Negatiewe gevoelens

NEGATIEWE GEVOELENS
Die Burger, 27 Februarie 1988

Dit is goed as ’n mens ’n sensitiewe gewete het en jou doen en late in die lig daarvan beoordeel. Ons geestelike lewe kan alleen gesond bly as ons gereeld tyd daarvoor inruim om ons eie lewe en optrede in oënskou te neem en ons self af te vra of dit in ooreenstemming met die wil van God was.

Dit sal daartoe lei dat ons ’n bewussyn van skuld sal hê oor bepaalde dinge wat ons gesê of gedoen het, en dat ons op grond daarvan ook besef hoeveel verkeerdheid daar in ons skuil, wat ons altyd weer anders laat optree as wat ons graag sou wou opgetree het.

Hierdie soort negatiewe gevoelens oor onsself en ons optrede, is heilsaam. Dit bring ons daartoe om voor God en mens vergiffenis te vra, om reg te stel wat reggestel kan word en om voortaan met ’n vaster oortuiging te stry teen ons sonde en verkeerdhede.

Dit kan egter ook gebeur dat ’n mens op ’n verkeerde wyse negatiewe gevoelens oor jouself kan hê. Dit is die geval wanneer ’n mens se negatiewe gevoelens nie uit ’n egte sondebesef – uit nederigheid of ootmoed gebore word nie – maar juis uit trots en selfliefde.

Dikwels voel ’n mens sleg oor jou optrede, omdat jy vrees dat jy ’n slegte indruk gemaak het en dat mense moontlik minder van jou sal dink. Dit is geen egte skuldgevoel nie, maar eerder spyt dat ons nie so voortreflik is as wat ons graag wil hê dat andere moet dink ons is nie. Ons bid dan ook nie om vergiffenis nie, maar ons staan geboë oor ons eie trotse hart en treur daaroor – dat ons weer ’n keer ’n ronde verloor het.

Die effek daarvan op ons is nie dat ons teruggaan en die saak gaan regmaak, om voortaan anders te probeer optree nie, maar dat ons in ’n nukkerige en slegte bui verval waarin ons lus het om ons self te skop of ons kop onder die komberse toe te trek en nie weer met mense om te gaan of te praat nie. Dit is ’n uiters infantiele drang wat dan in ons wakker word.

Dit is nie snaaks nie, want die hele lewenshouding van ’n mens wat te veel met homself behep is, is kinderagtig. Kinders is dikwels so op hulself gekonsentreerd. Wat ons gewoonlik ’n bedorwe en stout kind noem, is ’n kind wat alles volgens sy eie grille wil hê en nie deur opvoeding geleer het of deur eie innerlike aard daartoe geneig is om homself minder ernstig op te neem en sy belangstelling op ander mense of ander dinge te rig nie.

As volwassenes moet ons leer onderskei tussen egte skuldgevoel en ongebreidelde teleurstelling in onsself oor ons vermeende mislukkings. Die laaste is – behalwe kinderagtig – ook sondig. Ons moet dit bely en vergeet, aanvaar dat ons in elk geval altyd maar benede die maat is, en die Here vra om ons te help om desondanks in onbevangenheid maar net ons self te wees. – WDJ