VAN EWIGHEID GEKEN
Die Burger, 12 Maart 1988
Daar is baie van die Psalms wat so diepsinnig is dat ’n mens net besef hoe helder die openbaring van God in die Ou Testament reeds was. Die Godskennis van die digters is op so ’n verhewe peil dat ons wat reeds die Nuwe Testament ken, in verwondering aan hul voete kan sit om te leer wat die Gees deur hulle aan ons te sê het.
’n Goeie voorbeeld daarvan is Psalm 139 wat op ’n aangrypende wyse praat oor hoe God ons ken. God ken ons deur en deur. Hy deurskou ons hele wese. Voor Hom is ons oop en bloot. Vir God kan ons nooit wegvlug nie. Daar is niks wat ons voor Hom kan verberg nie. Hy weet werklik alles van ons af.
Daarby word nie net gesê dat God ons ken soos ons vandag is en in wat ons vandag doen nie, maar die digter gaan ook terug na die kennis wat God van ons vroegste oomblikke – ja van voor ons geboorte af – al van ons het.
Dit is God wat ons gebeente gevorm het, wat ons kunstig aanmekaar geweef het in die verborge dieptes van die moederskoot. Dit is Hy wat daar al ons hele bestaan in sy hand en in sy gedagtes gehad het. Al ons lewensdae was daar al voor Gods oog aanwesig en in sy boek opgeskrewe. Ja, nog voor ons geboorte, in die dieptes van die ewigheid het Hy ons al met sy kennis omvat.
Die aangrypende is nou dat die digter dit nie as iets vreesaanjaende beskou nie. Daar is ook geen spoor van dat hy dit ervaar as dat die menslike vryheid op enige manier in die gedrang gebring word deur dat God sy hele lewe – al van voor sy eerste begin af – so met sy kennis omvat het nie. Dit is vir hom net ’n oorsaak van diepe verwondering en aanbidding.
Die rede daarvoor kan net wees dat die digter God nie as ’n blinde mag of noodlot verstaan nie, wie se ewige kennis van ons lewe as ’n bedreiging gesien word wat die spontaniteit en vryheid van ons lewe ophef. Inteendeel, God is so totaal anders as die noodlot dat sy kennis van al ons dae deur die digter gesien word as ’n bron van groot vreugde en troos, omdat hy God verstaan as die Liefde wat ons van ewigheid af omsluit en daarom ons lewe eers werklik sinvol maak.
Dit is dieselfde troos wat die gelowiges van die Nuwe Testament ken as hulle praat oor die ewige uitverkiesing van God in Christus. Paulus sing ’n loflied daaroor dat God die wat Hy tevore geken het, ook geroep het, en dié wat Hy geroep het, ook vrygespreek en verheerlik het (Romeine 8:30).
Buite die gemeenskap met Christus in liefde en vertroue moet dergelike taal misverstand wek oor die verhouding tussen Gods beskikking en ons menslike vryheid. Maar binne die gemeenskap van die liefde is dit die hoogste vreugde wanneer die gelowige mens opkyk in die aangesig van Hom wat ons eerste liefgehad het en daaroor kan sing dat ons lewe van ewigheid af geken en daarom veilig en geborge is, vir altyd opgeneem in die hart van die Vader. – WDJ