DIT IS TE MIN
Die Burger, 19 Maart 1988
Die meeste van ons is so verward in ons hantering van die lewe dat ons voortdurend heen en weer geslinger word tussen die twee gevare om ons visier in wat ons met ons lewe beoog, te hoog of te laag te stel.
Ons stel so maklik ons visier te hoog as dit gaan om die prestasies wat ons wil lewer. Ons stel ons reeds as kinders voor hoe sterk en hoe slim, hoe ryk en magtig, of miskien ook hoe mooi en geëerd ons eendag as volwassenes sal wees. Dit is waar dat die lewe ons spoedig leer dat die meeste van ons drome kinderagtig en heeltemal onhaalbaar is. Maar iets daarvan bly vassteek, en ons sloof ons ons hele lewe lank af om iets waar te maak van die groot dinge waaroor ons gedroom het.
Vir baie mense beteken dit hul hele lewe lank ’n slawerny onder die drif van ambisie.
Min dinge is so vernietigend vir ons lewe as die voortdurende drang om beter en slimmer en ryker en hoër in posisie en aansien te wees as ander sterwelinge. Dit beroof ’n mens nie net van die elementêre vreugdes van die lewe nie, dit eis dikwels dat jy jou integriteit, jou eer en jou menslikheid moet offer op die altaar van ’n afgod wat nooit versadig word nie.
Maar daar is ook die ander gevaar dat ’n mens jou visier te laag kan stel. Dit gebeur as jy daarby verby kyk dat ons lewe eintlik sy volle betekenis slegs kan bereik as dit oorgegee word in diens en liefde. Die sin van ons lewe lê nie opgesluit in wat ons daaruit vir onsself kan haal nie, maar in wat ons daarin vir andere kan gee en beteken. Ten diepste gaan dit eintlik om die vraag hoe volkome ons vir God kan lewe, want die egte lewe vir God en die egte lewe vir die medemens is nie twee verskillende dinge wat los van mekaar kan staan nie.
Ons stel die visier van ons lewe te laag as ons daarmee tevrede is om die jare van ons lewe te verteer in allerlei dinge wat vir onsself miskien aangenaam en verrykend kan wees, maar nie werklik daarop bereken is om God en ons medemense te dien nie. Dit kan beteken dat ons goed geleef het, selfs vrolik geleef het, maar tog selfsugtig en klein geleef het, omdat ons lewe nie ’n saak gedien het wat groter is as onsself, en ’n vrug gedra het wat die sterfdatum op ons grafsteen sal oorleef nie.
En dit is te min. Dit is te min om daarvoor gebore te gewees en te geleef het. Dit is te min omdat dit nie reg laat geskied aan die adel van die menslike lewe wat onvergelykbaar hoër is as dié van die dier nie. Dit is egter veral te min vir ’n Christen wat nie verlos word om net eendag in die hemel te kan kom nie, maar om op aarde so te lewe dat die Naam van die Here daardeur verheerlik word.
Ons moet bid en daarna strewe dat dit aan ons gegee mag word om in die eenmaligheid en tydelikheid van ons lewe iets te kan doen wat vir die ewigheid betekenis het. – WDJ