as voorsitters van sinodes gekies het.  Dit sou nie kon gebeur het, as die kerk nie ’n groot vertroue in sy teoloë gehad het nie.  Dit is ook waar dat ons Sinodes met intense belangstelling die teologiese verslae van die kommissies vir leer en aktuele sake hanteer, en dikwels bereid is om tot ingrypende beslissings en selfs koersveranderings op grond daarvan te kom.  In hierdie opsig lê sake by ons nog baie gunstiger as by baie ander kerke in die wêreld, waar die kerklike wantroue teenoor die teologie op duisend maniere sigbaar word.

Tog sou dit dwaas wees om nie te besef dat hierdie goeie verhouding wat bestaan, ook in ons geval ’n sensitiewe verhouding bly nie.  Niemand van ons moet onder die illusie verkeer dat die verhouding tussen kerk en teologie in die toekoms nie nog aan ernstige stremminge onderwerp sal kan word nie.  Die huidige gunstige situasie teer nog in ’n groot mate op die vertroue wat in die verlede tussen kerk en teologie binne die kringe van die Ned. Geref. Kerk opgebou is.  Dit het daarmee saamgehang dat die eie teologiese opleiding wat in 1859 in ons land begin is, ’n doelbewuste reaksie teen die vrysinnigheid van die Nederlandse teologie was.  In die latere ontwikkeling is daar steeds meer aansluiting gevind by die teologie van die Geref. Kerken in Nederland soos dit aan die VU en in Kampen beoefen is, en dit het tot groot vertroue van die kant van die kerk in die teologie gelei, veral ook na die veroordeling van die rigting van Prof. J. du Plessis in die vroeg dertiger jare.

Die vraag is egter of ons vir altyd in hierdie posisie sal kan bly.  Al die tekens is daar dat ons tans op die breuklyn tussen die tye leef, ook wat ons teologie betref.  Die eertydse verbondenheid met Nederland is vinnig besig om te verdwyn.  Die Afrikaanse teologie word tans geroep om sy kinderskoene te ontgroei en uit die periode van navolging van betroubare teoloë oor te gaan na die periode van selfstandige worsteling met die relevante teologiese kwessies wat veral in ons land aan die orde is.

In werklikheid het ons nog maar baie min self geworstel met die groot vrae waarvoor die teologie in die moderne tyd gestel is.  Ons sal daardie vrae egter nie blywend kan ontwyk of ons maar net kan laat lei deur wat andere daaroor gesê het nie.  Daar sal teologies noodwendig selfstandige beslissings moet val as ons teologie outentiek en geloofwaardig moet bly.  Die eerste tekens is reeds daar dat daar onder ons teoloë verskille na vore kom met betrekking tot bepaalde grondvrae en uitgangspunte van die teologie, en dit is ondenkbaar dat dit nie sal lei tot ernstige spanning tussen teoloë onderling, maar ook tussen kerk en teologie nie.

Die gevaar vir die kerk is altyd dat die teologie onder die hand, weliswaar vanuit ’n opregte poging om die evangelie en die moderne kultuur met mekaar in verband te bring, die evangelie self kan begin kompromitteer, tot skade van die kerk en die geloof.  Omgekeerd word die teologie voortdurend bedreig deur die gevaar om kerklik so ingekapsel te word, dat hy in die versoeking val om dienstig te wees aan wat die kerk van hom verwag en so sy vryheid en profetiese karakter inboet.

Gelukkig is ons in die posisie dat ons veel kan leer uit die Europese ervaring van die afgelope eeue.  Ons hoef gelukkig nie alles weer oor te doen en dieselfde foute te begaan nie.  Ons leef ten minste na die teologiese wendinge van die twintigste eeu waarin die verbondenheid van kerk en teologie weer sterker na vore gekom het.  Ons weet ten minste van die seënryke beslissings wat vir die kerk geval het in sulke gebeurtenisse as die teologiese verklaring van Barmen wat soos ’n baken in die see getuienis daarvan aflê dat die teologie nog steeds die kerk kan terugroep van die dwaalweë waarop die kerk in sy wêreldverbondenheid so maklik kan geraak.  Ons kan ons ook laat leer deur die ervaring van die afgelope twee eeue dat ’n antroposentriese teologie eintlik weerloos en magteloos is teenoor die inbraak van die ideologieë, en daarom met groter toewyding die weg probeer soek van ’n Bybelse teologie wat die moed het om ook in die moderne tyd nog onverskrokke na die waarheid van die evangelie terug te roep.

In elk geval is dit uiters belangrik dat ons daarna moet streef om die onderlinge verbondenheid van kerk en teologie te handhaaf en te beskerm, omdat hulle alleen in hulle onderlinge verbondenheid sterk is en hulle taak in die wêreld doeltreffend kan verrig.  Terselfdertyd sal ons moet besef dat dit alleen goed kan gaan as daar ’n delikate balans tussen verbondenheid en vryheid in hierdie verhouding bewaar word.  Kerk en teologie moet te midde van hulle verbondenheid aan mekaar, juis ter wille van ’n gesonde verhouding tot mekaar, voortdurend ook krities bly teenoor mekaar.

Die kerk moet die teologie uitdaag, nie net om werklik ernstig teologie te bedryf nie, maar ook om werklik ernstig aan die Bybel getrou te bly.  Om dit te kan doen, moet daar ’n sekere kritiese distansie tussen kerk en teologie bewaar word.  Die teologie moet nie verabsoluteer word nie, maar in sy relatiewe en eksperimentele karakter verstaan word.  Dit is ’n gevaar vir die kerk as die teoloog in die plek van die pous kom, want die waarheid waarby die kerk leef, is dikwels verborge vir wyse en verstandige mense, en slegs aan kindertjies geopenbaar.  Die eenvoudige Bybelleser kan dikwels die evangelie beter verstaan as die wysgerig‑geskoolde teoloog.

Omgekeerd moet die teologie, by alle liefde en respek vir die kerk, ook ’n kritiese distansie teenoor die kerk bewaar.  Die gevaar is altyd wesenlik dat die teologie groter prys sal stel op die goedkeuring van die kerk as op die regte vertolking van die Skrif.  Netso verkeerd as wat dit vir die teologie is om onkrities meegesleur te word deur die modegiere van die internasionale teologiese bedryf, netso verkeerd is dit om in ’n valse behoudsug die uitdaging te ontwyk om met die Woord van God midde in die moderne wêreld te staan en te probeer sien wat die evangelie vir die totaliteit van die lewe beteken.

As teologie en kerk die regte verhouding tot mekaar moet kan vind, sal dit alleen gebeur as albei nie so veel na mekaar kyk en hulle op mekaar oriënteer nie, maar as albei hulleself aan die Woord van God oriënteer.  Die Woord van God is die saak waarmee albei hulleself besig moet hou, en dit is hierdie saak wat die grond is van hulle onderlinge verbondenheid.  Getrouheid aan die Woord van God is die veiligste resep vir die regte verhouding tot mekaar.

Mag die Here dit aan kerk en teologie in hierdie land gee om in getrouheid aan hulle eie wese en roeping die juiste band van vrede en wedersydse diens te bewaar!