Die eer van mense

DIE EER VAN MENSE
Die Burger, 20 Februarie 1988

As daar een les is wat die lewe mense telkens weer leer, dan is dit dat hulle nie te veel waarde moet heg aan die aansien wat hulle op ’n bepaalde tyd onder die mense geniet nie.

Dit gebeur met groot reëlmaat dat bepaalde figure in die samelewing na vore gestoot word, groot verantwoordelikhede moet aanvaar en dikwels ook groot prestasies lewer. Dit is asof die man en die uur by mekaar pas. Wanneer dit gebeur, is dit natuurlik dat die groot menigtes so ’n persoon sal bewonder en hom selfs sal idealiseer.

Dit is net ’n dwase en kortsigtige mens wat in daardie posisie dan ook werklik begin glo dat hy iets besonders is en dat iets onsterfliks aan sy dade en optrede kleef.

Dit is die groot versoeking waaraan mense in besondere posisies en met besondere prestasies blootgestel is. En soos dit op alle terreine geld dat ’n mens sterk bene moet hê as jy weelde moet kan dra, so geld dit ook met betrekking tot openbare aansien – dat nie almal innerlik sterk genoeg is om met die nodige humor en onderskeiding die eer van mense na waarde te takseer nie.

Die geskiedenis bewys egter oor en oor hoe kortstondig die eer is wat mense aan mekaar bewys. By baie gebeur dit nog tydens hul ampstermyn dat teenstand en weersin teen hulle opbou – wat hulle daaraan moet herinner dat niemand die goedkeuring van alle mense kan wegdra nie. Maar by die meeste is dit so dat hulle – die oomblik as hulle uit die posisie tree wat hulle beklee het – sal merk dat die eer en bewondering wat hulle geniet het, soos mis voor die son verdamp en dat hulle aan die vergetelheid oorgegee word.

Andere gee dan weer die pas aan en vind navolging en waardering. Niemand is regtig onmisbaar nie. Niemand hoef te dink dat hy iets besonders is nie. Gestroop van die eer en aansien wat mense vanweë hul posisie en amp ontvang, is hulle dikwels klein en onbeduidend. Daar is min wat mense doen wat dit werklik noodsaaklik maak om hulle te onthou. Wie eens invloedryk was en die rigting van samelewing of kerk bepaal het, blyk dikwels ná ’n dekade volkome vergete te wees.

Daarom vermaan die Bybel ons ook om nie meer van ons self te dink as wat ons behoort te dink nie, maar om liewer beskeie te wees in ooreenstemming met die bepaalde gawes wat God aan ons toevertrou het (Romeine 12:3). Daar is wel ’n rol wat elkeen te speel het, maar die rol moet nie te hoog geskat en opgeblaas word nie. Veral moet ons leer om te onderskei tussen die rol wat ons moet speel en ons persoonlike kwaliteite. Dit is nie noodwendig so dat as ons ’n bepaalde taak met welslae kan verrig, ons ook as persone is wat ons behoort te wees nie.

Dit is wys om altyd liewer te vra hoe God oor ons sal oordeel as om te veel waarde aan die opinies van mense te heg. Uiteindelik is dit al wat werklik tel. – WDJ