DIT IS ’N DURE LES
Die Burger, 5 Maart 1988
Die vloedrampe wat ons land die laaste tyd getref het, het ons almal met ’n gevoel van ontsetting vervul. Die onverwagte, gewelddadige karakter en onherroeplikheid daarvan veroorsaak ’n psigiese skok en ’n traumatiese effek wat deur diegene wat getref is, nie maklik verwerk sal kan word nie.
Vir diegene van ons wat nie op dieselfde wyse daardeur geraak is nie, is dit onmoontlik om ons in hul situasie in te dink. Met ons meegevoel en ons gebede, sowel as met ons bydraes en ondersteuning op ander vlakke, probeer ons wel om deel te neem aan hul teenspoed. Soos in die geval van alle leed wat mense tref, bly ons egter daarmee maar aan die buitekant staan sonder om presies te weet wat hulle ervaar.
Vir die meeste van hulle beteken dit dat hulle dit moet verwerk dat hulle materiële skade gely het wat nooit weer agterhaal kan word nie. Baie het omtrent al hul aardse besittings verloor waarvoor hulle ’n leeftyd lank gewerk het. By alle dankbaarheid daarvoor dat ’n mens met jou lewe daarvan afgekom het (wat by sommige nie die geval was nie), is die skok van so ’n skade genoeg om enige mens in ’n geestelike krisis te dompel.
Miskien word ’n mens in so ’n situasie vir die eerste keer gedwing om aan jouself werklik rekenskap te gee van jou verhouding tot jou aardse besittings. Teoreties weet ons almal dat ’n mens nie daaraan vas moet wees nie, maar vir die meeste van ons vorm dit tog so ’n deel van onsself dat verlies daarvan vir ons voel asof die bodem uit ons lewe geval het.
Ons is waarskynlik almal baie vaster aan ons besittings as wat ons self besef. Dit vorm ’n soort verlengstuk van onsself. Ons persoonlike waardigheid en selfbesef is in groot mate daaraan verbonde. Dit vorm ons sekuriteit. Daarom dat ons moeilik daarvan afsien. Selfs ’n bydrae wat ons êrens moet lewer, voel al vir ons te veel. Hoe moet dit dan nog voel om alles in die modder te sien verspoel?
Dit geld nie net vir ryk mense nie. Ons is almal vas aan die baie of die bietjie wat ons het. Eintlik is dit net diegene wat niks het nie wat nie die groot versoekings van aardse goed ken nie.
Tog moet ons vroeër of later almal daarvan afskeid neem. Ons het kaal in die wêreld ingekom, en kaal sal ons dit verlaat. Daarom is dit so belangrik dat ons innerlik los van ons besittings sal wees, want dit kan enige oomblik weggeneem word – sonder dat alles dan daarmee heen is.
Die voordeel van die mense wat getref is bo ons ander, is dat hulle hierdie dure les in groot mate geleer het. Ons wat dit nog nie geleer het nie, sal dit een of ander tyd in elk geval ook moet leer, anders leef ons met ’n verkeerde vertroue op dinge wat geen blywende bestand het nie.– WDJ