DIE BETEKENIS VAN JESUS
Die Burger, 26 Maart 1988
Die Christelike kerk in die hele wêreld het homself gedurende die afgelope weke besig gehou met die lydensgeskiedenis van Jesus. Oor enkele dae vier ons Goeie Vrydag en Paasfees, wat die aandag bepaal by die sentrale heilsfeite waaruit die Christendom lewe: die kruisdood van Jesus as versoening vir ons sonde en sy opstanding as waarborg van ons bevryding tot ’n nuwe lewe.
Ons het met hierdie dinge grootgeword. Dit is deel van ons erfenis uit die sogenaamde Christelike Weste. Dit is soos Kersfees deel van ons kalender. Die vraag is egter of dit vir ons meer is as tradisionele feesdae omdat ons werklik nog die boodskap glo wat deur hierdie kerklike feeste in herinnering geroep word.
Die gevaar is dat daar ’n groot kloof kan gaap tussen die gewone wêreld waarin ons elke dag lewe en die boodskap wat die Bybel aan ons verkondig. Dan is die dinge waaroor die Bybel praat vir ons soos al die ander verbeeldingsverhale waarmee ons as kinders grootgeword het. Ons praat daaroor asof dit waar is, maar in werklikheid glo ons dit nie regtig nie. Dit is mooi en selfs roerend, maar staan buite die wêreld van ons realiteite. In die gewone, harde lewe koop ’n mens niks daarmee nie.
En tog is dit nou juis die een ding wat die Bybel vra: dat ons die boodskap van Jesus werklik moet glo. Dit vra van ons om te glo dat ’n mens se grootste behoefte en nood nie sy stoflike behoeftes is nie, maar sy sonde, sy verlorenheid, sy geestelike mislukking. Dit vra van ons om te glo dat Jesus se lewe en dood, sy opstanding en hemelvaart werklike historiese en geestelike realiteite is waardeur die lot van die hele wêreld beslissend bepaal is.
Dit vra van ons om te glo dat oor ons eie heil daar en destyds in Jesus ’n beslissing geval het wat nie ongedaan gemaak kan word nie omdat God daar ons sondes in Christus versoen het en aan ons ’n nuwe lewe geskenk het wat in ons sigbaar sal word as ons dit net wil glo.
Dit lyk alles vir die moderne gesofistikeerde mens na praatjies, maar dit was al in Paulus se tyd ook so. Hy sê dat dit natuurlik vir die wyse mense met hul wêreldkennis niks anders as onsin kan wees nie (1 Korintiërs 1:18 ev). Die Grieke van destyds het ook hul kop geskud oor Paulus se evangelie. Stel jou voor! En as ons ons eie hart ondersoek, kan ons vind dat ons dit eintlik self ook nie glo nie, al sit ons op Goeie Vrydag in die kerk.
Nee, ’n mens moet word soos ’n kind om dit te kan glo, maar dan moet jy dit glo soos ’n volwassene wat weet van die realiteite van elke dag en tog seker is dat die beslissing ook daar oor eenmaal reeds in Christus geval het. Dit is nie Christus wat onwerklik is nie, dit is die wêreld wat nog onwerklik is. Maar ons is op pad na die verheldering wat sal kom. Dan sal ons almal weet dat dit waar is. – WDJ