Van die ouer geslag geleer

VAN DIE OUER GESLAG GELEER
Die Burger, 13 Februarie 1988

Waarskynlik was dit deur die eeue so dat die volwasse geslag met bekommernis na die jeug gekyk het en hulself afgevra het wat van die wêreld gaan word as die jeug so losbandig en eiewys is. In ons tyd kom hierdie bekommernis egter in ’n verhewigde vorm voor.

Die moderne jeug wek na alle kante toe die indruk dat hulle handuit geruk het en geen norme óf waardes meer erken wat vir die ouer geslag betekenisvol was nie. Sedert die Tweede Wêreldoorlog het in die Weste ’n gees van verset teen die gevestigde orde in die samelewing sigbaar geword.

Die jeug het aan die spits gestaan van revolusionêre veranderinge op die gebied van die moraal en die sedes. Seksuele losbandigheid is maar een aspek daarvan. Die hele wyse waarop die jeug die lewe benader, lyk asof dit afgestem is op die vernietiging van die geestelike en kulturele erfenis waarvolgens die Weste eeue lank geleef het.

Die tragiek van hierdie situasie is dat die ouer geslag wel hul hande in afgryse kan saamslaan oor wat met hul kinders aan die gebeur is, maar dat hulle weinig daaraan kan doen. Die rede daarvoor is dat ons tans die vrugte pluk van die wyse waarop ons self geleef en ons kinders opgevoed het. Ons jeug is nie ’n vreemde verskynsel wat uit die lug geval het – sonder enige toedoen van ons kant nie. Ons het die soort kinders wat ons verdien.

Daar is min dinge waarvoor die moderne jeug nog “nee” kan sê. Hulle het so permissief geword dat hulle nie meer kwaad daarin kan sien om vrye teuels te gee aan al die begeertes en grille wat by ’n verwende mens kan opkom nie. Maar hulle het dit van die ouer geslag geleer. Ons het hulle grootgemaak as verwende en losbandige mense wat nie die betekenis van die woord “nee” ken nie. Hoe kan ons dan verwag dat hulle dit as tieners sal ken?

Baie van ons vermaninge val by ons kinders op dowe ore omdat hulle goed genoeg weet dat ons nie self lewe soos ons dit van hulle verwag nie. Die jeug het ’n afkeer van skynheiligheid, van die handhawing van ’n vrome front. Hulle verwerp ons vermaninge omdat hulle nie glo dat dit opkom uit ’n lewenskwaliteit wat dit geloofwaardig maak nie.

As hierin ’n verandering moet kom, sal dit dus nie help om die jeug maar net te vermaan sonder om self te verander nie. Hul afkeer van skynheiligheid is korrek. Daar moet in ons hele samelewing ’n diepgrypende geestelike verandering intree. Ons sal moet terugkeer na die basiese dinge wat die menslike lewe beskerm en bewaar. Ons sal weer uit die Bybel moet begin leef.

Gelukkig is daar tekens van ’n betekenisvolle geestelike vernuwing, veral ook by ’n deel van ons jeug. God het ons nog nie prysgegee nie. Daar is nog ’n toekoms as ons die Woord van God ernstig opneem. Miskien kan die volgende geslag beter vrugte van hul opvoedingswerk pluk as ons. – WDJ