Tweeslagtig

TWEESLAGTIG
Die Burger, 6 Februarie 1988

Daar is geen mens wat sonder meer net sleg is nie. Daar is ook geen mens wat ongekwalifiseerd goed is nie. Ons is almal so tweeslagtig, so ’n vermenging van goed en kwaad, dat nie een van ons die reg het om ons oor andere te verhef nie, net so min as wat ons enige mens mag idealiseer asof hy volmaak is en nie swak kante het nie.

Oor die algemene vorm ons ons oordeel oor mense op grond van wat ons van hulle ervaar. Dit bring mee dat mense verkeerd oor mekaar oordeel, omdat ons van die meeste mense slegs ’n baie beperkte ervaring het. Op grond van die kennis wat ons van hulle opdoen in ’n vlugtige kontak – óf in hul openbare optrede óf met betrekking tot een aspek van hul lewe – vorm ons ’n oordeel oor hulle wat dikwels uiters eensydig is.

’n Man se vrou dink anders oor hom as sy sekretaresse of sy kliënte, omdat haar ervaring van hom soveel breër is as hulle s’n. Kinders dink anders oor hul ouers as wat kennisse of vriende oor hulle sal dink. Openbare figure se huismense ken hulle op ’n ander manier as die groot wêreld waarin hulle duisende bewonderaars of duisende vyande kan hê.

Ons is geneig om te dink dat as iemand in een opsig begaaf is, hy sommer in alle opsigte van sy lewe suksesvol moet wees. Die groot kunstenaars en die sterre van die vermaaklikheidswêreld word dikwels geïdealiseer, asof hulle net so goed kan lewe as wat hulle kan skryf of sing, komponeer of toneelspeel. Die hele geskiedenis bewys egter die teendeel.

Virtuositeit in die wêreld van die kunste beteken nog lank nie dat iemand selfs eers die elementêrste dinge van die kuns om te lewe bemagtig het nie. Groot leiersfigure in die magswêreld van die ekonomie en die politiek is dikwels in hul persoonlike lewe swak en kinderagtig. Selfs groot predikers moenie geïdealiseer word, asof hulle in hul eie lewe die volheid deelagtig is van die dinge waaroor hulle so mooi kan preek nie.

Omgekeerd moet ons ook nie dink dat mense van wie ons negatiewe ervarings het, net heeltemal sleg is nie. Meesal weet andere wat hulle beter ken, van verrassend veel goeie dinge in hul lewe. God hou in sy genade die mensheid ook in sy verwording nog vas. Mense is gelukkig nog nie duiwels nie.

Daarom moet ons ons oordeel oor andere laat temper deur die besef van die tweeslagtigheid wat aan alle mense eie is. Ons moet mense waardeer, maar hulle nie idealiseer nie. Ons moet oog hê vir hul swakhede, maar hulle nie verafsku nie. Ons moet mekaar leer sien soos ons is: mense met gawes en goeie hoedanighede, maar ook met groot swakhede. In elk geval is ons almal sondaars, maar sondaars wat God in sy genade verdra en vir wie Hy tot redding daar is. – WDJ